Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kar-ma?

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

My hart is 'n wegholmotor sonder remvloeistof. Die verslete pedaal moet jy herhaaldelik pomp voor die remme teësinnig inskop. Die lisensie het verval en die wielbalansering is uit. Die voorruit lyk soos die hemel in 'n hoëveldse donderstorm.

My regte kar lyk min of meer dieselfde. Ek glo dat die wiel uitgevind is om aan die draai te bly. Alles lyk beter in die verbygaan. Vir my is daar net een status wat saakmaak en dit is: bewegend.

Ek kan 'n motor moeg ry in 'n kwessie van twee jaar. Hierdie was my heel eerste nuwe kar. Sy het nog na 'n nuwe plastiekpop geruik toe ek een vullisdag laat vir werk uit die motorhuis vloog en vergeet van die swart drom op wieletjies in die middel van die oprit.

Een parmantige agterliggie is kort daarna flenters gestamp teen 'n geparkeerde Mercedes wat gelukkig van sterker stoffasie gemaak was. Sedertdien probeer ek nie meer die parallel-maneuver nie. Ek het eenkeer 'n bufferplakker gesien waarby ek veel aanklank kon vind: "I am double parked in a parallel universe."

Soms moet 'n mens onverwags rem trap. Passasiers gordel hulself nie altyd vas nie. So was daar die skielike ontmoeting - jy kan maar sê blind date - tussen die voorruit en 'n hardekwas, anargistiese Afrikaanse skrywer se borselkop. Ek is bly om te berig dat Afrikaanse skrywers van sterker stoffasie as voorruite gemaak is. Die kraak hol weg soos 'n sykousleer en maak amper daagliks 'n nuwe vertakking. Die skrywer skryf voort.

Alles is ook nie my skuld nie. Wat is tog die Afrikaanse uitdrukking vir "Acts of God"? Dié het ook handjie bygesit. Een oggend, weer eens op pad werk toe, het die moerige wind van Wredehoek die motorhuisdeur toegeklap en bo-op my karretjie laat neerdonner. Duik in die dak en die agterruit des moers.

Nou die dag staan 'n petroljoggie langs my venster met 'n skaapagtige glimlag en die ronde silwer deurtjie van my petroltenk in sy hand. Wie sou kon dink die ding is van plastiek gemaak? Nou, aan daardie dekseltjie het ek nog nooit geraak nie.

Ek het 'n Engelssprekende oom wat nie op sy mond geval is nie. Hy het eenkeer vir my tante gesê: "Jy sal nog ry tot jy met die con rod tussen jou tande sit." Dit loop seker in die familie. Ek glo as die wiel nog kan draai, is die Kaap Hollands. Ek hoop nie ek maak ooit met 'n con rod kennis nie, wat dit ook al mag wees.

Ek is mal oor bestuur. Ek is 'n fatalistiese passasier. Ek verwonder my altyd aan hoe die ware karakter van 'n bestuurder in verkeer na vore kom - in traffico veritas? My beskaafde ma vloek soos 'n matroos (altyd op Engels), my pa sê nie 'n woord nie, maar laat kalmpies sy wil geskied met 'n vonkel in die oog en 'n spiertjie wat spring in die wang. My broers lag alles af en verander van rat met 'n Black Label in die een hand. My sussie sal altyd 'n kans vat en dan hoogs verontwaardig wees oor die simfonie van toeters wat haar begroet. Oor my eie bestuursvermoë het ek al genoeg gesê.

Een van my blink idees wat nooit 'n patenteringskantoor sal sien nie, is die motor-megafoon, 'n uitlaatklep vir bestuurdersfrustrasies. Dink daaraan: 'n kar wat toegerus is met 'n PA-sisteem, so 'n megafoon op die dak, sodat die geprewel onder jou asem die wêreld ingestuur word: "Klim van my gat af, poephol … nee, moenie eers daaraan dink nie … ja, dis reg, moenie wys jy wil draai nie, ASSHOLE!"

Ek het werklik so 'n ervaring gehad, laat een nag in Melkbosstrand. Die strate was verlate. Toe ek 'n stopstraat ignoreer, daal 'n (fokof)polisiekar vanuit die niet op my neer terwyl die naglug gevul word met 'n luidsprekerstem: "Hierdie is 'n STOPstraat …" Dit was nagmerrieagtig, heeltemal onwerklik.

Nouja, as my (metaforiese) hart 'n kar was, sou ek nooit op 'n vyfjaar-geen-eis-bonus kon aanspraak maak nie. Die versekeringspremie sou belaglik hoog wees: hoërisiko-voertuig en -bestuurder. Ook maar beter dat die hart nóg waarborg nóg versekering het. En dat niemand die vergeelde, opgekrulde lisensieskyfie inspekteer nie. Nogtans bly die boetes nie uit nie.

My hart is 'n tweedehandse kar en as ek haar probeer inruil, sal sy nie eers die deposito op 'n nuwe kar verhaal nie. Maar, padwaardig of te not, hier kom ek! Hoenders, ganse uit die pad, oupa ry in derde rat!


LitNet: 27 Mei 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.