FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Die beste films van 2005

André Crous

Ek weet ek het ‘n goeie fliek gesien wanneer ek by die teater uitloop en nie my bene kan voel nie. Ek vind my pad danksy ‘n sekere outomatisme; nie heeltemal bewus van die wêreld rondom my nie, keer my kop terug na tonele van gevoel en beelde vol betekenis en skoonheid. Die vloed van die filmmedium het oor my gespoel, my meegesleur sonder dat ek dit kon keer. Alles het perfek saamgewerk om ‘n ondervinding te produseer wat groter is as die som van die afsonderlike komponente.

Die twee films wat vanjaar boaan my lys verskyn, het dié gevoel by my geskep. Ek het die volgende aand teruggekeer om weer te kyk en het dieselfde reaksie gehad.

Die een is Crash: ‘n ernstige, multikarakter-opera wat kyk na die verskillende vorme wat rassisme aanneem en die invloed op menseverhoudinge.

Die ander heet Undertow: ‘n meer poëtiese verhaal wat plaasvind in die Amerikaanse Suide en fokus op vier manlike karakters in ‘n familie. Die film speel af in ‘n oorweldigende ryk atmosfeer en het ‘n sterk storie met ‘n magdom subtiele elemente wat elkeen bydra tot die intrige.

Met die opstel van dié jaar se Top 10 het ek die ongewone besluit geneem om ‘n film in te sluit wat nie in Suid-Afrika bekendgestel is nie, maar met goeie rede: dit is nodig dat ander kykers kennis neem van die fliek. Die fliek se naam is Undertow. Ek gebruik hierdie geleentheid dus ook om my voortslepende skok en afsku mee te deel oor die feit dat Undertow nie deur Suid-Afrikaanse filmverspreiders opgemerk is nie en dat daar is geen indikasie is dat die film in Suid-Afrika versprei sal word nie.

Kykers moet egter weet dat hulle van kuns ontneem word. Die filmresensent is immers ook daar om die publiek bewus te maak van films wat nie in die kalklig is nie, maar daar hoort. Daarom plaas ek my resensie van Undertow op hierdie webtuiste, sodat diegene wat belangstel, ‘n blik daarop mag kry; dit moet ongelukkig probeer vergoed vir die gebrek aan inisiatief by ons verspreiders.

Was 2005 ‘n goeie filmjaar? Ek voel bevoorreg om Crash en Undertow te kon ontdek het, en as ‘n jaar maar net een fliek soos hulle kan oplewer, is dit al byna genoeg.

Ek was verbaas (en werklik gelukkig) dat Elephant in Suid-Afrika uitgereik is ... ‘n volle twee jaar na dit by Cannes met die Goue Palm bekroon is! Hopelik word die laaste wenner by Cannes gouer vertoon: The child, ‘n sosiale drama wat draai om ‘n jong, ongetroude paartjie en die baba wat die man sonder die ma se wete verkoop. Die regisseurs – met twee Goue Palms agter hul naam – se films is nog nooit in Suid-Afrika vrygestel nie.

Waarna kan ons uitsien in 2006? Daar is Brokeback mountain, die sogenaamde “gay Western”, waaroor ek binnekort sal uitbrei in ‘n artikel op hierdie webtuiste.

Kortliks word George Clooney se Good night, and good luck. ook bekendgestel. Dit is ‘n film wat afspeel in swart-en-wit gedurende die tydperk van McCarthy en sy heksejagte. Die film se standpunt oor Bush en sy terrorisme-histerie is opvallend maar nie uit proporsie nie.

Verder kan ons uitsien na Spielberg se omstrede Münich teen die einde van Januarie. Maar die groot datum is 19 Mei, wanneer The Da Vinci Code (die film) wêreldwyd op skerms vertoon sal word. Superman keer terug in Superman returns (Julie 2006), en dit sou voorkom asof Hell, die tematiese opvolg tot 2002 se pragtige Heaven (Cate Blanchett en Giovanni Ribisi) en ‘n kragtoer vir die regisseur, in Oktober in Suid-Afrikaanse teaters sal verskyn. Kom ons hou duim vas.

1.   Crash
1.   Undertow
3.   Hero
4.   Elephant
5.   Motorcycle diaries
6.   I heart Huckabees
7.   Finding Neverland
8.   Hotel Rwanda
9.   Ray
10. Bad education


1. Crash

Crash bestaan uit ‘n netwerk van stories wat afspeel in Los Angeles teen ‘n tematiese agtergrond van rassisme.

Die stories is vol emosie, en die tonele word ritmies sterker en sterker. Daar is twee groot emosionele hoogtepunte in die film. Een hiervan is Matt Dillon en Thandie Newton se tweede ontmoeting, ‘n toneel versterk deur musiek wat ander karakters betrek en gevoel met formidabele bekwaamheid oordra.

Die film se uniekheid spruit uit die onverwagte ineenskakeling van gebeure. Hulle neem nie die verwagte pad nie; toeval bring enorme veranderings teweeg, terwyl dit die perfekte reaksie (een van verwondering en bewondering) by die kyker skep.

Elke toneel is nodig, elke reaksie in elke toneel is nodig, want die draaiboek bou op elke asemteug; niks is oorbodig nie en alles is interessant.

‘n Meesterstuk met gesoute akteurs (Don Cheadle, Matt Dillon), maar ook akteurs wat dikwels onderskat word (Sandra Bullock, Brendan Fraser, Ryan Phillippe) en akteurs sonder veel ondervinding.

