Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Iets om oor huis toe te skryf

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Dis 2:37 in die oggend. Ek het vir die afgelope uur gelê en wonder waarom 'n mens skryf. Toe maar die lig aangeskakel en die laptop oopgeslaan. My landlady se kat genaamd My eniggebore seun in wie ek 'n enorme welbehae het lê roerloos soos road kill op my deken uitgestrek, gesig na onder.

As kind het ek 'n herhalende droom gehad wat met die jare genadiglik die wyk geneem het. Ek het gedroom ek staan voor 'n groot gehoor. Ek het 'n baie belangrike boodskap om oor te dra, 'n boodskap waarop almal wag. Ek vorm die woorde in my mond, maar 'n verlammende klem in die kaak oorval my. Ek kan my mond nie oopkry nie! Al wat deur my saamgeperste lippe ontsnap, is onverstaanbare kreungeluide.

Ek het begin skryf omdat ek nooit 'n woord kon inkry nie. Ek was nog altyd omring deur luide ekstroverte wat wel ter tale is en wie dit nie aan selfvertroue ontbreek nie.

My ma was die eerste. Sy kan 'n paar stories in die lug hou soos 'n basaarbakster pannekoeke. Sy sal 'n storie uit jou mond steel soos 'n restaurantpeuselaar die slaptjips uit jou bord. My pa het self 'n vinnige brein, maar is heeltemal te ordentlik grootgemaak. Gelukkig moet selfs verbose raconteurs nou en dan asemhaal. So het my pa baie bedrewe geraak in eenlyners - 'n kort, pittige uitkloplyn hier en daar. My pa … en ek.

Tot vandag toe vergader ek steeds luide, helder, spraaksame karakters om my, miskien omdat ek bo alles van 'n goeie storie hou. 'n Storie en 'n performance. Gelukkig moet die mees bedrewe storiewewers nou en dan pouseer om 'n sigaret aan te steek, 'n sluk wyn of tee te teug, asem te haal. Deur hierdie klein venstertjies van geleentheid steek ek my opportunistiese kop. My persoonlike bydrae het die voetnota geword - 'n kompakte kommentaartjie wat die hele verruklike storie met 'n houtoog bekyk en in 'n effens gekantelde lig dompel. Van daar was dit 'n kort treetjie na die digkuns.

Spreekbeurte wag, soos die tyd en die gety, op geen mens nie. Sluk een keer, en die gesprek het al weer in 'n ander rigting koers gekry, jou briljante eenlyner is gedateer, mosterd na die maal. Hierdie pêrels wat nooit die daglig aanskou het nie, hou my in die nagte wakker. Dan skryf 'n mens maar.

Ek stel baie hoë eise aan woorde. Ek is ongeduldig. Woorde moet my in die solar plexus bliksem, of soos 'n voorhamer tussen die oë. Ek wil steier. Ek wil nie die volgende agter op 'n poskaart lees nie: "Ons kamer is die een wat met 'n x gemerk is eerste van links op die tweede vloer. Ons het 3 sonskyndae gehad." Ek sou verkies: "R snork harder as ooit van die seelug. Ek kou my polse sonder jou. Die maan is 'n toonnaelknipsel." Ek verpes sms'e wat sê: "Lookin 4ward 2 c-ing u 2nite." Val dan eerder terug op die poësie. Werp jouself in die arms van Leonard Cohen: "I can see by your smile that tonight will be fine will be fine will be fine."

In boekwinkels lees ek die eerste paragrawe van boeke. Jy het presies 'n halfminuut om my hart te breek, is my vermetele ultimatum aan die outeur. Die eerste paar sinne van Agaat se proloog het my knieë lam gemaak en my hande laat bewe:

Matwit winter. Hortende verkeer. Noodweer. En ek. Op twee plekke soos altyd. Sneeu op my skouer, maar met die Overbergse lig wat by my spook, die nat blink dinge van die winter, die opgeefsels van die somer. Tuimelende lewerikie bo die ruisende koringlande. Twitter machine.
Mensig!

Miskien skryf ek omdat my stem nie hard genoeg is nie. Omdat ek te dikwels in die rede geval word. Omdat oogkontak my ontsenu. Omdat ek in lewe-en-dood-oomblikke met 'n mond vol tande staan. Omdat die beste uitkloplyne na middernag by my kom aanklop. Om my klem-in-die-kaak-nagmerrie in die bed te sit. Omdat ek eers nadat ek die foon neergesit het, onthou wat ek eintlik wou sê. Omdat ek jou hart wil breek. Omdat ek graag onvergeetlik wou wees.

Dis 4:03. Die kat genaamd My eniggebore seun lê nou opgekrul soos rolmops. Goeienag!


LitNet: 26 Julie 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.