Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Was dit alles ’n droom?

Deborah Steinmair

My drome, of my geheue daarvan, is baie kripties en fragmentaries. My vriendin droom helder, geïnterpreteerde draaiboeke ryk aan simboliek en leitmotief. Dit laat my soms voel soos Charlie Brown in een strokie wat ek gesien het. Charlie en sy vriendjies lê op hulle rûe en kyk na die wolke. Elkeen kry ’n beurt om te sê wat hulle in die wolkformasies sien. Lucy sien iets soos die Hangende tuine van Babilon met tempels vol goud en ’n muur waarop ’n vierperdewa besig is om te draai. Schroeder sien die vuurspuwende Vesuvius wat besig is om Herculaneum en Pompeji onder warm lawa te begrawe. Linus sien Demeter se dogter Persephone wat deur Hades, die god van die Onderwêreld, gegaps word. Toe is dit Charlie se beurt om te sê wat hy sien. Met sy kenmerkende depressiewe gesiggie prewel hy: “I was gonna say a horsy and a ducky, but now I’m not so sure.”

Ek kan nie aldag tussen droom en werklikheid onderskei nie. Soos die ampermense in The Sims en The Matrix word ’n groot deel van my lewe virtueel geleef. Ek het virtueel gaan opsoek in ’n ou woordeboek en gesien dit beteken “feitlik”. Feitlik soos in amper, nie soos in feitElik nie. Snaaks in elk geval dat feitlik en feitelik so na aan mekaar moet wees?

Tussen my en die sogenaamde regte wêreld is daar ewig skerms en toetsborde van verskillende groottes. Die stokou selfoon wat ek aangeskaf het nadat my nuwe een in die see geval het, het onlangs van sy wysie af geraak. Druk jy Names om by die foonboek uit te kom, verskyn daar ’n gesiggie op die skerm met die woorde: speak now. Dit het onmoontlik geraak om te sms. Hoe laat vanaand verander in: 4öf j2cv vv7oc2e. ’n Soort predictive text uit die hel. Ek haat in elk geval predictive text. Dit is soos om woorde in ’n mens se mond te lê, soos iemand wat intjip en jou sinne klaarmaak met woorde wat jy nooit eens in gedagte gehad het nie.

As jy eers beginne webweef, lyk niks ooit weer dieselfde nie. Wanneer jy selfs ’n baie eenvoudige webwerf ontwerp, word jou brein onherroeplik in ’n ander rat gegooi. Ek het die mees basiese programmeertaal, html, soort van onder die knie gekry. Dit behels hakies <> met eenvoudige bevele tussenin: br vir break, p vir paragraph, b vir bold, ens. Dan moet elke bevel soos ’n landmyn weer onskadelik gestel word met nog ’n stel hakies en ’n vooroorstreep, bv: </b> beteken bold moet nou ophou. Daar is darem oulike programme soos Dreamweaver waar jy jou bevele ’n bietjie meer direk kan uitblaf, maar steeds is dit asof jy onder water deur ’n raket aan ’n appel knaag of watertrap in ’n pot taai stroop. Alles gebeur in stadige aksie en ongeduld bring jou net ’n woedende rits piiiiiiiiiiiiiennnngs in die sak, of ’n rekenaar wat soos ’n esel viervoet vassteek en verseg om in enige rigting te beweeg.

Dit is baie moeilik om Dreamweaver af te skakel wanneer jy gaan slaap. Al hoe meer bekyk ek my drome deur ’n klein venstertjie, maak ’n paar verstellings, sentreer hierdie prentjie, maak daardie een ’n bietjie kleiner, gaan eers terug Photoshop toe om dit effens te snoei aan die linkerkant, plak dit weer, gaan “live” en bekyk die spul op ’n groter skerm. Terwyl ek slaap, wikkel en spring my vingers kompulsief soos die pote van ’n hond wat droom dat hy hase jaag. Dis darem nie ontspannend om ’n mens se eie droom in real time te moet weef nie. Ek wens ek kon snags uit die kuberruim ontsnap, of minstens van URL verander.

Daar is dae waarin ek nie heeltemal daarin slaag om wakker te word nie. “Vuka” sê die thwasa (leerlingsangoma) vir my; “VUKA!” Dit beteken “word of wees wakker,” dink ek. Gister was daar ’n kaasdoek tussen my en die sogenaamde werklikheid. By ’n petrolstasie is ek met oop oë ingeloop. Almal eien ’n slaapwandelaar op ’n afstand.

Miskien slaap ek al vir jare en die hele informasie-ontploffing en virtuele snelweë was ’n nagmerrie. Miskien word ek op ’n oggend wakker met die plaastelefoon wat drie kortes en ’n lange lui, stap met die tuinpaadjie af en haal ’n paar vet koeverte met my vriende se handskrifte daarop uit die posbus. Met die reuk van Croxley-papier en Quink-ink in my neus skakel ek die gasstoof aan om koffie te maak. Die radio sê dit gaan reën.

Miskien was dit alles net ’n droom.



LitNet: 6 Junie 2006

Besoek Deborah se webwerf: www.genugtig.com/webdeb/deborahsteinmair.htm

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.