Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Lyk my ek's 'n lieplapper

Deborah Steinmair

Waarom raak 'n mens op iemand verlief?

Ek het op my eksman se disfunksionele jeug verlief geraak. Die "wilde hawer", die jare wat deur die sprinkane opgevreet is. Hy was 36 toe ek hom ontmoet het. Hulle was toe al lank verby, die jare wat my verbeelding aangegryp het. Ek het 'n swart-wit foto van hom bokant my bed gehang. Hy is agtien jaar oud en leun teen 'n hooimied. Hy dra 'n wit frokkie en lyk soos 'n popster. Sy donker hare is lank soos Jim Morrison s'n, sy mond pruil soos James Dean s'n. Dit was die laat sestigs. Hy was 'n hippie. Hy het van die huis weggeloop op soek na rock 'n roll. Hy het vir jare lank soos 'n swaeltjie deur Europa gemigreer op die spoor van sy gunsteling bands. Na sorgvrye jare in Marokko het hy suidwaarts getrek en in Suid-Afrika beland. Hier het hy stadig in sy pa verander. Nou is hy 'n pilaar van die samelewing, besit eiendom, betaal belasting, dink vooruit, bly saans tuis behalwe vir Bybelstudie op 'n Woensdagaand. Hy preek nou gereeld vir my oor verantwoordelikheid en begroting.

Anders as my eksman het my tweelingbroers hippies gebly. Jong strewers en ouer seders van die gemeenskap reken daar is iets baie tragies aan ou hippies. Ek dink nogal nie so nie, maar miskien is ek bevooroordeeld. Toegegee, daaglikse daggagebruik is nogal straf op die kompleksie. Daar is 'n sekere stadigheid wat intree, en voete wat winter en somer in sandale woon, raak met die tyd skurf en bruin, maar daar is darem ook 'n vredeliewendheid en ongefokusde glimlag wat mooi is. Op skool was my broers atlete en presteerders. Nadat hulle vir maande op 'n slag met valskerms op Angola neergelaat is om mense te bekruip en hul kele af te sny, het hulle nooit weer 'n vlieg skade aangedoen nie. En nog nooit weer probeer presteer nie.

Deesdae sien ek weer heelwat blommekinders van alle ouderdomme in Kaapstad. Hulle steier deur die strate van Obs. Hulle wieg energiek op die maat van tromme in trance clubs. Ek gaan spring graag op en af in 'n klub met die naam Organafix (die ou Getafix), 'n groot skuur met 'n konka vuur in die middel van die sementvloer. Teen die muur is fluorescent lapskilderye van elfies, feëtjies en paddastoele. 'n Hondjie wat soos Kuifie s'n lyk, hardloop tussen die dansendes in om sy bal agterna te sit. Langs die vuur lê wolfhonde en slaap. Kinders vleg tussen 'n mens se bene deur. Almal glimlag en daar heers 'n stemming van welwillendheid. Aanvaarding. Graceland. Rhema.

Oral duik weer blomme, wolkies en paddastoele op. Daar is bands soos Rooibaardt uit Bethlehem in die Vrystaat, langhaarseuns wat in 'n karavaan reis. Hul vioolspeler is wit met dreadlocks. Hy bespeel al wat instrument is met groot oorgawe en argelose talent, terwyl hy dans met die onderbene van 'n dwerg. Hulle klank is 'n mengelmoes van folk, rock, blues, Suid-Amerikaans met 'n Afrika-klank en matelose energie. Tong in die kies.

Die hippies was reg. Daar is veel om teen te protesteer. In die nuwe millennium vertolk die protes haarself gelukkig minder ernstig. Dit gaan oor subversie en kantel. Dit vergat die selfvoldane samelewing net so effens. 'n SêNet-filosoof met die naam van Willem Mulder het eenkeer geskryf dat terwyl Ferdie van Big Brother in 'n mens se tuin kak, Kobus! op jou idee van jou tuin kak. Dis vir my 'n wonderlike beskrywing. Ek dink aan Kobus! se sardoniese "Sondagmiddag":

Ons sit aan vir die fees
Ek soen my vrou en kerf die vleis
en almal smul heerlik aan die geurige spys.

Ek dink aan David Kramer se song oor die suburban dream waarin alles perfek is, maar die koekoek wat uit die klok spring, bring nie 'n geluid voort nie en iets bly haper.

Daar is Piet Botha se song oor die "Gemmerbroodman":

Whatever jy verdien,
ek verdien tog meer
En ek maak my bek oop
Elke kans wat ek kry
Want ek is so belangrik
Die wêreld moet weet van my.

Ook Brixton Moord en Rooforkes se:

Ek wil 'n vis wees
Sit my terug in skubbe
- FOK EVOLUSIE!!!

Ek bewe, ek bewe so bietjie, oor Trike se "Kennis van die Oggend" wat eersdaags verskyn - wag daarvoor:

Alles kantel en ek swewe, Dominique
oor die scrapyard en die koue staalfabriek
sien ek die rooi dak van jou huis 'n laaste keer
en die dorpie en al sy wel en wee
Daar's 'n wit lig wat my Raybans nie kan keer.

Ek was nou net in 'n vergadering waar besigheidstrategie bespreek is. Met blink oë het iemand in bemarking die volgende gesê: "We need to completely go for the jugular this festive season."

Ek's 'n hooligan. Kapitalisme maak my bang.


LitNet: 19 Mei 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.