Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die lewe is 'n road trip

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

In die tapisserie van my lewe (met apologie aan Carole King, vir dié wat haar nog onthou) verg dit soms konsentrasie om nie my draad te verloor nie, om verbete voort te borduur in kruissteek.

Iets in my het vasgesteek by die Beat-generasie. Dis nou Jack Kerouac van On the Road-faam en sy trawante soos Neil Cassady en Allen Ginsberg. Ek het eenkeer 'n biografie oor hulle gelees deur Cassady se eksvrou, Caroline. (Ja, as ek reg onthou, spel 'n mens hulle van met 'n tweede a.) Sy was Neil se vrou en Jack se minnares. Om sake verder te kompliseer, was Allen Ginsberg ook by geleentheid Jack én Neil se minnaar, maar nie Caroline s'n nie. Hulle was ook nie mense wat in die wieg gelê was vir formele betrekking nie. When in doubt, embark on a road trip, was die filosofie.

Ek was ook mal oor Zen and the Art of Motorcycle Maintenance deur Robert Pfirzig, nog 'n kanniedood oor die lewe en sy paaie.

Ek kom pas terug van 'n road trip na die Noorde saam met 'n vriendin en 'n kombi vol kinders. Daar was insidente met 'n fan belt en 'n verflenterde buiteband. Op die terugreis was daar dosyne vinnig-rypwordende papajas wat onder elke sitplek geskuil het, gereed om deur 'n niksvermoedende voetsool vergruis te word. Daar was 'n uitsigryke ompad deur die Noordkaap met plekkies soos Pofadder, Kakamas, Olifanthoek (met 'n afgryslike lewensgrootte grysgeverfde sement-olifantstandbeeld), Upington. Brenda Fassie wat "Mama Brrrrr" uitbelt oor vlaktes vol blommetjies, Sibongile Khumalo se engelstem oor die rante.

Langs die pad het ek ou agterdeure gaan opsoek om uit te vind of hulle nog sal oopgaan. My eksman betaal vir tyd en wyl my rekenings, maar daar is sowaar nie iets soos gratis middagetes nie: in ruil moes ek 'n lang preek aanhoor oor my lewenstyl, wat in sy kop soveel romantieser daar uitsien as in die werklikheid. Hy het vaagweg verwys na my swak voorbeeld aan die kinders deur promiskue en onnatuurlike seks. Wat ek waar kry, asseblief?

Om werkloos te wees, is soos swangerskap. Daar is 'n onsigbare wolkie bokant jou kop wat sê: "Onbeskermde wild. Peper gerus met ongevraagde raad." 'n Bosveld-ghoeroe met 'n lieflike stem, 'n imposante figuur in kortbroek en sandale, maan my langs die pad: ek moet waak daarteen om al my opsies op te gebruik en myself in skaakmat in te skuif. Hy beveel aan dat ek die volgende werk wat na my kant toe kom, neem en daaraan vashou. My sterre in 'n dagblad wys my daarop dat ek in werklikheid 'n leier is en myself moet laat geld. Huh?

In haar kombuis op De Wildt sê my ma: "Ons kan maar nie vir ander mense werk nie. Ons is eenmaal te vry van gees." My pa sê dat hy my baie lief het. My hippie-broer stop 'n twaksakkie in my palm: nee, toe nie dwaalbos nie, maar 'n rolletjie note, R1 000 kontant. My suster bekommer haar oor die kinders.

My ou vriendin se plaas is onder haar uitgegrondeis. Sy jaag met 'n 4x4 deur haar voormalige avokadoboorde in die vrugbaarste vallei in Suid-Afrika. Sy kommunikeer per selfoon met haar plukkers. Alles is relatief, sê sy doodsveragtend. Sy brand vir my CD's en stuur 'n streepsak avo's en die gewraakte papajas saam vir my reis.

In Melville gaan soek ek vir Katvrou op. Ek is altyd so bly om te sien dat sy regtig bestaan. Ek is dankbaar dat hierdie ikone in my kop ook in die regte wêreld leef, met 'n adres waar 'n mens kan gaan aanklop. Sy is beeldskoon en entoesiasties in haar woonstel vol katte, kathangmatte, krappale en sandbakke. Daar was te min tyd om met Kleinboer te konnekteer.

Met die terugkom lyk alles beter, al het my hart op die langpad agtergebly. In my inboks wag selfs 'n werksaanbod van Annesu de Vos in Kanada.

Die dag is vol moontlikhede en rol soos 'n fratsgolf onder my voetsole deur. Ek probeer maar my balans hou en blitsig van rigting verander op die maanhaar van die brander.

Die volgende is blatante advertering, nie vir die sensitiewe leser nie:
Ek begin teen die einde van Julie met kreatiewe skryfklasse in Rosebank, Kaapstad. Dis 'n groeppoging met dinamiese insette deur onontginde grootgeeste van die Moederstad. Enige iemand wat min of meer in die omgewing woon en belang stel, kan my kontak by deborah.steinmair@gmail.com.


LitNet: 12 Julie 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.