1. Undertow

Naby die einde van Undertow kyk die 18-jarige Chris in die spieël. Die afgelope twee dekades was nie vir hom maklik nie, en onlangs het dinge net vererger. Hy moet sterk wees vir sy jonger broer se onthalwe, maar hy voel alleen en weet nie wat om volgende te doen nie. “I like the questions you ask yourself,” sê hy sonder om filosofies te klink.

Hierdie is net een meesterlik menslike sin uit ‘n film wat my gegryp het met die eerste en gelos het met die laaste toneel. Die film het insig in die menslike psige, situasies wat op unieke maniere verfilm word en dialoog wat jy nog nooit gehoor het nie maar wat perfek pas … (Klik hier om verder te lees.)

3. Hero

Dié jaar se mees indrukwekkende gebruik van film as visuele medium. Dié film, wat tegnies sowel as narratief ‘n verbetering op Crouching tiger, hidden dragon is, seil bo-oor enige teenstander. Regisseur Zhang Yimou (van die 1991-meesterstuk Raise the red lantern) se magiese gevegstonele sal die kyker óf laat neerbuig in eerbied óf laat opspring met gedeelde energie. Kollega Suzette noem dit tereg “visuele poësie”. Die film is iets waaraan die kyker deel het op meer as vermaaklike of intellektuele wyse. Dit transendeer die tradisionele wyse waarop ons films kyk en dwing ons om betrokke te raak op byna spirituele vlak.

4. Elephant

Elephant, wat gebaseer is op die massamoord by die Columbine Hoërskool in 1999, is ‘n verhaal wat nie verklarings bied vir die aksies van sy karakters of vir sy titel nie. Dis ‘n film met ‘n sin vir die verbygaan, die wegglip van tyd. Die akteurs is uitsonderlik en vanaf die eerste toneel (waarin ‘n dronk pa sy seun skool toe probeer bestuur) broei die atmosfeer met ongemaklike spanning – Beethoven se Maanlig-sonate ten spyt. ‘n Eerlike sosiale drama wat uiteindelik tragiese proporsies aanneem.

5. Motorcycle diaries

Dit bly in ons agterkop dat die storie gaan oor die mees kommersiële gesig in die wêreld, Che Guevara, maar ons vergeet daarvan. Die draaiboek is baie slim in hoe dit ons intrek en deel maak van die politieke atmosfeer soos dit ervaar is deur Ernesto (wat later Che sou word) en sy vriend Alberto op hul reis deur Suid-Amerika. Dié reis, ‘n droom wat hulle sedert hul kinderjare koester, wys ‘n manjifieke kontinent verkrag deur ongeregtigheid uit verskeie oorde. Albei hoofakteurs is uitstekend en daar is geniale oomblikke gepeper deur die storie.

6. I heart Huckabees

Kan ons ‘n film ernstig opneem wat eksistensiële speurders as hoofkarakters in ‘n oorverligte dorp met oorverligte vertrekke het en oomblikke van Chaplin-agtige oordrewenheid het (sien die openingstoneel)? Hierdie is een van die mees onkonvensionele komedies van die jaar. Dustin Hoffman met sy belaglike pruik, Jason Schwartzmann en sy poësie, Mark Wahlberg as sagmoedige brandweerman en Isabelle Huppert die übernihilis is almal heerlik. Een enkele skoot (Jude Law as lakterende moederfiguur) minder en die film sou etlike posisies hoër op die lys gewees het.

7. Finding Neverland

Vanaf die eerste oomblik, wanneer Johnny Depp van agter die rooi gordyne uitloer, is die atmosfeer gelaai met moontlikheid. JM Barrie, die skepper van Peter Pan, is ‘n enigmatiese figuur – iemand wat soos ‘n kind dink en droom, maar weet dat hy soos ‘n volwassene moet optree. Soos die meeste regdenkende mense pas hy nie mooi in die wêreld in nie en is hy veel meer kompleks as wat mens verwag.

Dié fliek het kykers erg verdeel, maar vir my het dit in vervoering gehad. Die enigste probleem is Freddie Highmore, die irriterende klein seuntjie wat die inspirasie vir Peter Pan is.

8. Hotel Rwanda

Die storie fokus op een hotelbestuurder (vertolk deur Don Cheadle) se stryd om oorlewing gedurende die Rwanda-rassemoorde in 1994. Die storie bly intiem, gefokus op hom en sy gesin, met skokkende realiteit wat van tyd tot tyd insyfer. Die film kry dit reg om die VSA, die VN en sommer die hele Europa by te kom. Gelees binne die konteks van Amerika se onlangse Irak-fiasko is dit ’n duidelike bewys dat die geskiedenis hom maar net keer op keer herhaal. Die beste oorlogsdrama sedert 2002 se No man’s land.

9. Ray

Jamie Foxx se vertolking van die gevierde sanger Ray Charles is onberispelik. Die film gee ‘n gevoel vir die era, ‘n groot sny uit sy repertorium en selfs terugflitse waarvan die afloop absoluut perfek is, gegee Ray Charles se dwelmrehabilitasie. Die beste biofilm van die jaar, wat Jamie Foxx vir ewig bevestig as ‘n enorme akteur.

10. Bad education

‘n Uiters ingewikkelde storie, waar dit ‘n hele ruk vat voor ons seker is wat feit en wat fiksie is. Stories binne-in stories, vol halwe waarhede en nostalgiese terugblikke op ongeregtigheid in ‘n Katolieke skool van die Franco-era. Gael García Bernal slaan kamp op as biseksuele akteur wat die onvergeetlike rol van Zahara die drag queen vertolk. ‘n Film wat jou kop laat spin met al sy gebeure, sy melodrama, sy aksie, sy gruwels, sy pragoomblikke.




LitNet: 11 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

Stuur jou wense aan LitNet!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.