Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gooi mielies: KKNK 2005

Die vrou wat haar laptop vergeet het (met apologie aan Marlene van Niekerk)

Deborah Steinmair

Op kunstefeeste word my brein oorlaai met indrukke. Dan word ek in die middel van die nag in 'n vreemde kamer, vier honderd kilometer van my laptop af wakker. Die matras is hol en ek rol met 'n kop vol paragrawe en 'n maag vol kitskos rond. Dit is een van die kamers van die hel.

Ek wens ek kon soos Jeanne Goosen op die naat van my rug met 'n Bic fineliner in 'n exam pad wat op 'n plank vasgeklamp is, lê en skryf. "My brein en my regterhand is in 'n reguit lyn verbind," sê die ouer-generasie skrywers. Hul handskrifte getuig van dissipline, nadenke en 'n verfynde ambag (sien LitNet se reeks handgeskrewe bladsye van lewende legendes). As LitNet ooit 'n Nuller-reeks handskryfsels moes opveil, sou dit waarskynlik soos die gekrabbel van kleuters lyk. Niemand sou daarop bie nie.

Ek wens my ambag het min onderhoud geverg en mooi gevloei op koffie, ink en alkohol. Maar nee, my brein is WYSIWIG-, Pentel- en QWERTY-bedraad. Dit vra 'n muis, RAM en 'n vervloekte cursor.

Kunstefeeste oorstimuleer meer. Ek is seker daar is medikasie op die mark wat nommerpas is vir my kondisie, maar sal Media24 se mediese fonds dit dek?

Kunstefeeste gee my hooikoors. 'n Jaar se droë gras en dor rooigrond word tot 'n fyn poeier verpulp onder honderdduisende malende sandale. Dit hang in die lug soos 'n pienk wolk uit 'n rookmasjien op die verhoog. Dit gaan nestel in my bronchi en die wimperepiteel in my neus. Koeksistertafels, die Huisgenoot-tent, Juanita du Plessis wat wil lepellê, Twaalfde Nag wat veronderstel is om 'n komedie te wees, Irit Noble, 'n kugel-parodie motor mouth komediant - alles laat my huil op kunstefeeste. Ek loop rou rond soos op rooineusdag. Ek is nie alleen nie. Oral om my hoor ek asmatiese hoese en niese soos karate-krete.

'n Kenner waarsku in die feeskoerant dat die 11-jarige KKNK uit sy nate bars en op 'n logistieke ramp afstuur. Toue mense trippel voor elke toilet rond en probeer beswete om dreigende kitskos-peristalses hok te slaan. Voor elke kitsbank slang 'n tou mense om die hoek en af met die straat. Hongerige menigtes bedek kosstalletjies soos 'n sprinkaanplaag.

Ek wonder of ek ooit 'n regte skrywer sal wees, want ek HOU van mense. Maar daar is bleddie limits. (Ek is so lief vir laasgenoemde twee woorde dat ek maar gou vir dié wat dit nog nie gehoor het nie, die grappie gaan vertel waaraan dit ontleen is: 'n Klein seuntjie gaan vang op die rotse vis met sy kafee-visstokkie. Later kom hy huis toe en pak sy reusevangs trots voor sy ma uit. Die visterman-omies het vir hom vertel wat elke vis se naam is, sê hy, en noem hulle vir sy ma op: "Hierdie is die harder, hierdie is die hotnot, hierdie is die geelstert …" - totdat hy heel laaste sy grootste vis uithaal en triomfantelik sê: "En hierdie is nou die bleddie limit!")

Mense lyk soveel mooier op 'n verhoog, met 'n bietjie afstand en goeie beligting. Van vlak naderby in die blakende son, skouer teen skouer in 'n drukgang tussen lokale A en B, slurpend aan roomyse en spookasems, laat ons my dink aan TT Cloete se woorde: "Kyk hoe loop hul, kyk hoe lyk hul/ wat ek moet liefhê, die 99% lelike spul."

Familiarity breeds contempt, sê die Engelse. Maar daar is darem ook voordele in nabyheid. 'n Mens hoor die wonderlikste weggooilyne in die verbygaan: "Dié Nagtegaal is blykbaar 'n regte persoon. Sy naam is iets soos Piet of Dirk." En: "Jong, pa sit in die biertent. Dank die vader. Los hom net daar."

Dit laat my dink aan iets wat Liezl Dick gesê het. Sy is die mooiste mens op aarde - dit lyk asof sy uit 'n Boticelli-skildery gestap het (sien Die Geboorte van Venus). Sy het eenkeer gesê die ergste belediging wat 'n mens iemand kan toesnou, is sekerlik: "Jou ma boks in die biertent."

Oudtshoorn, Oudtshoorn, wat ek jaarliks aandoen soos 'n herhalende droom. Waar 'n mens nie 'n bottel water kan koop sonder dat 'n jongeling op die drumpel van middeljarigheid vir jou sê: "'aaggs hy, Antie!" nie. In 'n volstruisdop: 'n dorp van drome, vere en singende straatkinders. Ek en die straatkinders leer lelike woorde oor die blêrende luidsprekers, goed wat ons nooit weer uit ons koppe gaan kry nie, soos: "'n Man is nie 'n klip nie, as jy weet wat ek bedoel." "Ek is 'n loslappie." "Ek gaan vir ons 'n huisie bou." "Mooiste meisie van Verlangekraal."

Ek het besluit om vanjaar 'n boek te skryf. Verkieslik 'n bekroonde blitsverkoper, sodat ek op Sarie en Insig se voorblaaie kan kom en veral op De Kat, waar hulle onbenullige imperfeksies van gelaat en gelaatstrek so behendig weg-Photo Shop. Sodat ek deur feeskomitees uitgenooi word as spesiale gas. Dan sal ek invlieg met 'n Greta Garbo-sonbril en Isadora Duncan-serp. Ek sal in 'n hotel tuisgaan en tussen vertonings in lugverkoelde gasvryheidslokale uithang. Jy sal my nooit met 'n rooi neus op straat vang, lekkend aan 'n olierige Chip Stick terwyl ek "Dis lêkka op die Kunstefees" neurie nie.

Maar sal ek nog iets hê om oor te skryf?

Ns. Hierdie is met balpuntpen en krampagtige regterhand in die middel van die nag in 'n oefeningboek geskryf.


LitNet: 16 April 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.