Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Rampspoed is snaaks

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Waar het ek die draaiboek vir my lewe gekry? Ek vermoed dis saamgeflans uit Woody Allen-flieks, Charlie Brown-, BC-, Far Side- en Andy Capp-strokiesprente, en sitkoms soos Seinfeld en The Carol Burnett Show. Êrens langs die pad het die verlossende idee posgevat dat katastrofe skreeusnaaks is.

Wanneer 'n mens 'n gereelde rubriek skryf, begin jy jou lewe met 'n groot knippie sout leef, soos 'n karakter in 'n laebegroting-fliek. 'n Rubriek is soos 'n stand-up comedy roetine. 'n Mens is immer op soek na materiaal en alles word 'n metafoor.

'n Rubriek is 'n verhoog, 'n klein bietjie soos realiteits-TV. Jy hoef nooit meer ou vriende te laat weet dat jy opgehou werk het, nie meer jou woonstelhuur kon bekostig en in jou liefde verlaat is nie. Almal wat vaagweg belang stel, bly op hoogte van jou disfunksionele lewe.

Wanneer die volgende op een slag met jou gebeur:

  • jy verloor jou werk
  • jou verhouding werk nie uit nie
  • 'n smerige griep gryp jou en
  • jou kar se passasiersruit word uitgemoker,
het jy 'n paar keuses. Jy kan huil. Jy kan 'n Country & Western-CD uitbring. Of jy kan 'n rubriek daaroor skryf.

Vragie: Wat gebeur as 'n mens 'n Country & Western-plaat agteruit speel? Antwoord: Jou geliefde hond word weer lewend, jou owerspelige vrou kom terug en die bank gee jou plaas terug.

In die fliek van 'n mens se lewe is daar selfs 'n irriterend-gepaste klankbaan wat in dramatiese oomblikke opklink. Toe ek - prakties op straat, werkloos, platsak en onseker oor die dag van môre - 'n sms ontvang met die gewraakte woorde: "Kan ons net platonies wees, 4 now?", het 'n country-nommertjie uit my hoërskooldae, toe ons in motorhuise by die lig van vet oranje kerse gevroetel en geskuifel het, in my kop kom draai en dae lank verseg om te wyk: "You picked a fine time to leave me, Lucille ..."

Het ek my innerlike landskap op so 'n manier aangelê dat rampspoed binnegenooi en geakkommodeer word? Of het ek geleer om veerligte omelette te maak van eiers wat tussen die supermark en die kombuis gebreek het? 'n Mens is later nie meer seker wat eerste gekom het nie. Hoe dit ook al sy, mettertyd ontwikkel jy 'n Monty Python-oog en 'n doodsveragtende traak-my-nie-agtigheid.

Die werklose lewe is onseker en wemel van moontlikhede. Die dae verloor struktuur en rafel uit soos 'n gebreekte spinnerak. 'n Mens vertroetel die oomblik. Jy raak van al jou meubels ontslae en kyk nie terug nie. Dit herinner my aan 'n storie wat ek gehoor het toe ek baie jonk was. Ek sal jou vertel:

Daar was eendag 'n gelukkige egpaar wat op 'n afgeleë plaas gewoon het. Toe die man onverwags in sy fleur dood is, het die bedroefde weduwee 'n beeldhouer opdrag gegee om hom in hout te verewig. Die groot standbeeld het 'n ereplek in die sitkamer gehad.

Tyd heel alle wonde. Mettertyd het 'n oujongkêrel van die omgewing by die weduwee begin kuier. Die romanse het stadig maar seker op dreef gekom. Een snerpende aand word die vuurhout min terwyl hulle voor die kaggel opsit. Die weduwee gaan roep die tuinjong, wat in die kombuis slaap, om nog hout vir die vuur te bring. Toe hy kom sê dat die hout nat en gevries is, wys sy sonder huiwering na die standbeeld van haar oorle' man en beveel in 'n besliste stem: "Kap baas Jan."

Dit het 'n familiespreekwoord geword.

Daaraan troos ek my: in ledige oomblikke het ek soveel stories in my are versamel. As ek regtig gaan begin skryf, gaan ek nooit weer ophou nie. Soos wat ek nooit kan ophou lees nie - enige iets, alles, in 'n eindelose dors na kopie. Kopie wat deel word van die draaiboek van my lewe.

So lees ek nou die dag 'n laekoste-advertensieblokkie in Rapport Tydskrif waar 'n man bely hoe 'n potensiepil sy lewe verander het. Oor sy voormalige impotensie vertel hy: "My vrou het hard probeer om dit te verstaan." Oeps, ongelukkige insluip van die woordjie hard, reken ek toe. Die belydenis lui voorts: "Dit het my amper na drank toe gedryf." Mmm, goeie idee, besluit ek op die plek en onthou net daar dat my ma met haar onlangse besoek 'n driekwartbottel sjerrie in die kombuiskas gelos het.

Cheers. Kap baas Jan.


LitNet: 28 Junie 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.