GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.

C Louis Leipoldt: 'n Fiktiewe Portret

Hennie Aucamp

C Louis Leipoldt Hennie Aucamp bespreek Karel Schoeman se Die Reisiger - 'n novelle wat nie wegskram van C Louis Leipoldt se vermeende homofiele verlangens nie.

1

Die geromanseerde lewensbeskrywings van Karel Schoeman is 'n onderverkende faset van sy oeuvre, wat enigsins vreemd is, aangesien dié vies romancées, om Kannemeyer se terminologie te gebruik, kennelik wegbereiders is vir sy latere biografieë en ander egodokumentêre werk.

Die lys vies romancées lyk so:

Die hart van die son (1965), oor Shakespeare
Lig in die donker (1969), oor Rembrandt
Eroica (1973), oor Beethoven
Die walskonings (1978), oor die Strausse.

By hierdie lys kan gevoeg word:

Die Reisiger (1980), oor C Louis Leipoldt.

Die Reisiger was, soos Lig in die donker, 'n opdragwerk. Dié roman - miskien eerder novelle - is in opdrag van die SAUK geskryf vir die eeufees van Leipoldt se geboorte, en Lig in die donker wou Rembrandt se driehonderdste verjaardag gedenk.

Die ironiese is dat Schoeman Die Reisiger net in die verbygaan noem in sy outobiografiese vertelling Die laaste Afrikaanse boek, en dan ook enigsins onverskillig, asof hy dit bloot as geleentheidsboek sien. Die waarheid is dat Schoeman se artistieke integriteit só sterk gevestig is dat ook sy geleentheidswerk selde na die meganiese neig; dis soms minder besield, soms meer, maar altyd op peil. Sy ingesteldheid en werkwyse bly dié van 'n professioneel; en sy sinsbou, karakterisering en strukturering is deurentyd op 'n hoë plan.

Die belangrikste faset van Die Reisiger is dat dit 'n psigologiese portret van C Louis Leipoldt bied - 'n portret wat nie wegskram van Leipoldt se vermeende homofiele verlangens nie. In dié opsig was Schoeman sy tyd vooruit - eers in 2004 het Colm Tóibín 'n soortgelyke eksperiment gewaag, naamlik om die vermoede homoseksuele oriëntasie van 'n bekende skrywer romangewyse bloot te lê. Sy roman handel oor Henry James, en die titel daarvan, The Master, kan onder andere as 'n toespeling op Henry James se beroemde novelle The Pupil gesien word, een van die min tekste van James wat wél in gaybloemlesings opduik.

Het 'n mens in Die Reisiger en in The Master te maak met dit wat Herman Charles Bosman "the gilded lie of the poet" noem - 'n vergulde leuen wat sonder klinkklare "bewyse" tóg reg op die waarheid afstuur, of dié waarheid nou emosioneel of sielkundig van aard is?

2

Die leser wat Die Reisiger vandag opneem, het 'n voordeel bó die leser wat Die Reisiger in 1980 gelees het, want intussen het JC Kannemeyer se monumentale biografie oor Leipoldt verskyn, waarin verdere inligting opgeneem is oor Leipoldt se reis op die luukse stoomjag Liberty van die koerantmagnaat Pulitzer, as persoonlike arts van die blinde magnaat. Dit was in die winter van 1908-09. Nou is dit juis op hierdie klein fragment uit Leipoldt se lewe dat Karel Schoeman met vindingrykheid inbeweeg het en met die ingeoefende oog van 'n romansier 'n Leipoldt oproep wat sou kon bestaan het.

