FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Stander

Suzette Kotzé
verbatim@intekom.co.za


Spelers: Thomas Jane, Marius Weyers, Deborah Kara Unger, Ashley Taylor, Dexter Flexter
Regisseur: Bronwen Hughes


As “hulle” een van “ons” stories beetkry vir ’n fliek, is ’n mens al by voorbaat bevrees. Dink maar aan die Amerikaners se rampspoedige weergawe van Boesman & Lena en die Duits-vervaardigde misoes Malunde. Nou het die Kanadese regisseur Bronwen Hughes bankrower André Stander se verhaal aan die vergetelheid ontruk — met interessante resultate.

Van die openingstoneel, waar Stander (Thomas Jane) en sy beste vriend (Ashley Taylor) in ’n wilde jaagtog op pad is na Stander se hertroue met Bekkie (Deborah Kara Unger), die liefde van sy lewe, word sy karakter gevestig: waaghalsig, roekeloos, ’n kansvatter — en hy kom weg daarmee. Hy is ’n gerespekteerde polisiekaptein, die jongste in die Mag en bekend as ’n uitstekende speurder; kort voor lank beroof hy koelkomkommer oor etenstyd banke en gaan daarna as speurder terug om die saak te ondersoek. Tot een van daardie klein menslike dingetjies hom verraai en dis tjoekie toe. Heel ironies herken hy daar verskeie van sy medegevangenes wie se sake hy as speurder hanteer het!

Ná ’n paar jaar ontsnap Stander saam met Lee McCall en Allan Heyl, en dan begin die mees opwindende deel van die sage: in die bestek van ses maande beroof die Stander-bende 26 banke. Maar die lang arm van die gereg haal hulle uiteindelik in en Stander ontvlug in een van sy asembenemendste waagtoertjies nóg na Amerika, waar hy hom nogmaals tot misdaad wend en deur ’n polisieman doodgeskiet word.

Suid-Afrika se politieke situasie in die 1970’s is ’n belangrike subtema en dis veelseggend dat die regisseur 1976, “Soweto-jaar”, as beginpunt gekies het. Die kyker sien hoe Stander se ervaring toe hy onlustediens in Tembisa doen en ’n jong swart man in ’n skoleopstand doodskiet, die sneller word wat hom só wrokkig teen die regering en sy hoofde maak dat hy begin met sy bankrowery as ’n vorm van opstand. Die buit uit sy eerste rooftog word nog in die skoot van ’n koerantverkopertjie gegooi en ’n mens vermoed vir ’n oomblik ’n Robin Hood-kinkel, maar van daar af is die geld net vir homself. Tog gaan hy in ’n treffende toneel kort voor die einde terug Temibsa toe om die familie van sy slagoffer te soek in ’n poging tot boetedoening.

Die fliek kan egter nie besluit of hy Stander as held en ’n soort verwronge anti-apartheidsvegter wil uitbeeld of bloot as charismatiese misdadiger wat die hoofrol in sy eie aksieprent speel nie. Dit is jammer dat die innerlike motivering vir Stander se dade nie deegliker uitgebeeld word nie — waarom byvoorbeeld vra hy in een toneel dat sy pa (Marius Weyers) Engels moet praat? Waar en wanneer het hy geleer om Zoeloe so vlot te praat?

Beter motivering sou ’n mens nie soveel politieke korrektheid laat vermoed het nie — soos dit staan, lyk die fliek maar baie na ’n verbete poging om Stander se misdadige optrede met die anti-apartheidstryd te integreer. Van die veelbetekenende wye openingskoot oor Johannesburg se rykmansbuurte en die sinkhuisies van die townships, kompleet met die belaglikmaking van die Afrikaanssprekende polisie in die opstandtoneel, tot die slotopmerking oor Nelson Mandela en die bevryding van Suid-Afrika in 1994, dra dit swaar aan ’n politieke agenda. En as dit histories korrek is dat Stander in Amerika deur ’n swart polisieman doodgeskiet is, is dit een van daardie ongelooflike ironieë van die lewe; indien dit gemanipuleer is deur die filmmaker, is dit nog meer rede tot irritasie!

Die regisseur verdien lof vir die outentieke inkleding van die tydperk en die akteurs kwyt hulle oor die algemeen goed van hulle taak — met Thomas Jane wat soos ’n jong Rod Alexander uit die 1970’s lyk! Hier en daar slaan ’n Amerikaanse aksent steurend deur, en die Afrikaanse aksent van die polisie-offisier wat die toespraak in Tembisa maak, is met een woord eienaardig.

Desnieteenstaande is Stander beslis die kyk werd, en veral aksievrate sal hulle verlustig in die talle skouspelagtige jaag- en skiettonele. Maar die toneel wat die grootste vermelding verdien, is die skoleopstand — dit gee werklik hoendervleis.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.