FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Snow falling on cedars (1999)


Coenraad Walters

Met: Ethan Hawke, Youki Kudoh, Rick Yune, Max von Sydow, James Rebhorn, Eric Thal
Draaiboek: Ronald Bass en Scott Hicks (gebaseer op die roman van David Guterson)
Regie: Scott Hicks

Die debat oor verfilmde boeke duur nou al vele dekades. Dikwels is die rolprent ’n totale teleurstelling; soms is dit ’n kunswerk wat trots langs die boek kan staan (soos The unbearable lightness of being); soms is dit baie getrou aan die boek, maar buit die visuele element uit om op sekere aspekte van die boek te verbeter (soos The silence of the lambs). Die mees gewilde duimreŽl is: kyk eers na die fliek en lees dan die boek.

Lesers van Guterson se boek sal bes moontlik teleurgesteld wees met hierdie prent, want dit is wat dikwels gebeur met ’n geliefde boek. Ek kan egter nie wag om Guterson se prosa onder oŽ te kry nie: die bronteks van hierdie sensitiewe rolprent moet iets besonders wees. Die waardigheid van die verhaal word beklemtoon deur die feit dat die titel verskyn voordat enige akteur genoem word. (Moet asseblief nie dat die lomp lokprent jou mislei nie — daardie STEM wat iets sÍ soos: “From the makers of the enigmatic Whatever comes a new film of incredible power and sensitivity” of watookal vernietig alle delikaatheid in die meeste prente!)

Guterson se verhaal beeld ’n element van die Amerikaanse geskiedenis uit waarop hulle nie trots kan wees nie: die behandeling van Japannese Amerikaners tydens die Tweede WÍreldoorlog. Op ’n eiland langs die kus, naby Seattle, het verskillende gemeenskappe, onder andere ’n groot groep Japannese, saamgeleef in ’n delikate harmonie totdat die bomme op Pearl Harbour ook hierdie plaasomgewing se vrede versteur het. Die Japannese word weggeneem na konsentrasiekampe, hul huise en eiendom val “normale” Amerikaners ten prooi wat hul vrese op ander mense wil projekteer. Stemme van redelikheid, soos die koerantredakteur Chambers (Sam Shepard), word doodgeskreeu, -gedreig of -geswyg.

Nege jaar na Pearl Harbour sterf ’n blanke visserman een nag terwyl hy op die viswaters is. Die verdagte is ’n Japannees (Yune), wie se vader land sou bekom het van die gestorwene se vader. Vir baie lede van die blanke gemeenskap is die getuienis verdoemend.

’n Verslaggewer, Ishmail Chambers (Hawke), seun van die genoemde koerantredakteur, woon die verhoor by. Hy word met sy eie verlede gekonfronteer wanneer hy sien dat die beskuldigde se vrou die Japannese meisie is op wie hy as jongeling hartstogtelik verlief was (Kudoh). Sy bydrae tot die hofverrigtinge bepaal die uitkoms daarvan.

Die tegniese aanbieding van die verhaal is asemrowend. Die Oscar nominasie vir kinematografie was welverdiend; dat die redigering nie ook vereer is nie, is ’n fout. Kykers word uitgedaag om die groot aantal terugflitse te integreer om stelselmatig meer en meer agter te kom van die karakters se verbintenisse, hulle agtergrond, hulle lewensinstelling, ensovoorts. Die versplinterde vertelwyse verleen aan die verhaal ’n ruimheid en ’n resonansie wat ’n mens selde in ’n fliek sien. Die wyse waarop die staatsaanklaer se finale toespraak voor die jurie aangebied word, is ’n uitstekende voorbeeld van die filmtegniek wat hier dikwels benut word.

Jammer dan, dat die finale toespraak van die advokaat vir die verdediging nie ook so benader word nie. Deur dit veel meer tradisioneel aan te bied, word die toespraak prekerig, verhewig die inhoud daarvan vanaf ’n poging om ’n beskuldigde los te praat na ’n les vir die mensdom. Miskien is dit wat Guterson met sy boek wou regkry; miskien is dit waarom Hicks die rolprent aangepak het. Maar dit is net ’n raps te maklik, veral as dit met die res van die prent vergelyk word. In die hande van ’n mindere akteur sou hierdie toneel moontlik ’n ramp kon wees. Die gesoute Max von Sydow, akteur van Sweedse herkoms, speel Nels Gudmundsson, self ’n lid van ’n immigrante-minderheid wat in die Amerikaanse samelewing geassimileer is. Hy beklemtoon die feit dat die staat min oortuigende bewyse het en dat die saak teen sy kliŽnt in wese op rassisme berus. Elke nou en dan, sÍ hy, word die mensdom voor die hof gedaag. Hierdie is een so ’n geval: dis nie sommer ’n klein hofsakie nie. Die jurie moet bewus wees van die erns en enormiteit van hul beslissing.

Maar hierdie een fout kan die filmmakers vergewe word. Snow falling on cedars is ’n diggeweefde web van herinneringe en botsende emosies wat die mensdom met foute en al uitbeeld. Die verleidelike kinematografie lok ’n mens in ’n ryk geskakeerde verhaal in wat met argetipiese situasies en simbole werk (ja, seders val nie net onder luide gelag in Waterkloof nie!) en die kyker ontroer en tot inkeer bring.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.