Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die tirannie van skyfies

Deborah Steinmair

Skyfies maak my bang. Nie die soort wat van aartappels en olie gemaak is nie, maar die soort wat aan ‘n mens vertoon word. Sonder tamatiesous.

In my kinderdae was skyfies groot. Daar is amper geen foto’s van daardie jare nie. Al die goue agtermiddae op die strand, al die modesessies in tuisgemaakte katkisasieklere, al die tartrazine-geteisterde kinderpartytjies is vasgevang op swart sellulietskyfies in harde plastiekraampies. Ver van alle oë vergaan daardie oomblikke êrens in ‘n donker laai.

Dit was die skyfie-era. ‘n Onskuldige Sondagmiddagkuier het in daardie dae maklik ontaard in ‘n foltersessie waartydens ‘n mens vir ure voor ‘n wit muur vasgekeer en aan beelde van ander mense se vakansies blootgestel was. Die persoon wat die projektor soos ‘n wafferse loods beman het, het absolute mag in pag gehad. Hy kon minute lank by een skyfie vashaak terwyl hy verduidelik presies hoe lank hy moes wag vir die son om presies deur hierdie blaar te skyn en let op die druppel water op die vlerk van die naaldekoker links agter. Ja, dit was gewoonlik ‘n man.

By die KKNK was ek weer blootgestel aan ‘n man en sy skyfies. Benewens die moordende verveling van my kinderjare het dit ook slegte herinneringe aan ‘n sekere ou antirock-aktivis opgeroep. Diegene wat in die laat sewentigs en vroeë tagtigs jonk was, was waarskynlik by geleentheid op KJV-kampe en in kerksale uitgelewer aan ‘n charismatiese, koorsagtige eks-Rhodesiër wat soos ‘n blonde arend gelyk het. Hy het deur die land gereis en aan tieners smerige skyfies van rocksterre in kompromitterende posisies gewys om aan te toon hoe duiwels die musiek was waarna ons geluister het. Daarna het groot groepe emosionele jongmense hul plate verbrand en “Kumbaya my Lord, Kumbaya” met kitaarbegeleiding rondom die brandstapel gesing. Unplugged.

Maandag op die KKNK het ‘n ene prof Peet Botha van Potchefstroom skyfies van seksuele praktyke in antieke tye gewys. Dit was tydens ‘n lesing genaamd “Sondaar of sondebok: homoseksualiteit en die kerk”. Ek dink die antimoffie-proffie wou wys dat homoseksualiteit, of homoseks, soos hy intiem daarna verwys, so oud soos die mensdom self is. As ‘n toegif het hy sommer skyfies van heteroseks, orgieë, pedofilie en bestialiteit ook ingegooi. Soos ‘n aangetroude oom van my altyd gegil het: “Dis lekker my ding, gooi suiker in!”

Die moderne eweknie van die outydse skyfie is natuurlik die Microsoft Slide Show of die gevreesde Power Point Presentation. Dit ontmagtig die toeskouer. Die skyfies skuif deesdae sommer vanself aan sonder inmenging. Daar is selfs blikkerige musiek om die beelde te begelei. Prof Botha se stoute skyfies was meestal afbeeldings van muurreliëfs en antieke vase. Kunswerke dus, maar die oorgrote sensorkolle waarmee hy alle geslagsorgane en kontakpunte bedek het, het dit sommer lekker smerig gemaak. Die prikkelende groot kolle het op die plek sondige gedagtes by my laat posvat: Hoe lank wás die antieke penis? Hoe groot wás die oude doos?

So teenproduktief is hierdie tipe van heksejag. Toe ek nou die dag vir iemand vertel van die paar geharde regulars in die kroeg om die hoek, mense wat van vroeg tot laat, weeksdag en naweek, rooigesig op kroegstoele rondhang, wonder ek opeens: Beteken dit dat ek ook ‘n regular geword het? In-diepte-navorsing behels oormatige blootstelling aan dit waarteen ‘n mens in die eerste plek te velde wou trek.

Ook op kantoor spring ‘n mens nie die tirannie van skyfies vry nie. Ek weet al van beter as om aanhangsels in pps-formaat van sekere vroom kollegas en familielede oop te maak. Doen ‘n mens dit, word jou skerm vir vyf minute gekaap deur ‘n reeks blommende velde, biddende hande en baljarende dolfyne waaroor verdoemende teksverse stadig aangerol kom. Ten slotte is daar die manipulatiewe vermaning: as jy Jesus liefhet, sal jy hierdie epos aan tien vriende stuur.

Skyfies is die kitskos van die siel. Dit bevat te veel versadigde vette vir my gestel om te hanteer. Dit dra swaar aan onaangename bagasie. Dit herinner aan aversie-terapie en emosionele lesings oor kommunisme, antichristelike simbole, satanisme en heavy metal. Varksige beelde wat in die naam van reinheid verbyskuif in bedompige sale waar die reuk van Clearasil en grys sokkies hang.

Met blydskap begroet ek die volgende woorde op ‘n swart skerm: End of slide show. Click to exit.



LitNet: 19 April 2006

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.