Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die insident met die skandalige sandale

Deborah Steinmair

"Die skoene moet jy dra." Aldus Valiant Swart. Daar is nogal baie songs oor skoene. "These boots were made for walking … they're gonna walk right over you." Ons eie Anneline het in haar misplaaste sangloopbaan "He took off my Romeos" gesing. Ek het simpatie met Anneline, al is sy so mooi. In skoene kon ek ook nog nooit my voete vind nie.

Visse, as 'n mens in daardie soort van ding glo, ly aan hulle voete. Pisces bedoel ek nou. Toe ek klein was, het my broers, 'n sadistiese identiese tweeling, graag 'n breipen onder my kaalvoet probeer indruk om te bewys dat ek nie 'n voetbrug het nie. (Hulle voete is, soos alles aan hulle, volmaak gevorm, met 'n hoë en sierlike brug.) Die saak is min of meer reggestel deur korrektiewe skoene - darem nie steweltjies nie, net skoolskoene met so 'n vleeskleurige insetsel waaroor ek my oë uit my kop geskaam het in die LO-klas. Tog bly skoene 'n probleem. 'n Intens persoonlike probleem.

My sexy hoëhaksandaal-fase was kort en rampspoedig. Toe ek in een van die pynlike inkarnasies van my beroepslewe eenmaal as sekretaresse in 'n fabriek gewerk het, het ek die oog gevang van 'n hooggeplaaste Teutoniese pierewaaier op besoek uit die moedermaatskappy in Duitsland. Tussen sy besoeke het hy daagliks gebel en vurige vonkposse gestuur. Eendag was daar 'n e-pos vol instruksies: ek moet hom die volgende week op die lughawe gaan haal. Ek persoonlik, nie die drywer nie. Ek moet asseblief iets vrouliks aantrek, en asseblieftog nie die ou lomp veterskoene waarin ek gewoonlik rondslof nie. Nou, maats, ek was jonger: minder sinies en veel yweriger om te plesier.

So staan ek toe en wag by International Arrivals in 'n fleurige romp en 'n paar sandale wat my ma heel bo uit haar hangkas opgediep het. 'n Paar sandale uit die laaste blos van my ma se seksbomdae: Italiaans, met hoë kurkplatforms en bandjies van die sagste leer. Ongelukkig het ek net die vorige week, toe 'n goeie vriend van my onverwags dood is, in diepe smart my hare poenskop laat skeer. Dit het die Vrouekeur-prentjie effens bederf. "Igel" (krimpvarkie) was dan ook die besoeker se eerste woord aan my. Kort daarna gevolg deur die opmerking: "Iets skort met jou hak." Toe ek afkyk, besef ek die volgende: kurk het nie 'n baie lang rakleeftyd nie. Tien-plus jaar bo in 'n hangkas is waarskynlik nie wenslik vir sandale nie. Aan my voete het Ma se sandale soos 'n koekie begin disintegreer. Rondom my voete lê daar 'n spoor krummels soos wat Hansie en Grietjie gestrooi het om weer hul pad uit die woud te vind. Ten minste het ons nie gesukkel om die kar op te spoor nie. Soos ons aanstap parkade toe, verloor ek hoogte. Verloor ek kurk. En gesig.

Net daar het ek 'n paar dinge besef:

1. Ek is nie Aspoester nie.
2. Ek is geen man se fantasie nie.
3. Ek het nie 'n voet om op te staan nie.
4. Kan hierdie verhouding gered word? Hel, nee.

 

LitNet: 18 November 2004

Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.