Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oh my goodness, Ouma Lucy!

Deborah Steinmair

"Wie ís hierdie Ouma Lucy?" wonder ek toe ek met 'n halwe oor TV kyk terwyl ek op die bank lê, slaai met seepgladde chopsticks eet en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte lees. En hoekom het Ouma Lucy soveel te sê oor die matriekuitslae? Toe ek my oë wegskeur van die boek waar 'n kol balsamiese asyn soos 'n Rorschach-vlermuis oor die eerste vers van "Tot lof van Stront" (bl 160) gaan lê, sien ek op die skerm dis al die tyd die afkorting van 'n organisasie: UMALUSI.

Aag, ek moes nooit opgekyk het nie. Ek het meer gehou van Ouma Lucy. Ek kon haar so duidelik sien: adjunkminister Ouma Lucy. 'n Groot, intimiderende vrou met 'n ingewikkelde kopdoek en 'n goue voortand. Sy eet rooivleis en bestuur al jare sonder lisensie. Ek wonder of dit oor haar was wat Herman van Veen sing: "Is 't waar dat voor haar ieder stoplicht groen werd …"

Ek wonder ook hoekom dit so moeilik is om 'n lywige slapbandboek met een hand oop te hou sonder dat sy ruggraat breek? (Die lewe is baie interessant en op enige gegewe moment effens uit fokus as 'n mens aan aandaggebreksindroom ly.)

Fokus. In 'n wêreld wat wemel van prikkels, is daar niks wat my roer soos die geskrewe woord nie. Ek glo alles wat ek lees. Ek vertolk alles wat ek lees persoonlik. Ek is soos die dronkie in die ou grappie: nadat hy die toilet gebruik het, sien hy die woord "Shanks" op die bak en prewel beleefd: "It'sh a pleasure."

As ek in die oggend by die werk my rekenaar aanskakel, groet dit my op Afrikaans:

Hallo Deborah. Nie Deborah nie? Teken asb in.

Hierdie eenvoudige kommunikasiestring neem menige oggend die wind uit my seile. Miskien ken jy daardie oggende wanneer jy net nie heeltemal jouself voel nie? Die oënskynlik onskuldige woorde op die skerm ontketen op so 'n oggend 'n eksistensiële krisis. Wie is Deborah, en is ek, soos Bart Nel, nog sý? Jammer, maar twee opsies is net nie voldoende nie. En ek het meer tyd nodig. Ek teken vir niks.

My identiteitskrisis het deur die klankgrens gebreek nadat my handsak met ID, paspoort en bestuurslisensie tydens die Klopse-optog gesteel is. Ek kon nie daarin slaag om die mense van ABSA te oortuig dat ek is wie ek vermoed ek is nie. En die ry by Binnelandse Sake was so lank dat ek maar in my spore omgedraai het. Nou leef ek kba en incognito, sonder kaart of transport.

Met my ID in vreemde hande is ek waarskynlik intussen al, sonder dat ek die jawoord gegee het, met 'n Taiwannees getroud. Nou ja, 'n huwelik ter wille van die liefde kon ek nie laat werk nie; 'n gereëlde affêre staan waarskynlik 'n beter kans. Veral as ons mekaar nooit ontmoet nie. Vanoggend het 'n sin in 'n ketting-e-pos my laat lag: "My man is so lelik, as hy op die sand gaan sit, probeer die katte hom toekrap." Nou ja, ek is seker my nuwe Taiwannese man gaan my ook nie probeer kontak nadat hy my ID-foto gesien het nie.

Gepraat van iets wat die katte wil toekrap: het jy al ooit die gedig wat ek hier bo per ongeluk met asyn bevlek het, gelees? Dis geskryf in die dae toe versies maak nog 'n prettige affêre was, toe Afrikaans jonk, jeukerig en half-Hollands was. Vir diegene wat nie weet of hulle Komrij of gly nie, haal ek graag 'n vers uit "Tot lof van stront" aan:

Ik hou van drinken en van eten
Ik hou van vleesch, ik hou van visch,
Ik hou van smakelijke beten
In 't kort, van al wat lekker is;
Ik hou van mijne vrindenkringen,
'k Hou van mijn vrouw, 'k hou van mijn hond,
Ik hou van alle goede dingen,
Maar 'k hou ook duivels veel van stront.

Wat my weer laat wonder: Sou ek sonder papiere 'n pos in Ouma Lucy se skadukabinet kon kry? Ek smag na 'n premier met persoonlikheid. Ek begeer 'n portefeulje wat oop is vir interpretasie. En ek soek 'n kopdoek met houding.



LitNet: 02 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.