FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

The Hundred Steps

Suzette Kotzé
Italiaans met Engelse onderskrifte
Spelers: Luigi Lo Cascio, Luigi Maria Burruano, Lucia Sardo, Tony Sperandeo
Regisseur: Marco Tullio Giordana

Die lewe van ’n jong aktivis in die 1970’ s in ’n Siciliaanse dorpie is maar net nog ’n klein episode in die groot en wye wêreldgeskiedenis, onbeduidend selfs. Dis egter die menslikheid agter die geskiedkundige feite wat dié verhaal méér maak.

Peppino leef ’n beskermde lewe saam met sy ouers en sy jonger broer in Cinisi, Sicilië. In die groot, uitgebreide Italiaanse familie is hy sy oom, die familiehoof, se gunsteling — hý is die een wat voor in oom Cezanne se motor saamry, wat uitgesonder word om ’n gedig by ’n familieviering voor te dra, wat saam met sy oom dorp toe gaan. Sy oom is egter ook ’n Mafiabaas, en natuurlik het hy ’n teenstander, die jonger familielid Tano (Tony Sperandeo). Toe Cezanne in tipiese Mafiastyl in ’n motorontploffing sterf, begin die jong Peppino die wêreld om hom en sy familiebande bevraagteken.

Die toneel spring die toekoms in, Peppino (Luigi Lo Cascio) is ’n heethoofdige student en lid van die Kommunistiese Party, wat vurig deelneem aan betogings en lydelike verset. Rebellie teen die Mafia brand soos ’n vuur in hom. Anti-Mafia-koerantartikels en ’n radiostasie wat die Mafia openlik aanvat, lei daartoe dat sy pa hom uit die huis gooi. Sy verset raak sterker, tragedie volg, die kring om hom trek nouer, tot die oorbekende uiteinde van die opstandeling.

Onder biografiese films is The Hundred Steps ’n indrukwekkende stuk filmkuns. Van die eerste tonele slaag regisseur Marco Tullio Giordana daarin om ’n broeiende, dreigende atmosfeer te skep wat nooit verslap nie. Die vrolike, hartlike familie-ete aan die begin, wat al ’n cliché in Europese kunsfilms geword het, word hier nie geromantiseer nie. Onder die oppervlak smeul vetes en verdeeldhede wat ’n bloudruk vorm vir die res van die verhaal. Interessant genoeg wys daar ook ’n element van verveling en kleinburgerlikheid wat net sowel dié van ’n familiekuier op ’n warm Sondagmiddag op ’n Karooplaas kon gewees het — ’n aanduiding van Giordana se vermoë om menslike universaliteit in die gewoonste gebeurtenisse daar te stel.

Die aard van die rebel kom aan die bod, hier binne die groter historiese agtergrond van die “flower power”-beweging in Amerika en die studente-opstande wat oral in Europa in die 1960’ s posgevat het. Dit eggo in die geskiedenis van (veral jong) mense se opstand teen die gevestigde orde, die mens se dwingende stuwing tot verandering, wat dikwels met geweld gepaard gaan of geweld uitlok (’n mens dink aan Soweto 1976, aan die Voëlvry-beweging van die 1990’ s, aan Tiananmen-plein). Dit is blykbaar ’n kosmiese wet: vir verandering móét iets afgebreek word, en daar is altyd ’n duur prys te betaal.

Teenoor die Mafia se boewery gebruik Peppino en sy mede-aktiviste nie letterlike geweld nie, hul wapens is ontbloting en hekeling. Maar wat van die sielkundige geweld? Wat van die pyn wat dit sy pa aandoen, die manier waarop dit sy ma verskeur laat, die invloed op sy ouers se huwelik, die prys wat sy jonger broer moet betaal? Hoe skoon is die hande van enigeen wat stry vir geregtigheid?

Dat hierdie aspekte van die rebel se stryd eerlik uitgebeeld word, is prysenswaardig. Hier is nie ’n aktivis wat klakkeloos positief en edel voorgestel word nie, hier is ’n mens wat sy eie roeping uitleef, met goeie én slegte gevolge. Die manier waarop Peppino en sy mense se verhaal vertel word, word universeel; dit word ’n verhaal waarmee almal kan identifiseer, en hierin lê die krag van die film. (Let byvoorbeeld op die treffende uitbeelding van die klassieke Oedipus-verhouding met sy ouers, nog ’n belangrike universele tema.)

Weliswaar is The Hundred Steps nie ’n uur of wat se ligte ontspanning nie, maar dis beslis ’n bevredigende fliekervaring. En die klankbaan met musiek uit die Amerikaanse hippie-era is ’n bittersoet genot.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.