Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Terug kantoor toe!

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Die werklose lewe is heerlik ongestruktureerd. 'n Dag het die kans om te gebeur - dit kan soos 'n seepbel enige kant toe dryf, rond, ovaal, kaplaks.

Die huis waarin ek woon, herinner my aan 'n liedjie van Crosby Stills, Nash & Young:

Our house is a very very very fine house
with two cats in the yard
life used to be so hard
now everything is easy 'cause of you.
Dis 'n ou huis met 'n voorstoep waar 'n beesskedel op 'n gehawende rusbank balanseer, 'n voordeur met loodglasvenstertjies, plankvloere, hoë plafon, 'n plaaskombuis en 'n chaoties-geordende agterplaas waar 'n dag op 'n deken in die oggendson kan uitrafel.

In die huis waarin ek woon, gebeur daar tien dinge voor ontbyt. Zebulon Dread val met die deur in die huis, tot groot histerie van die brak, 'n intense Basanji/Africanus-mengsel. Zebulon is een te veel vir die hond: te donker, luidrugtig en flambojant in 'n pers rok tot op die vloer, rooi sash om die lyf gedrapeer, vet helderpienk turban waaruit die dreadlocks soos boontjiespruite spriet, groot goue oorringe soos 'n seerower of Othello van die Kaap. Hekties. Daar sit hy in die kombuis en oreer oor 'n regsgeding waarin hy betrokke is: "Kyk, jy raak nie in 'n fight met my betrokke nie, want ek is fokken mal. Ek sal vir jou ry, ek sal jou ganse familie ontrafel," maan hy terwyl hy 'n piesang eet. Die hond moes ons maar in 'n kamer opsluit.

Die loodgieter daag op. In 'n lang swart rok en fes klim hy in die plafon op. Dis 'n toneel so reg uit Count Dracula of 'n film van Peter Greenaway of Wim Wenders.

Muistro, die baba-veldmuis wat ons landlady, die leerlingsangoma, op die Common opgetel het en soos 'n kangaroetjie in 'n buidelsak om haar lyf dra, begin skree vir kos. Dit klink soos 'n kruiwaentjie wat olie makeer, of selfs 'n windpomp in die verlate Vrystaat ...

Die twee ibis hadeda's wat in die boom voor die studeerkamer nesmaak, skater kakelend. Kak op 'n kol in die straat, en vlieg soms af om stadig, o, so stadig, op die sypaadjie te loop ... pik ... pik. Krap ... krap ... krap. Ongefokkenstoord.

Abdullah die nutsman kom loer om die kombuisdeur met 'n graaf vol hondedrolle. Hy is 'n tandelose wonder met lumineuse liggroen oë.

My vyftienjarige dogter kom van buite in. "Got, wie's jy, wie's hierdie mooi meisie!?" wil Zebulon weet. "Jy moet oppas vir die ou lesbians, hulle soek net doos," maan hy grootoog. Van Abdullah wil hy weet of hy saliger is. Niks ontgaan sy ronde oë nie. Hy skater luider as die hadeda's. Die oggend word blink en dreig om aan skerwe te spat.

Dit alles rol ek daagliks in my mond rond. Maar nou is die einde in sig. Ek het sowaar weer 'n werk gaan staan en kry!

Verby is weeksdae wat soomloos inmekaarvloei, verby is ledige ure om in die agterplaas te filosofeer, kakpraat met die diere, daagliks bemodderd tot by die oksels raak in vleigrond, slaap tot ek wakker word.

Verby is ook einde-van-die-maand se paniese kwellings oor geld, wik en weeg watter rekening om dié keer te betaal, sms'e waarin ek my broers om geld vra, telefoonoproepe waarin ek mooi broodjies bak vir my eksman, eposse aan my ma wat my bankbesonderhede insluit.

Ek het heelnaweek in die agterplaas gelê en probeer om my veranderde status in my kop te rangskik. Aangestel, in 'n beroep, werknemer. Fonteintjie, van jou sal ek maar weer drink.

Nou ja, so benard is my posisie ook nie. My werkgewers is die Nagtegaals. Voorvaders kan Oopkop vlieg. Ek weet waarvoor ek my inlaat: 'n kantoor so blink en ongestruktureerd soos 'n huis agter Tafelberg, 'n dag wat soos 'n seepbel kan opstyg. Wanneer 'n mens van jou etensuur terugkom, vind jy lag-lag dat jou rekenaar, wieletjiestoel en skildery in die pakkamertjie langs die toilette ingeskuif is. 'n Kantoor met 'n uitsig.

Genugtig.



LitNet: 12 September 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.