Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Slapkoejawel en boomklim

Deborah Steinmair

Om te speel is menslik. Aldus die Nederlandse historikus Johan Huizinga. Hy het gepraat van homo ludens (die spelende mens).

'n Duitse drinkliedjie reken:

Meine Oma ist schon achtzig und sie hat noch keinen Mann
Und sie freut sich auch so tüchtig dass sie Fussball spielen kann

(My ouma is al tagtig en sy het nog nie 'n man nie en sy is ook deeglik trots dat sy kan voetbal speel)

Om te speel is ook dierlik. Ek het al opgemerk dat die oulikste, slimste troeteldiere nooit hulle spelerigheid verloor nie, maar grys en artrities nog rondbons soos strandballe met 'n maniese glans in die pêreloog.

Die oulikste, slimste mense hou ook nooit op speel nie. Toe ek 'n kind was, het my pa op sy kop gestaan en gevra om onderstebo met 'n teelepel gevoer te word. Hy het 'n olifant met al twee hande gelyk geteken: die linkerhand begin by die stertjie, die regterhand by die slurp en een twee drie het jy 'n perfekte plomp olifant. Hy het 'n huilende babagesiggie op sy handrug geteken, dit in 'n sakdoek toegedraai en teen sy bors gewieg. Noudat hy amper tagtig is, speel hy rekenaarskaak, veerpyltjies, vingerbord, tafeltennis, woordspeletjies, pop met kleindogters. En werk nog elke dag heeldag met sy hande. Sy baard is wit soos kouewater Omo-skuim en sy groen oë blink.

As kind het ek almal moeg gespeel. Ek onthou die sinkende gevoel as maters belangstelling verloor in 'n speletjie lank voordat ek genoeg gehad het. Ek het jare gelede 'n song daaroor geskryf, voor my bekering na Afrikaans:

The tub is leaking
You hide and no-one's seeking
Anymore
They stopped playing long before
You had enough
Stop the world, you're bored
you wanna get off
The world wheels through the sky
Goes by and by
Perhaps it's time for another try
Abide your time and hide your pride
And hide.

'n Mooi dag vir boomklim:
Zani en Deborah raak hoog.
Foto: Krisjan Fourie

Vandat ek in Kaapstad woon, het ek weer met mening begin speel. Die moederstad is een groot speelgrond, veral as 'n mens se paaie gelukkig genoeg is om met Zani Botes van LitNet s'n te kruis. Op Maandagaande is daar djembe-dromme en vuurdansers op Clifton. Mense sit in bondels om kerse in die sand, party dans aan die soom van die branders, ander bespeel didjeridoo's, Alpehorings en djembes. Die atmosfeer is karnavalesk, vry en primitief.

Ook op Maandagaande is daar Off the wall, open mike poësievoorlesings in Touch of Madness in Obz. Daardie aande is vol adrenalien, betowering, drama, rooiwyn en inspirasie in 'n lang vertrek wat soos 'n Russiese voorhuis lyk.

Elke aand kan 'n mens van oortollige energie ontslae raak op 'n dansvloer êrens. Dans is ook nie meer soos vammelee met muurblommetjies en debutantes nie. Dit is nou meer soos 'n sport of 'n dwelm: 'n mens wag nie om genooi te word nie, maar werp jou met die volle inset van jou persoonlikheid in en doen jou eie ding, hetsy spasties, versigtig of wild soos 'n dier. Kort voor dagbreek steier jy beswete die strate in. Stukke beter as om 'n stilstaande fiets te betrap of op 'n draaiband na nêrens te draf.

Daar is elke aand lewendige musiek om na te luister. Poëte van die oomblik rap die nag aan die brand op lae verhogies in skemer teaters. Die heel bestes is spelerig, subversief, anargisties, soos die Naaimasjiene, Buckfever Underground, Brixton Moord- en Rooforkes en Trike. Pretensies word geprik en vensters waai oop in ons koppe.

Ek het onlangs 'n ou passie vir boomklim herontdek. 'n Mens het nie soveel duur toerusting nodig soos vir rotsklim nie. In 'n ou stad soos ons s'n is groot bome redelik vryelik beskikbaar en al wat jy nodig het, is kaal voete, onbeswete handpalms en sterk senuwees. Soos die wêreld kleiner word onder jou, begin jou spiere ligweg beef soos die vel van 'n resiesperd. Wanneer jy weer op vaste aarde staan, bakbeen soos 'n matroos, suis jou ore en adrenalien verby jou are. Jy voel tien jaar oud.

Gisteraand was ek op 'n braai met 'n totale afwesigheid van heilige koeie. Die enigste man wat teenwoordig was, beskik oor genoeg eiewaarde om te erken dat hy bra onhandig en hopeloos is. Die kole was eers laatnag reg en daar was nie ligte of tuinfakkels om die sissende vlees te belig nie. Die enigste braaivleistang het nie meer so mooi geknyp nie. Ons het almal handjie bygesit om in die donker te brou. Meestal het die handjies stukkies rouerige vleis opgeraap en mond toe vervoer. Nou en dan het 'n selfoonflits aangedui dat alles nog pienk was. Dit was plesierig en niemand het 'n woord van vermaning geuiter nie. Dit was primitief, interaktief en lekker af. Luide gelag het die koue nag gepunktueer. Niemand het oor rugby of wasmasjiene gesels nie. Ons het gespeel.

Aan die verkeerde kant van veertig dans ek die slapkoejawel op die puriteinse ou spreekwoorde waarmee ons grootgemaak is. Die suurpruime was verkeerd: van lekker lag kom nóg lekkerder lag. Kaatjie van die baan is nooit gedaan. Met spot gaat jy nie naar bed. Grappies hoort nie op 'n stokkie nie.

En om met vuur te speel laat jou nie in die bed piepie nie.


LitNet: 21 April 2005

Klik hier vir Moedersdaggeskenke!

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.