FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Lord of the rings: The two towers

André Crous
cinephile2@yahoo.com

Die gesegde lui dat die wêreld in twee verdeel is: die een groep het alreeds JRR Tolkien se Lord of the rings gelees, en die ander sal nog. Ek betwyfel dit al hoe meer, en ek dink dat as ek dit regtig wou lees, ek dit al sou gedoen het.

Laat ek eerstens sê dat Two towers — ongelukkig — deel uitmaak van die veelbehepte trilogie van Lord of the rings. Dit is dus nie ’n fliek op sy eie nie, maar moet — volgens sy verdedigers — in hierdie konteks gesien word as ’n gedeelte van die geheel.

My een probleem hiermee is dat die kyker wat nog nie die eerste deel, Fellowship of the ring, gesien het nie, bitterweinig van Two towers sal begryp. Is dit prakties, of regverdig, om van die regisseur Peter Jackson te verwag dat hy sy idee van drie drie uur lange flieks moes prysgee vir ’n enkele nege-uur-fliek? Miskien nie. Maar dis nie ’n verskoning nie.

My ander probleem met die argument van die verdedigers van die fliek is die feit dat hierdie fliek tog as sulks vrygestel word. Dit is ’n fliek, en as enigiets nie duidelik is nie (omdat dit op een of ander wyse uit die vorige fliek spruit), is dit die fliek se skuld, nie die kyker s’n nie.

My gunstelingvoorbeeld in hierdie verband is die Star wars-trilogie — en ek praat hier van die goeie films, naamlik episodes 4, 5 en 6, vrygestel tussen 1977 en 1983. Die Star wars-films was elkeen volledig, en hulle kon afsonderlik met redelike begrip gekyk word deur iemand wat nuut tot die reeks kom. Hulle het egter ook saam ’n volledige geheel gevorm.

Hier, met Lord of the rings, is dit ’n absolute voorvereiste dat al drie films gekyk word. Aan die begin van Two towers is daar geen verduideliking of opsomming van wat reeds gebeur het nie.

Die draaiboek is nie baie goed nie. Goed, ek weet dat Peter Jackson en sy spannetjie medeskrywers ’n buitengewoon komplekse roman geneem het en dit verwerk het — ons kan bly wees dat ons nie met drie nege-uur-flieks opeindig nie — maar sy oënskynlik lukrake uitsny van detail is in alle opsigte problematies.

Die Tolkien-fanatici sal kwaad wees omdat die waarheid verdraai of verander word, maar sal tog weet wat om met die gate te doen, want hulle ken die storie. Die onskuldige, maagdelike kyker sal nie deur veranderings ontstel word nie, maar die gate kan nie deur agtergrondkennis opgevul of die loose ends deur middel van transliterêre kennis saamgebind word nie. Jackson het nie genoeg tyd aan sy draaiboek spandeer om ’n baie verstaanbare fliek te produseer nie.

The two towers het vir my net weer eens onderstreep wat ’n swak akteur Elijah Wood is. Dit is eintlik skokkend dat iemand soos hy toegelaat word om die hoofrol te speel in so ’n groot produksie. Hy is Frodo Baggins, die een wat die berugte ring na Mordor moet neem en vernietig. Hy word vergesel deur Sam Gamgee (gespeel deur Sean Astin), en Gollum, ’n karakter wie se vel so glibberig soos sy karakter is.

’n Tweede groep karakters wat deur die loop van hierdie fliek gevolg word, is Pippin en Merry, twee ander hobbits (kort mensies met groot voete, soos Frodo en Sam). Hulle ontmoet ’n “Ent” (’n boom wat kan loop en praat), Treebeard, en eindig uiteindelik by Isengard, die een toring — Saruman, die bose towenaar, se magsentrum. Die ander toring is dié van Sauron, in Mordor. Die aksie in dié fliek vind meestal plaas op die terrein tussen hierdie twee torings.

Die derde groep is die interessantste. Aragorn (Viggo Mortensen), Legolas (Orlando Bloom) en Gimli (John Rhys-Davies) lei die mense van Rohan, onder leiding van hul koning Théoden (Bernard Hill), na ’n veilige vesting: Helm’s Deep. Dit is hier waar ’n massiewe slagting sal plaasvind voordat die eindcredits rol.

Aragorn is by verre die beste karakter. Ongelukkig word die ritme van die flieks — hier veral, en tot ’n mindere mate in Fellowship ook — onderbreek deur drome en hallusinasies van hom (ja, Aragorn verbeel hom hierdie tonele wanneer hy sit en rook aan sy pyp weed!) en Arwen (Liv Tyler), die elf wat haar onsterflikheid wil prysgee, sodat sy saam met hom mag wees. Is sulke romanse regtig nodig? Ek het Éowyn (Miranda Otto) se subtiele belangstelling in Aragorn baie meer interessant gevind.

So is hierdie fliek goed of nie?

Die fliek is taamlik goed.

Die eerste aantal tonele tussen Frodo en Sam is net plain irriterend, veral weens Elijah Wood se onvermoë om enige ware emosie te produseer. Hy lewer sy stukkie dialoog in ’n aangeplakte aksent en ons moet dit sluk.

Gollum, die rekenaargeskape karakter wat danksy Andy Serkis beweging gegee is, is goed gedoen, maar sy dialoog word later herhalend en vervelig.

Sam se monoloog aan die einde voel soos ’n ander fliek. Sy woorde raak selfverwysend en is heeltemal onnodig. En wat is die deal met Sam en Frodo se verhouding? Hulle is ewe oud, tog kom Sam meer soos Frodo se slaaf voor as enigiets anders.

Aragorn, Legolas, Gimli, koning Théoden en Éowyn is almal baie goed, en vorm uiteindelik die enigste groep waaroor ek regtig omgegee het.

Al drie groepe se stories eindig met belangrike gebeurtenisse — elkeen van die drie stories het sy eie katarsis — en hiermee red die fliek homself.

Peter Jackson bewys homself as ’n baie talentvolle regisseur, en die sukses van die verfilming van die slag van Helm’s Deep berus by hierdie man.

Uiteindelik, aan die einde van die drie uur, voel dit egter nie vir my asof baie regtig gebeur het nie. Die fliek is mooi afgeneem en die musiek is goed. Maar ek voel nie bevredig nie.

Dis ’n epiese fliek. Nie net weens sy lengte nie, maar omdat ons soveel uitgestrekte vlaktes, sneeubedekte bergtoppe en goue heuwels sien, en omdat die reis self sulke epiese proporsies aanneem. Daar is mense en hobbits en elwe en dwerge en wit towenaars en lopende bome en Uruk-Hai (skepsels waarvan oorlogvoering die primêre funksie is). Dit is ’n fantastiese wêreld waarin enigiets kan gebeur.

Die grootte van die flieks oorweldig my, ek erken dit. Miskien is die fliek nie regtig so wonderlik nie, maar ek kry die gevoel dat ek daardeur ingesluk word. Ek het duidelik probleme met die film, maar Middle-Earth is so ’n interessante plek om te verken dat ek die fliek toelaat om my meer en meer daarvan te wys.

Dit voel net asof baie min in hierdie episode uitgerig word. Ek sien nou regtig uit na die derde, finale deel — Return of the king — wat op 17 Desember 2003 vrygestel sal word. Dan sal al die besware hopelik aangespreek word (behalwe vir Elijah ...) en sal ons uiteindelik getrakteer word op ’n behoorlike nege-uur-fliek.

Tot dan sit ons maar met ’n flouerige opvolger tot Fellowship.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.