FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Girl with a pearl earring

Suzette Myburgh

Gegrond op die gelyknamige roman deur Tracy Chevalier
Spelers: Scarlett Johansson, Colin Firth, Tom Wilkinson, Cillian Murphy, Judy Parfitt
Regisseur: Peter Webber
Vertoontyd: Vanaf 8 April

Daar is met groot verwagting uitgesien na hierdie fliek. Scarlett Johansson, die ster van Lost in translation, speel immers die hoofrol — sy wat destyds met The horse whisperer al in die geheue bly steek het. Of Colin Firth, daardie Engelsste van Engelse akteurs, die mas sou opkom as ’n Hollandse skilder, was egter ’n vraag. Dis ’n jammerte, maar uiteindelik is dit die fliek as geheel wat nie die mas opkom nie.

Die verhaal, kortliks, is geïnspireer deur Vermeer se besonderse skildery “Meisie met ’n pêreloorring” (c. 1665). Skrywer Tracy Chevalier het ’n storie agter dié engimatiese gesig uitgedink: die nuwe diensmeisie (Scarlett Johansson) in die Vermeer-huishouding word mettertyd betrek by die meesterskilder se werk en uiteindelik skilder hy háár — tot die bittere misnoeë van sy jaloerse vrou, Catharina (Judy Parfitt).

Daar is maar min bekend oor die Delftse skilder Johannes Vermeer (1632-1675) uit die Hollandse Goue Era. Slegs 34 skilderye word met sekerheid aan hom toegeskryf — meestal klein, intieme, huislike tonele wat veral tref in hul meesterlike uitbeelding van lig. Op hierdie punt slaag die film uitstekend, en dis geen wonder dat dit al verskeie benoemings vir beste kinematografie ontvang het nie. Waar die buitetonele grys en grou is, is die lig deur die vensters in Vermeer se ateljee gefilter en gloeiend, en met die knap gebruik van lig en skaduwee word toneel ná toneel in die ou huis ’n kunswerk op sigself.

Die bogenoemde benadering wat kinematies slaag, is egter juis wat die film kortwiek wat die vertelling betref. Net te veel tonele, veral tussen Griet en Vermeer, is gelaai met sulke swaar, swanger stiltes dat ’n mens uiteindelik voel die film neem homself veels te ernstig op. Twee akteurs verbeeld ’n fiktiewe idee van wat in die groot skilder se lewe kon aangaan, maar hulle is so in awe oor hul onderwerp dat hulle nooit daardie twee mense wórd nie: Vermeer onder voortdurende druk van sy dominerende skoonma om vinniger en nóg te produseer; Griet weerloos vasgevang in ’n situasie waarin sy uitgebuit word, maar waaroor sy bitter min beheer het.

Hierdie indruk is moontlik minder te wyte aan die twee akteurs as aan die regisseur en die draaiboekskrywer — ’n mens voel nogmaals dis ’n vertelling wat soms nie slaag nie omdat inligting uit die boek ontbreek. ’n Belangrike voorbeeld is die wending kort voor die einde wanneer Griet tussen ’n feesvierende menigte deur die slagterseun uit ’n drinkplek gaan weglok — niks omtrent haar motivering tot dié groot stap word vooraf weergegee nie.

Waarvoor die filmmakers wel lof verdien, is die oortuigende uitbeelding van Griet se seksuele ontwaking. Daarenteen word Vermeer se rol daarin met handskoentjies aangepak; ’n mens vra jouself af of die 33-jarige skilder se optrede teenoor ’n aantreklike jong diensmeisie werklik deurgaans so kuis en edel sou wees.

Scarlett Johansson beïndruk nogmaals met ’n sterk, veelvlakkige vertolking — dat sy haar sterstatus verdien, is gewis. Colin Firth se vertolking kom egter nie uit die verf nie (excuse the pun), maar dit kan die gevolg wees van die regisseur se ambivalente hantering van sy rol (sê sy lojaal). Twee vertolkings wat deeglik lof verdien, is Tom Wilkinson as Vermeer se onsmaaklike beskermheer Van Ruijven en Cillian Murphy as die slagterseun wat verlief raak op Griet.

Dis ’n mooi fliek, maar glad nie uitsonderlik nie (sê sy nogal teleurgesteld). En ai, die Engelse darem wat die gutturale Hollandse “Griet” uitspreek as “greed”!



LitNet: 30 Maart 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.