Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Toenemende tsoenamie van onaangename toevallighede

Deborah Steinmair

Ek het 'n verborge talent. Dit is die teenoorgestelde van serendipity. Vir dié wat nie weet nie of vergeet het:

serendipity   se-ren-dip-iti (n. the making of pleasant discoveries by accident; the knack of doing this.
Oxford Paperback Dictionary).

Soos die vreeslose Jessica Fletcher in die TV-reeks Murder she wrote beskik ek van jongs af oor die slag om onaangename dinge per ongeluk te ontdek. 'n Klippie in die groenbone, 'n drukkersduiwel in die Bybel, die getroude ouderling en die hoofmeisie agter die roosbos. Dié soort van ding.

Partykeer is dit moeilik om te glo dat 'n mens NIE die middelpunt van die heelal is nie. Partykeer is dit moeilik om nie mal te word nie. Sê nou byvoorbeeld 'n kind word op vier jaar ingelei in die verrukkings van seks. Daarna is sy op haar bloedjong oorlewingsmeganismes aangewese om die res van haar kinderjare te navigeer. Miskien begin sy kort daarna koorsagtig lees aan gedigte sowel as die Bybel. Daardeur word haar gemoed op 'n sekere manier gedraad, word haar antennas gespits vir simboliek, onderliggende patroon en metafoor.

Sy is dommer as dom in somme en op skool praat sy min, maar wanneer sy praat, lag die seuns verbouereerd. Sy het 'n woordeboek ingesluk. Sy vaar ook swak in begripstoetse, want sy lees altyd te veel in die vrae. As hulle byvoorbeeld sou vra: Hoekom het Rooikappie in die woud gaan stap? is die antwoord voor die hand liggend vir enige kind wat na die storie geluister het: om kossies vir haar siek ouma te vat. Hierdie antwoord kom nie eens by die kind op nie. Sy skryf sonder aarseling: "Rooikappie was avontuurlustig. Sy was moeg vir haar ma se waarskuwings, soos: moenie met die wolf praat nie. Sy was nuuskierig oor die woud en sy gevare." Oeps, verkeerde antwoord. Later leer sy om eenvoudiger te praat.

Die kind vaar goed in sekere dele van IK-toetse, bv: a pen is to paper as a nail is to …

By ander afdelings, die reekse syfers waaruit 'n patroon herken moet word, merk sy sommer enige opsie vir die lekker: A, dan E, dan B, B, B, C, dan weer A. Sy is in elk geval hopeloos met monkey puzzles: as daar vier moontlike antwoorde gegee word, sien sy meriete in twee of drie van die antwoorde. Besluitneming is hel. Sy kyk altyd af grond toe, want sy is besig om een of ander kwessie in haar kop uit te worstel. Sy sien oral patrone, tekens en simbole. As sy nie op die lyne trap nie, sal Ouma gesond word. As die toiletpapier mooi op die geperforeerde streep afskeur, sal sy nie na die swartbord geroep word om die langdeelsom te verduidelik nie.

Alles op aarde hang van haar af. (Wie was dit wat gesing het: "I started a joke which started the whole world crying"?) Wanneer sy hoor van 'n moord wat êrens op die aardbol gepleeg is, voel sy heimlik skuldig. Later sal sy lees dat Hamlet, die depressiewe Deen, gesê het: as ons almal die behandeling moes ontvang wat ons verdien, sou nie veel van ons die sweep vryspring nie. Dat die apostel Paulus gesê het: almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God.

Later, ongeveer die tyd toe haar tydgenote grootmensseks ontdek, word sy diep godsdienstig. Sy verkies die teatrale road show van rumoerige tentkerke. Sy praat in tale. Profesieë en visioene dring hulself aan haar op. Sy omhels eenvoud, naïwiteit, ontkenning van die self. Die turksvy van heiligmaking. "The willing suspension of disbelief." Die wêreld word 'n woordslaai. Elke straatnaam bevat 'n boodskap.

Daar is 'n wonderlike boek deur Don Delilo: Libra. Dit gaan (soort van) oor die sluipmoord op JF Kennedy. Hier word 'n baie interessante teorie voorgehou: die mense wat saamgesweer het om Kennedy te vermoor, het nie van mekaar geweet nie. Daar was iets in die lug, 'n kollektiewe tydsgees, wat verskillende mense op verskillende plekke daarvan oortuig het dat JFK moes sterf. Hulle het onderbewustelik soos een organisme saamgewerk. Dit was 'n idee wie se tyd aangebreek het. So was dit ook met sekere groot wetenskaplike uitvindings wat op dieselfde tyd in verskillende wêrelddele gemaak is sonder dat die uitvinders saamgewerk het.

Sjjjjjt: luister … Daar is iets in die lug en sekere wanaangepastes soos

  1. paranoïese skisofrene
  2. jagse lekepredikers
  3. swaksinnige digters
  4. mal wetenskaplikes en
  5. kwylende profete

is uniek bedraad om die seine op te tel.

Oukei, kyk hier: ek is baie jammer dat ek 'n paar maande gelede my rubriek se naam Fratsgolf gegee het. Ek is jammer as hierdie naam enige iets te doene gehad het met die koms van die tsoenamie en ek is jammer as die rubrieknaam in die nadraai van hierdie ramp polities onkorrek voorkom.

Begripstoetsvraag: Tot watter van die bogenoemde groepe behoort die skrywer na u mening?

  1. a
  2. b
  3. c
  4. d
  5. e
  6. al die bogenoemdes.



LitNet: 20 Januarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.