FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Promised land

Coenraad Walters

Met: Nic Borraine; Yvonne van den Bergh; Daniel Browde; Louis van Niekerk; Wilma Stockenström; Miems de Bruyn; Tobie Cronjé, Lida Botha, Grant Swanby.
Draaiboek en regie: Jason Xenopoulos.

Promised land tel as een van die beste flieks wat ek in jare gesien het. Miskien speel die feit dat dit ’n Suid-Afrikaanse fliek is, ’n rol; miskien ook dat ek ’n Karel Schoeman-bewonderaar is en die boek klaar gelees het die dag voor ek die fliek gesien het. My genot van hoogs gestileerde flieks (ek dink aan American beauty) beïnvloed ook my beoordeling.

Uit André Crous se bespreking weet lesers al heelwat omtrent die prent se aard en kwaliteit: die buitengewone spel, die grinterige, bykans kleurlose kwaliteit (die byna voortdurende gebruik van grys filters), en die kontras met die oorgekleurde droomtonele (ek het om ’n páár redes aan ’n Surf-advertensie gedink!). Die atmosferiese klankbaan, goed gekose musiek, spitsvondige redigering en skitterende draaiboek — sjoe, ek laat my byvoeglike naamwoorde nou hard werk!

Miskien juis omdat ek heelpad so sit en juig het, is die laaste omtrent 15 minute van die prent so ’n teleurstelling. Die afskeid in die reën kan nog gaan, weens die konflikterende tekenwaardes daarvan. Maar vóór dit, die afloop van die verlowingspartytjie, is verhaalmatig en visueel hopeloos té melodramaties — hier sou ’n soberder visuele aanbod ’n wins gewees het. Daar word ook té ver afgewyk van Schoeman se gegewe en van die atmosfeer wat hy skep — tot nadeel van die prent.

Dis jammer dat die draaiboekskrywers juis hier die pot misgesit het. Wat in dié toneel gebeur, is wel ’n logiese gevolg van die aanpassings wat vroeër in die verhaal gemaak word. Of dit nou is om ’n meer moderne verhaal te vertel of bloot om meer spanning te skep, kan ’n mens maar oor wonder, maar die hantering van wapens voor die kamera, asook George en Carla se sekstoneel op die solder, spuit meer aksie in die verhaal in as wat Schoeman ooit bedink het.

Maar nou moet ’n mens toegee dat Schoeman die meester is van die gebeurelose verhaal. En van vaagheid. In die roman weet ’n mens nie werklik waar in Suid-Afrika die plaas Rietvlei geleë is nie. Die moeilikhede waaroor die mense so ongelukkig is, word nie duidelik gemaak nie. Die volksleiers en -helde wie se portrette teen die mure hang, word nie by die naam genoem nie. Wat is Paultjie se storie werklik? En is Carla nou verloof aan Gerhard of nie? Bowendien is George in die roman ’n tipiese Schoeman-buitestaander: hoewel hy Afrikaans praat soos die boeregesin wat hom gasvry ontvang, is hy weens sy ervaring van oorsee grootword, nie een van hulle nie, en verlaat hy hulle weer soos Opperman se maagd: hy “gaan van hierdie aarde self onaangeraak”. Al vertel hulle hom baie omtrent hul ervarings en probeer hulle hom betrek, en selfs wen vir hulle saak, bly hy onbetrokke. Selfs wanneer hy aanbied om met Carla te trou om haar te help uit die land uitkom, is dit haas emosieloos, ’n vae gebaar.

Hou in gedagte dat hierdie roman in 1972 gepubliseer is. Met die verfilming word die vaaghede in die roman heeltemal te maklik ingevul deur die werklikhede van 2003: die volkshelde sluit Malan en Verwoerd in; ons lees in koerante van grondhervorming en die Boeremag; Paultjie is ondubbelsinnig gay. Die onbepaaldheid van die roman was deel van die (profetiese) krag daarvan; die draaiboek word ingeperk deur die werklikheid. Voorts raak George té betrokke, selfs al is taal in die fliek ’n versperring — om die Engelstaligheid van die prent oortuigend te maak, is hierdie George in Engeland grootgemaak as Engelssprekende. (Dis minder steurend om die gasvrye Afrikaanssprekendes Engels te hoor praat as om die Engelssprekende akteurs se Afrikaans aan te hoor!)

Die visuele styl van die prent vang Schoeman se skryfstyl baie goed vas. Die besonderhede van lug en landskap en interieur wat vertoon word, boots die lang uitgesponne sinne van die verteller en die tentatiewe gesprekke van die karakters na, die beelde vervlietend en die kleur gepas vaal. Ekstra jammer, dus, dat die slot so ’n breuk verteenwoordig.

Die plakkaat maak melding van deelname aan minstens drie internasionale feeste; by die Tokio-fees het die draaiboek ’n toekenning ontvang. Mag Promised land ’n gehoor kry, plaaslik sowel as internasionaal, om hierdie belegging in die plaaslike filmbedryf die moeite werd te maak. Mag hierdie kreatiewe span weer die kans kry om Suid-Afrikaanse stories te verfilm — en mag hulle voortaan beter slotte oplewer!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.