Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

My bekertjies is leeg

Deborah Steinmair

Ons het almal gehoor van serotonien: die geluksvog wat die brein vervaardig en in houertjies stoor, soos olie in die lamp van die maagde, soos die psalmis wie se beker oorloop. Soos die deugsame vrou van Spreuke wat lag oor die dag van môre. Ek het grootgeword met die Bybel, dit het my in die arms van die digkuns gedryf.

Nou ja, soms gebeur dit dat die fabriekswerkers in die brein staak. Die produksielyn staan en die bekertjies van geluk loop leeg. Wat nou gemaak?

Wend jy jou na Dainty die shrink, en begeef jy jou in die apteek, koop jy 'n dosie pilletjies wat beloof om die chemiese wanbalans reg te stel. Toe ek 'n kind was, het ons graag vir mekaar gesê: kry 'n botteltjie grip, koop 'n boksie rigting. Aha, die verrukking van wetenskapsfiksie is dat alles mettertyd waar word.

Sluk jy die kapsuletjie grip, voel jy aanvanklik niks. Weke later, eers ongemerk, sluip 'n sekere gevoel van schmalzy well-being in: jy betrap by jouself 'n teerheid teenoor objekte, asof 'n trui wat oor die spieëlkas gedrapeer is, die persoonlikheid, die gerusstellende teenwoordigheid van 'n intieme vriend aanneem, so 'n Anne of Green Gables/Little Women/Little house on the prairie-gevoel. Verlede week het dieselfde trui soos die geskende slagoffer van 'n reeksmoordenaar gelyk. Weg is die vervolgingswaan en trolliewoede waarmee jy oor jou skouer geloer het in die supermark: is die geluid van wieletjies agter jou 'n vyand wat jou achillessening wil verbrysel? Daar huiwer nou 'n goue glans rondom voorwerpe, soos in die soaps. Die lewe word 'n hysbak vol muzak. By die geringste provokasie swel jou hart met triomfantelike hoop soos toe jy die eerste keer Chariots of fire gesien en Vangelis se temamusiek gehoor het. 'n Tere snik smoor in jou keel.

Wat my bring by 'n fratsagtige bekentenis: ek is bang vir geluk. Geluk het 'n slegte naam gekry. Geluk is suburban, geluk is seksistiese novelletjies van passie wat uitloop op 'n bruilof, geluk is Afrikaanse musiek waarvan die lirieke bestaan uit drie- en vierletterwoorde wat rym. Geluk is die "aaaaaaahhh sweeeeeet …" van die geblikte gehoor wanneer 'n mammie en pappie mekaar in die kombuis soen in 'n Amerikaanse sitkom. Geluk is 'n begrafnispolis, 'n Floro-moment waar 'n kaalvoet pa met terugwykende haarlyn in 'n herfsrooi park saam met sy twee blonde spruite huppel.

Veel verleideliker is smart. Ryker, donkerder, vrugbaarder. Die droewe mineurklank wat hunkerend en onvoltooid bly hang. Die versugtende koortjie aan die einde van 'n TV-reeks: "A-a-a-a-nd dance by the light of the moon." Behoede my teen die mooi dinge in die lewe.

Ek bly hoop op die wetenskap. Al hoe gesofistikeerder word die doepa teen wanhoop. Hopelik sal daar spoedig 'n tweeledige tablet op die mark wees. Ek visualiseer dit as 'n pers en geel tablet: die geel maak jou weerbaar vir die alledaagse, sonnig in die supermark, geduldig in die kitsbanktou, gemotiveerd op kantoor. In die dieper momente van die lewe skop die pers in en stel jou in staat om die onderbuik van bestaan huidloos en naak te ervaar.

Laat geen beker by jou verbygaan nie.

Ek eindig met 'n chemiese grap:
Vraag: Wat is erger as Brenda op crack?
Antwoord: Felicia op E.

 

LitNet: 14 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.