FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Signs

André Crous
cinephile2@yahoo.com

Wat sou jy doen as jy weet dat Armageddon naby is? Mel Gibson se karakter sê dat ateïste bang sal wees, omdat hulle weet hulle is op hul eie, en dat teïste nie bang sal wees nie, want hulle weet dat God in beheer is. Die realiteit werk natuurlik effens anders, en almal sal bang wees, wat hul religieuse oortuigings ook mag wees. Die atmosfeer is een van vrees. En regisseur M Night Shyamalan (Sixth Sense, Unbreakable) skep dit binne die fliek, en ook in die filmsaal by die gehoor. Reeds vanaf die credits is Hitchcock teenwoordig in die musiek, wat maklik deur die meester se gunsteling, Bernard Herrman, gekomponeer kon gewees het (hier is dit James Newton Howard).

Graham Hess (Mel Gibson) is ’n boer in Pennsylvania, wie se vrou ses maande vantevore in ’n motorongeluk dood is. Hess was ’n priester, maar na die dood van sy vrou het hy sy geloof bevraagteken, en nou probeer hy sy gesin daarvan oortuig dat hy nie meer in God glo nie. Slegs stofmerke van vorige kruise hang nog teen die muur, en gebed aan tafel is verbode. Hy bly saam met sy twee jong kinders, Morgan (Rory Culkin) en Bo (Abigail Breslin), in ’n plaashuis saam met sy jonger broer, Merrill (Joaquin Phoenix). In enige normale fliek sou ons hierdie informasie binne die eerste vyftien minute uitgevind het, en die setup van hierdie details sou die enigste storie gewees het waarop ons fokus.

Maar hierdie fliek is nie soos enige ander fliek nie. Dié fliek wys ons reeds binne die eerste vyf minute waarom die storie sal draai: die gewaskringe — stingels netjies gebuig, en nie gebreek nie. Hess dink dit is weer ’n klomp skurke, todat sy dogter hom in die middel van die nag wakker maak met ’n onskuldige: “Daddy, there’s a monster outside my room. Can I have a glass of water?”

Hier is soveel verrassings langs die pad dat enige beskrywing van die storie noodwendig iets sal weggee. Die storie handel met geloof en verlies van geloof, met ouerskap en die eenheid van die familie, met Armageddon, met al die vrese wat hiermee saamhang en met die feit dat ons nie toevalligheid kan onderskei van ’n Goddelike beheersing van sake nie.

Shyamalan se flieks se klank (nie net musiek nie) is die rede waarom hulle werk. ’n Mes wat vinnig oor ’n toonbank skraap, is tien keer harder, en die kombinasie van klankeffekte met die beeld skok jou tot in jou siel. Die laaste — en enigste ander — keer wat ek só bang was vir ’n fliek was toe ek What Lies Beneath gesien het.

Hierdie fliek is vol idees, vol klein details — die “muur in die lug”, die foeliehoede, die storie met die water (sekerlik ’n verwysing na The Wizard of Oz …?), die storie wat Merrill aan sy broer vertel — en tog hang alles mooi saam.

Sommige kritici het die fliek afgemaak as pretensieus, as ’n fliek wat dink dit is snaaks wanneer dit liewer op een ding op ’n slag behoort te fokus. Nee. Hierdie fliek het behoorlike humor, wat nie net tot die dialoog beperk is nie. Dikwels is dit die manier waarop die mense sit, of na mekaar kyk. Niks is gerek om aan verwagtinge te voldoen nie.

Hierdie is ’n fliek, soos Sixth Sense en Unbreakable, wat ons onkant betrap. Maar waar die vorige twee ons laat wag het tot die einde, skuif hierdie een gedurig van een rigting na die volgende. Die fliek juggle tien balle gelyk, maar laat niks val nie, en vang almal weer voordat die credits rol.

Goed, die storie rondom Hess en sy geloof is waarskynlik die opvallendste potensiële donker kol in die narratief, omdat dit so dikwels herhaal word. Maar vra jouself af: watter kommersiële (“een wat goed geld maak”) filmmaker sal issues soos die verlies van geloof en van hoop takel, en sy gehoor nie ongemaklik hieroor laat voel nie, aangebied in ’n realistiese situasie wat ons nie gekul laat voel nie (in teenstelling met iets soos Independence Day)?

Die toneelspel is foutloos. Ek is — in die reël — baie huiwerig om enige fliek te kyk waarin ’n kind ’n beduidende rol speel, omdat hulle 90 persent van die tyd óf voorgee dat hulle reeds volwasse is (I am Sam se dogtertjie was ’n walglike voorbeeld hiervan), óf eenvoudig net nie oortuig as regte mense nie. Rory Culkin — ja, Macaulay se broer! — is beter as ouboet en nóg hy, nóg Abigail Breslin (in haar eerste fliek!) sit ’n voet verkeerd. Joaquin Phoenix (Gladiator, Quills, The Yards), as Gibson se broer, is ook perfek.

Shyamalan maak ons so bang soos Hitchcock, en sy kommersiële flair met flieks waarvan die familie die middelpunt is, laat dink mens aan Spielberg. Shyamalan is egter die enigste een van hierdie elite-groepie wat die eer het om sulke goeie flieks te maak, en self die storie te skryf, die regie te doen, die film te vervaardig en ’n (klein, maar baie belangrike) rol as akteur in die film te speel.

Dit maak nie soveel saak wat die storie is, as wat dit saak maak hoe die storie vertel word nie. Hierdie fliek het ’n baie goeie storie en ’n unieke vertelstyl.

Gaan kyk.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.