Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Blogpraatjies

Deborah Steinmair

Die wêreld het so klein geword. Toe ek vanoggend vroeg die TV aanskakel, sê 'n weerman: "… turning a bit chilly in Delhi".

Nuwe woorde waai gereeld tot in ons sitkamers. Ons het 'n giftige vloekwoord bygekry: tsoenami; en dit het niks met soesji, macrame of shitake te doen nie.

Nog 'n zoemwoord is blog, op die Engels uitgespreek, soos new kid on the blog. Ingeval jy 'n mental blog oor jargon het: blog of weblog is 'n aanlynjoernaal, 'n soort dagboek op iemand anders se webwerf. Jy kan maar sê sekere regulars het hul eie blogs op SêNet. As Hitler vandag geleef het, was Mein Kampf dalk daagliks in blogformaat op die een of ander webwerf, prrrr … aaaag, ons noem liewer nie name nie. As Thoreau elektrisiteit gehad het, was Walden dalk 'n blog. Of Anaïs Nin se Allsorts-sekskapades.

In hierdie lewe is ons almal miskien maar net op soek na 'n webwerf met 'n goeie argief. SêNet se argief was voorheen lomp en ontoeganklik, maar nou is alles gelukkig begoogle. Papiere waai weg, koerante vergeel, boeke gaan uit druk of word versnipper weens gebrek aan stoorplek, stiffies verslap en motherboards stort in duie: kortom, kommunikasie is so vervlietend soos om jou naam in die sand te skryf. Maar haak jou waentjie aan 'n webwerf met 'n stewige databasis en deeglike argivering en jou lewe mag aan die vergetelheid ontruk word.

Ons het eenmaal hierdie obsessie met rekord hou. Omdat ek nie my TV se remote onder die knie kan kry nie, kan ek sedert my laaste trek net SABC3 opvang. Daar sien ek laatnag verstommende dokumentêre soos die een oor Fat Women and Feeders. Een voerder het sy hele siek fantasie, om 'n vet vrou in te palm en stelselmatig soos 'n gemeste kalf tot duskant die dood vetter te voer, op video vasgelê: die laaste keer wat sy kon regop kom, die laaste keer wat sy in die gang kon pas, ens. Dan lewer hy boonop blinkoog kommentaar: "Aw, this is so beautiful, see how big she was, just look at the stretch marks, I don't look at this often, I save it for special occasions, it can just make me climax in no time." Soos die Skim in laas Sondag se Rapport Tydskrif so onvergeetlik vir sy hond Duiwel gesê het: "'n Torpedoboot gelaai met brisante springstof".

Dan was daar die dokumentêr van die Duitser wat sy internet-losgelukkie (hy was 'n loslappie?) ge-Bobbit, opgekerf en stuk-stuk opgeëet het. Hy het die slagting op video vasgelê en beeldmateriaal op die internet beskikbaar gestel. Nou ja, hoeveel huishoudings weet in elk geval nog aan watter snit van watter dier hulle kou nadat dit 'n paar maande in die vrieskas was? My vriend Attie het vertel van sy niggie, 'n stadsmeisie, wat met 'n boer gaan trou het. Toe sy hele familie die eerste Kersfees na die wittebrood op hulle toesak, het haar kop uitgehaak. Sy is in die spens aangetref, halflyf in die deep freeze met 'n byl oor die skouer, waarmee sy na 'n halwe bevrore skaap mik terwyl sy prewel: "Waar sit die tjops?"

Miskien is liefde, soos die poppies op die kussingslope destyds gesê het, om 'n blog van jou hart aan iemand af te staan. Paul Simon het al lankal gesing: "losing love is like a window in your heart, everybody's sees you're blown apart". Gert Vlok Nel se hart was skoon vir die Here en Tintin om in te woon. Bob Dylan het gesê hy sal my in sy droom laat wees as hy in my droom kan wees. Bob, Bob, Bob!

Miskien is blogs 'n bietjie soos om op iemand se lyf te skryf, soos in die verruklike fliek The Pillow Book, waar 'n Oosterse vrou haar minnaars se lywe van bo tot onder beskrywe het, tot op die ooglede en skrota. Of soos die wonderlike Van Veen-song "Arme Nel": "Zij was toen getrouwd met de dichter, beroemd geworden om zijn op haar lijf geschreven versen, maar toen zijn naam van de bestsellerslijst verdwenen war, ging hy ook snel … arme Nel." So iets; ek haal uit geheue aan en my Nederlands is verdag.

Dankie dat jy my blog lees.



LitNet: 18 Januarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.