Daar is talle raakpunte tussen Die Reisiger en Kannemeyer se dokumentêre herskepping van Leipoldt se reis aan boord die Liberty. Schoeman en Kannemeyer deel immers 'n sentrale gemeenskaplike bron, naamlik Dear Dr Bolus, 'n samestelling van Leipoldt se briewe aan sy mentor en weldoener, dr Bolus. In voetnoot 83 by hoofstuk VII ("Rond oor die wêreld het hy gereis") van Leipoldt sê Kannemeyer dat Schoeman kennelik nie Leipoldt se artikels geraadpleeg het waarin die Liberty-episode sydelings ter sprake kom nie. Hieraan voeg hy egter grootmoedig toe: "Nogtans is sy (Schoeman se) roman 'n besonder sensitiewe, sy dit dan grotendeels fiktiewe, beeld van die jong Leipoldt, telkens met die effektiewe terugspeel op ervarings uit sy Clanwilliamse jeug."

3

Waarin lê die sensitiwiteitsopvoeding in Die Reisiger presies? Onteenseglik het dit met erotiek en seks te maak, dikwels van 'n ambivalente, of skynambivalente, aard. Leipoldt is hóm ongemaklik bewus van die jonkheid van die jong kajuitbediende Lumb, en daar is selfs flikkeringe van verliefdheid aan die kant van Leipoldt. Sy eie emosionele kompleksiteit word verder deur 'n episode in 'n nagklub in Havana gedemonstreer. Leipoldt is duidelik besig om homself te mislei wanneer hy 'n vrou uit die nagklub volg waar hy, in semigay-geselskap, na musiekuitvoerings en dansvertonings gekyk het, effens onder die invloed van goedkoop sjampanje. Wil hy sy beeld as man vir homself herstel, of weet hy by voorbaat dat hy 'n transvestiet volg?

Schoeman spel laasgenoemde moontlikheid nadruklik uit in die klimakstoneel tussen Leipoldt en die gewaande vroulike prostituut. Die passasie wat volg, is ook 'n demonstrasie van hóé swoel en sensueel Schoeman by tye kan skryf:

... Sy (Leipoldt se) hand beweeg hoër, teen haar wang, en sy kyk hom vraend aan met die glinsterende oë in hul donker omranding van maskara, en lig dan haar hand na haar hare op. Waaraan herinner die beweging hom en wat is die assosiasies wat dit vir hom het? flits in 'n ondeelbare oomblik deur sy gedagtes, maar so gou soos wat die vraag by hom opkom, weet hy ook die antwoord. Sonder om weg te kyk, trek sy die pruik van haar kop en gooi dit agteloos eenkant neer. Uit die décolletage van die opsigtige aandrok rys die benige skouers van 'n seun, die gesig swaar gepoeier oor die gladgeskeerde kaak, die mond geverf, die hare sluik agteroorgestryk, en die oë steeds wagtend en onseker op sy gesig gevestig terwyl die goedkoop oorhangers liggies heen en weer swaai, flitsend in die lamplig.

Eerlik gesê is dergelike geïnspireerde episodes in Die Reisiger nie volop nie, en verder het dié episodes deurentyd met Leipoldt se ambivalente houding omtrent seks tussen mans te maak. Die erotiese aantrekking is daar, maar eweneens morele remminge. Leipoldt raak Lumb nie aan nie, selfs tydens 'n mediese ondersoek, waar aanraking byna vanselfsprekend sou wees. En wanneer Leipoldt afskeid neem van die Liberty-personeel, en hy 'n tjek aan Lumb uitmaak, gee hulle mekaar nie die hand nie, weens sosiale taboes. In die toneel met die transvestiet weer, gaan Leipoldt nie tot die daad oor nie.

Wat Schoeman voortreflik illustreer in Die Reisiger, is dat erotiek veel sterker kan wees as die seksdaad self. Die toneel waar Leipoldt en Pulitzer se jong seun Herbert oor die relings leun en kyk hoe die bemanning met kaal bolywe krieket speel, bring iets navrants in die spel, veral dié beskrywing: "... en dan herken hy vir Lumb daar onder tussen die spelers ... nog jonger as ooit met sy smal wit bolyf, ongewoond aan die son, en die hare wat uitwaai in die wind". Dié beeld word weer opgeneem in Die Reisiger; dit word 'n refrein van "droefheid en verlange", om Schoeman se eie woorde te gebruik.

