FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Possession

Coenraad Walters

Met: Gwyneth Paltrow; Aaron Eckhart; Jeremy Northam; Jennifer Ehly; Lena Headey; Toby Stephens.
Draaiboek: David Henry Hwang en Neil LaBute gebaseer op AS Byatt se roman.
Regie: Neil LaBute.

Lanklaas, lanklaas het ek so uitgesien na ’n fliek. En nog meer lanklaas is ek so min teleurgestel.

AS Byatt se Bookerpryswenner handel oor ’n jong Britse navorser, Roland Mitchell, wat onder leiding van ’n Groot Gees navorsing doen oor die Victoriaanse digter Randolph Ash. Toevallig kom Mitchell af op voorlopige weergawes van briewe (dis die dae lank voor rekenaars, selfs voor tikmasjiene, onthou!) wat Ash gerig het aan ’n onbekende dame. Met spitsvondige speurwerk kom hy agter dié dame sou Ash se tydgenoot, die digter Christabel la Motte, kon wees. Hy verkry die samewerking van ’n La Motte-kenner, Maude Bailey, en saam reis hulle na die landgoed van La Motte se familie, na die Yorkshire Moors en na Bretagne in Frankryk om ’n boeiende geskiedenis bloot te lê wat die biografieë van dié twee digters aanvul en trouens ingrypend verander, en ook hul eie lewens verlê.

Toe die roman in Amerika vrygestel is, moes Byatt op aandrang van haar Amerikaanse uitgewers haar manlike hooffiguur meer sexy maak. Hy was darem net te vaal vir die Amerikaanse mark!

En nou, in fliekvorm, is Mitchell sommer ’n Amerikaner, gespeel deur Aaron Eckhart. Dié aanpassing van die verhaal maak ’n paar dinge moontlik: dit verskerp die onderliggende spanning tussen die Britse en Amerikaanse literêre “bedrywe”, dit bring die tema van besit op ’n nuwe manier aan die orde, en dit skep die geleentheid vir heerlike klein grappies tussen Engelse en Yanks.

Die titeltema vind op verskeie maniere neerslag in hierdie verhaal. Eerstens word die vraag gestel in hoe ’n mate die leserspubliek aanspraak mag maak op volledige kennis omtrent openbare figure. In ons tyd, waarin mense van prins Harry se hare wil bekom om vas te stel of prins Charles werklik sy pa is, word dié kwessie op die spits gedryf. Mag ons dus weet van hierdie Victoriaanse digters se privaatlewens? Mag ons hulle op dié vlak besit? Natuurlik is alles vreeslik interessant, ja, en in die literêre bedryf kan dit doktorsgrade en navorsingstoekennings en -fondse tot gevolg hê, wat weer tot status lei. Maar regverdig die doelwitte die middele?

Die besit van konkrete bewyse van hierdie mense se lewens kom ook ter sprake. Een Amerikaanse versamelaar, wat met ’n skatryk instansie se geld mag werk, koop soveel hy kan op van Ash se private besittings. Hy verskeep dit egter Amerika toe, aangesien sy basis en versameling daar gehuisves word. Mag dit? Mag een land ’n ander se kulturele besit oorkoop en as trofeë uitstal? Dink aan die kwessie omtrent die marmerbeelde uit Antieke Griekeland wat nou al eeue lank in Londen uitgestal word. Suid-Afrika moes al self kunsskatte aan skatryk buitelanders afstaan - meubels, skilderye, artefakte, noem maar op. En soos ons perlemoen gestroop word vir die uitvoermark, word grafte en monumente wêreldwyd gestroop om aan kapitaalkragtige versamelaars se besitsug te voldoen. Wat kan die Britse literatore doen om te keer dat La Motte en Ash se briewe in Amerikaanse kloue beland?

Besitting deur erfreg speel ook ’n rol. Die mag wat nasate het oor openbare figure se nalatenskap was ook enkele jare gelede in Suid-Afrika ter sprake toe die erfgename van Langenhoven toestemming moes gee sodat John Kannemeyer sy biografie oor Sagmoedige Neelsie kon skryf. Kyk maar self hoe belangrik dié tema in Possession is.

Romantiese liefde maak ook besit belangrik. In hoe ’n mate het minnaars aanspraak op mekaar, en op mekaar se lewens? In Possession word dié saak relevant in verskillende eras.

Soos reeds gesê, het ek op die punt van my stoel gesit en kyk na hoe Byatt se ryk en veelvlakkige roman verfilm is. En hoewel heelwat verlore gaan (soos Byatt se verbysterende vermoë om twee verskillende digterstemme te skep!), is die visuele inkleding ’n groot wins. Dis wonderlik om die landskappe te sien waarin die verhaal afspeel, en die akteurs is uitstekend gekies. Hoewel ek Gwyneth Paltrow steeds nie haar Shakespeare in love-Oscar gun nie, dink ek sy beeld die ontspanning en ontdooiing van Maude Bailey baie goed uit. Aaron Eckhart oortuig as die growwerige Yank wat met groot pote (en tog met piëteit en deernis) op Britse literêre terrein kom rondtrap. Die Victoriane, gespeel deur Northam en Ehle, vang die versweë passie goed vas. Ash was getroud, en La Motte was in ’n verhouding met ’n vrou, Blanche Glover (Heady), ’n skilder van wie daar geen werk oorgebly het nie, en wat selfmoord gepleeg het terwyl La Motte in Frankryk was. Die verhouding tussen Ash en La Motte was dus duur, en kon ook nie oorleef nie. Kan ons in ons moderne tyd iets van waarde en waarheid besit uit hierdie klein maar diepgaande drama?

Daar is reeds verwys na verleggings in Byatt se verhaal. Daar is uiteraard meer: sekere belangrike sekondêre karakters het verdwyn, en die begraafplaastoneel vind plaas sonder die tierende storm. Maar daar is ook reeds verwys na die visuele winste van die rolprentaanbod. Een hiervan is die slottoneel, waarvan die jong literatore niks kon geweet het nie. Daardie pragtige landskap, die gesigspel, die kinderpret …

Tog is die draaiboek in ander opsigte besonder getrou aan Byatt se teks. Soveel so dat dit dalk selfs tot nadeel van die prent strek. Is die onthullings aan die einde van Maude en Roland se speurtog so verruklik dat dit hedendaagse fliekvlooie sal tevrede stel? Dit het vir my gewerk, maar dis omdat ek die roman boeiend gevind het. En soos u weet, is ek soms met min tevrede!

In my boek een van die groot flieks van die jaar. Jy hoef nie saam te stem nie, maar as jy hou van ’n redelik ingewikkelde verhaal vol romanse en gedagte-intrige, gaan kyk gerus.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.