Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Werklose mense word vroeg wakker

Deborah Steinmair

Hoe vang 'n mens die soustrein? Sê nou jy loop per ongeluk onder die leer van sukses deur terwyl dit teen die muur leun? As fokus nie jou sterk punt is nie, word jy in November werkloos wakker. En werklose mense word vroeg wakker.

Dit het sleg begin. My eerste werk, terwyl ek nog geswot het, was by AA Onderlinge Versekeraars bo in Kerkstraat in Potchefstroom. Soos die noodlot dit wou hê, het ek 'n kantoortjie gedeel met die drie kleinste vroutjies wat jy ooit bymekaar gesien het. Al drie was om en by vyf voet kort en boonop skraal en tenger. Ek het reusagtig gevoel. Ek het besluit om ten minste 'n skadelose reus te wees. Ek het geen vinnige bewegings gemaak nie, ek het sag gepraat om hulle nie bang te maak nie. Eendag kom 'n vriendin van my inloer op kantoor. Sy was 'n dramastudent met 'n luide stem; lank, robuust en blink. Sy het met haar hande op haar stewige heupe gaan staan en in 'n stem wat 'n ouditorium sou vul, uitgeroep: "Got, vir wat is julle almal so piepklein?" Die fyn vroutjies het verskrik teruggedeins. My hart het geswel van solidariteit: versterkings uit die land van Amasone. Ek het kort daarna gedros, eenvoudig weggeloop met my nommer 7-skoene. Dit het beteken dat ek nooit weer in daardie deel van die dorp kon kom nie.

So het dit min of meer aangegaan. Selfhelpboeke raai jou aan om nooit jou werk te bedank voordat jy verseker is van 'n beter posisie nie, ens ens. Maar wat as jy van kleins af jou branderplank op 'n fratsgolf balanseer en gewoond geraak het aan kartels, esse en figure eights, om in die breukdeel van 'n sekonde heeltemal van rigting te verander om staande te bly? Wat as William Blake se onsigbare wurm van kleins af girts-girts aan jou binnegoed knaag en die gras altyd groener aan die anderkant van die heining lyk? Glo my, diversiteit lyk nie goed op 'n CV nie. Al wat saak maak, is dat die grafiek van jou werksgeskiedenis 'n stygende lyn toon. My CV se grafiek lyk soos die leuenverklikkertoets van 'n senuweewrak.

Naby een van my vele werke was daar 'n boskroeg met die onvanpaste naam Swiss Tavern. Daar het ek en my suster soms na werk 'n drankie gaan drink. Daar was 'n regular, 'n ou wat sy werk verloor het en te skaam was om vir sy vrou te sê. Dit het beteken dat hy elke oggend opgestaan en aangetrek het vir werk en dan vir die duur van kantoorure in die Swiss Tavern gesit en ginnegaap het. Daar was so 'n roekelose, maniese vrolikheid omtrent hom.

As die beroepsmatjie in November onder jou voete uitgeruk word, word Kersfees afgestel weens 'n gebrek aan belangstelling. Jou vakansieplanne los op soos 'n Disprin in 'n vuil tandeglas. Tyd verloor alle betekenis. In Amy Tan se boek The Kitchen God's Wife, vertel sy dat die Sjinese in die tyd van koelbloedige Japannese invalle 'n nuwe woord gemunt het, een woord vir die uiterse vrees wanneer tyd gaan stilstaan en dit voel asof jou bene in jellie verander. Gesien in die lig van die groter prentjie, is om werkloos te wees in November nie heeltemal so drasties nie. Dis nie jou bene nie, maar jou maag wat in jellie verander. Dis nie 'n onaangename gevoel nie. Dis baie nou verwant aan seksuele begeerte, so 'n rigtinglose, aardskuddende wanhoop in die onderbuik, asof jou maag sak soos 'n hysbak. 'n Mens kan maklik daaraan gewoond raak. As 'n mens genoeg tyd het, kan jy natuurlik aan enige iets verslaaf raak.

Teen November is almal siek en sat vir hulle kantore. SêNet is besiger as ooit. Almal leef net vir hul jaarlikse verlof. Maar as jou jaarlikse verlof onverwags vroeër aanbreek en boonop geen einde het nie, verdof die allure. Dit is soos ouers wat 'n rokende laerskoolkind straf deur vir hom 'n hele pakkie Gunston te gee en te sê: "Goed, rook, rook nou as jy dan wil rook." Dis soos om 'n hele kilogram fudge op een slag op te eet.

Ek dink ek gaan die Greyhound vang na die Swiss Tavern op De Wildt. Ek weet nou presies op watter stasie die werkose regular was. Gooi nog 'n dop daar, broer! Wir kommen nie wieder so jung zusammen! Hopla!

 

LitNet: 22 November 2004

Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.