Leipoldt - die historiese Leipoldt - het hom nie onbetuig gelaat in die beskrywing van jong mans nie, soos in Die bergtragedie en ook in Die galgsalmander; maar Schoeman volg nie die inventariese metode nie. Hy is in sy skraps, potente evokasies van homoërotiek veel nader aan die werkwyse van Walt Whitman, wat naakte swemmers op 'n somerdag in New York só oproep:

A peculiar and pretty carnival - at its height a hundred lads or young men, very democratic, all decent behaving. The laughter, voices, calls, responses - the springing and diving of the bathers from the great string-piece of the decay'd pier, where climb or stand long ranks of them, naked, rose-color'd, with movements, postures ahead of any sculpture.

Die kajuitjonge Lumb is hom bewus van Leipoldt se uitreiking, en hy is hoflik hieromtrent, maar laat, tydens die mediese ondersoek waarna reeds verwys is, tog byna vermakerig blyk dat hy sifilis by 'n vrou opgedoen het.

Uit klein kameë bou Schoeman die ou-ou verhaal op: 'n ouer man se onbeantwoorde liefde vir 'n jonger man.

Wat die nagklub-toneel in Havana betref, kry die leser 'n ander Schoeman te sien as wat meesal die geval is. Mardelene Grobbelaar het hom dan ook as Dekadent geïdentifiseer in haar doktorale tesis oor Dekadentisme. Die swoel sfeer in die nagklub, al die gaytoespelings, hoofsaaklik van Herr Klett uit Wene, die vermaaklike en bewustelike "high camp"-passasies, is 'n eggo van Schoeman se satiriese verhaal "Die hotel" (1973), gelukkig vir ons gered deur Abraham H de Vries in Eeu. Met sy humorlose en voorspelbaar afstandelike held 'n keer uit die pad uit, kan Karel Schoeman se werk soms snaaks wees - báie snaaks.

Die hoererige en vulgêre nagklub-toneel is fyn georkestreer. Leipoldt vertel, maar sonder dat enigeen na hom luister, hoe hy op 'n aand met 'n Londense prostituut gesels het. Kort daarna beland sy as lyk in die hospitaal waar hy werk, voos van die sifilis. Later op reis moet hy Lumb vir sifilis behandel, en raak die vorige sifilis-episode op 'n bittersoet manier geheraktiveer.

Die dreigende musiek van die tango stem Leipoldt seksueel onrustig, en dien as aanloop tot die toneel met die transvestiet. Maar daar is 'n verdere voorbereiding vir dié toneel: die tangodansers haal hul pruike af aan die einde van hul nommer, waaruit blyk dat hulle almal mans is.

4

Is Die Reisiger in 1980 volledig voorgelees oor die Afrikaanse radiosender, of is daar gesensureer in die proses, en indien wel, deur wie?

In sy "Nawoord" tot Die Reisiger sê Schoeman "die bedoeling (was) dat uittreksels daaruit in Vrouerubriek voorgelees sal word". Deur bemiddeling van Robert Young, pas afgetree by die SABC, kon ek die destydse voorleser van Die Reisiger, Cobus Robinson, op Bedford in die Oos-Kaap opspoor. Robinson onthou dat hy volledig reg laat geskied het aan al die suggesties omtrent Leipoldt se geneentheid vir Lumb. Oor die Havana-toneel was hy, amper 'n kwarteeu later, nie meer so helder nie. (Sien volledige faks van Cobus Robinson as bylae tot hierdie artikel.)

Indien my kollega Karel Schoeman se geromanseerde greep uit die lewe van Leipoldt sonder enige sensuursnitte voorgelees was, was hy baie gelukkig. My verhaal "Steven en Fay" is byvoorbeeld as TV-film aanvaar, met 'n uitstekende draaiboek van Johan van Jaarsveld. Twee spelers, Arnold Vosloo (vir die hoofrol) en Pierre van Pletzen, was, na ek verstaan, reeds in die Kaap vir verfilming, want die Kaapsheid van my verhaal sou sterk beklemtoon word, met werklike Oukersaand-tonele op strate en op pleine. Ongelukkig het 'n joernalis van die Argus verklap dat Steven en Fay 'n gayverhaal is, en verfilming is glo summier stopgesit deur ene Eksteen, segsman en sede-apostel van die Ou Bedeling.

