FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Whale Rider

Suzette Kotzé
verbatim@intekom.co.za

Spelers: Keisha Castle-Hughes, Rawiri Paratene, Vicky Haughton, Cliff Curtis
Regisseur: Niki Caro

Flieks wat ‘n kykie gee in ‘n spesifieke kultuur is altyd interessant, veral as dit ‘n bedreigde of half uitgestorwe kultuur is. In daardie sin is Whale Rider, wat oor ‘n klein gemeenskappie Maori’s in Nieu-Seeland handel, ook ‘n stuk bewaringswerk.

Die verhaal is gebaseer op die boek van Witi Ihimaera en handel oor die ou legende van Paikea, die “whale rider” en oervoorvader van die Maori’s wat op ‘n walvis by die suidsee-eiland aangekom het en daar ‘n volk geplant het. Daarom word elke eersgeborene seun van sy lang ry opvolgers ook Paikea genoem, die leier van die gemeenskap.

Maar met die huidige gemeenskap is daar ‘n groot probleem — die ou paikea (Rawiri Paratene) se oudste seun (Cliff Curtis) stel nie belang om die (grootliks simboliese) leierskap by sy pa oor te neem nie en die pa vestig sy hoop op sy eersgebore kleinkind. Die eersgeborene is toe ‘n tweeling, ‘n seun en ‘n dogter, en die seun en sy ma sterf kort ná die geboorte. In sy smart dring hulle pa daarop aan dat die dogter Paikea gedoop word. Kort daarna verlaat hy die eiland vir Europa en die dogtertjie word deur haar oupa en ouma grootgemaak. Ten spyte van sy aanvanklike teensin ontstaan daar deur die jare ‘n baie hegte band tussen Paikea en haar oupa.

Die lot van die agteruitgaande gemeenskap druk egter al swaarder op die ou leier en hy voel ‘n al groter behoefte dat ‘n leier hom moet opvolg — maar nooit Paikea nie, want sy’s ‘n vrou. Uiteindelik besluit hy om van die tradisie af te wyk en al die eersgeborene seuns op te lei in die Maori-tradisies en -gevegskuns — uit húlle sal hy dan uiteindelik die nuwe paikea kies. Maar haar roeping as leier, wat bevestig word deur haar mistieke verbintenis met die walvisse, pols te sterk in Paikea. Sy leer, teen haar oupa se wense in en op haar eie manier, die Maori-gevegskuns en -tradisies, met voorspelbare gevolge. Die verhaal kulmineer in ‘n dramatiese ommeswaai vir die ou paikea, en ‘n gelukkige einde.

As ‘n (amper Disney-agtige) avontuurverhaal vir kinders is Whale Rider baie bevredigend. Daar is kennelik baie moeite gedoen met die stelle, die fotografie is besonders en die tonele met die walvisse is groots en misterieus. Maar, en dis ‘n groot maar … op ‘n manier het die fliek my eenvoudig koud gelaat. Daar is iets wat kort. Iets baie belangriks — noem dit egtheid, ‘n sekere oortuigingskrag. Dis asof die produksie in alle opsigte net te afgerond en glad is. Die verarmde, verwesterse maar tog menswaardige Maori’s lýk net nie outentiek nie, nie soos ek al in soortgelyke films gesien het nie. Alles, van hul klere tot hul liggaamstaal lyk te fyn uitgedink, te goed afgerond. Dit lyk te eerstewêrelds, soos die vervaardigers van hierdie film (Nieu-Seeland, Frankryk en Amerika) inderdaad ook is.

Daar is egter een aspek van die film wat my laat regop sit het: die spel van die jong aktrise Keisha Castle-Hughes as Paikea. Dáár het jy nou iets besonders — as dit maar net deurgetrek kon word na die hele film.

Whale Rider word met groot fanfare ‘n “kunsfliek” genoem. Jammer, maar myns insiens kom dit nie die mas op in daardie kategorie nie.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.