Wat maar vir die soveelste keer in die geskiedenis bewys dat beeldmateriaal gevaarliker kan wees as die woord - op korttermynbasis.

Geselekteerde verwysings
Grobbelaar, M. 1991. Die "bose" skoonheid. Verskyningsvorme van estetisisme en dekadensie in die Afrikaanse prosa met toespitsing op die werk van Hennie Aucamp. Doktorale proefskrif. Universiteit van Suid-Afrika.
Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 2. Kaapstad: Academica.
Kannemeyer, JC. 1999. Leipoldt. 'n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Sandler, EM (samesteller). 1979. Dear Dr Bolus. Kaapstad: AA Balkema. Schoeman, Karel. 2002. Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.
Tóibín, Colm, 2004. The Master. Londen: Picador.
Whitman, Walt. 1979. "Hot Weather New York", Specimen Days in America. Londen: The Folio Society (na die hersiene Engelse uitgawe van 1887).

Bylae

Faks van Cobus Robinson, gedateer 21 Julie 2004

Liewe Hennie

Wat 'n lekkerte om weer met jou te kon gesels, al was dit kortstondig. Lyk my die ouderdom ('n hele 59 verlede Saterdag!) begin my nou inhaal. Robert Young was waarskynlik reg oor Die Reisiger in manuskripformaat. Die boek self moes ek gekoop het, want voorin is die prys in potlood aangebring (R6.50 + AVB).

Jammer dat ek nou eers na jou terugkom, maar ek baklei sedert Sondag teen 'n woedende brongitis. Die twee dae in die kooi het my egter die geleentheid gegee om Reisiger en ook Op 'n eiland te herlees. Interessant vir my was dat Eiland, wat in 1971 verskyn het, wat die hoofkarakter betref eintlik ná Reisiger moes verskyn het. Die ooreenkoms tussen Leipoldt en Ruud (sonder van) is merkwaardig - of is albei en elkeen maar eintlik net Schoeman?

Vir my persoonlike smaak is Eiland sterker as Reisiger, ook wat die homoëroties betref. Dinge gebeur in Eiland - die skugter aanraking, later die soen, en daarna stewige suggestie. Dieselfde onthegting, angs voor die afgrond, en skrynende verlange en die gepaardgaande hartseer wat die Leipoldt-karakter beleef kom ook feitlik woordeliks voor in Eiland - 10 jaar vroeër geskryf! Schoeman kon tog nie toe al geweet het dat hy nog oor Leipoldt sou skryf nie.

Wat probeer ek sê? Die Ruud-karakter se "onthou" gaan oor helder agtergronde terwyl Leipoldt s'n teruggaan na donker vertrekke en somber mense. Teen die agtergrond van die "onthegting" ens. wil dit dus lyk of Ruud uit Leipoldt ontwikkel het! Of praat ek nou die grootste twak?

Terug by jou navraag. Omdat ek die voorlesings dus uit die manuskrip moes gedoen het kan ek nie vir seker sê of enigiets gesensureer is nie, maar my gevoel is van nee, die boek is in toto gelees. Ek herinner my tog vaagweg 'n voorlesing uit 'n manuskrip, maar jy weet, ek het in die jare 68 tot iewers in die 80's 'n aardige klompie voorlesings gedoen en dit kon enigeen van hulle gewees het. Die manuskrip wat dof voor die geestesoog is was in proefbladvorm. Presies wanneer in 1980 kan ek ook nie onthou nie. Jammer dus dat ek nie van veel hulp kan wees nie.

Hoop om jou weer te sien oor 'n paar glase rooi.

Groete uit die koue Middelland.

COBUS



LitNet: 01 Oktober 2004

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.