FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oscars: goud of klatergoud?

Coenraad Walters

In 1968 het “die grootste wetenskapfiksieskrywer in die HEELAL” (nie my woorde nie — chw) een van sy kortverhale verwerk tot ’n draaiboek, en ’n beroemde regisseur het hom daarmee gehelp. Arthur C. Clarke en Stanley Kubrik het egter nie die Oscar gewen vir Beste Verwerkte Draaiboek nie, maar die rolprent 2001: A space odyssey het uit eie reg klassieke status verwerf en Richard Strauss se grootse opening van die toondig Also sprach Zarathustra in die populÍre musiekarena geplaas.

Met die drie-en-sewentigste toekenningseremonie van die Akademie vir Rolprentkuns en -wetenskap is hierdie bekende akkoorde en melodie benut: dit is immers die jaar 2001! En asof vanuit die buitenste ruim het Oscar neergedaal, goue knikkies en goue drukkies uitgedeel, ander in ’n goue gloed geÔgnoreer, en weer teruggekeer “huis toe”, sodat ons aardlinge oor die gebeure kan bespiegel, en solank kan begin wonder oor wat volgende jaar gaan gebeur. (Lees intussen daaroor op www.oscar.com of www.oscar.org

Een van die truuks wat gebruik is om aan die seremonie meer luister te verleen, was om Arthur C. Clarke te kry om die Oscar vir Beste Draaiboek gebaseer op materiaal wat voorheen gepubliseer is, te laat aankondig. Viva die tegnologie: Clarke het sy aanbiedtakie vanuit Sri Lanka voltooi!

Op soortgelyke wyse het Bob Dylan sy genomineerde liedjie (“Things have changed” uit Wonder Boys) uitgevoer in Sydney, AustraliŽ — en sommer van daar af sy wennerstoesprakie afgesteek.

Verder was die seremonie effens flou — hoewel Steve Martin ’n mens nooit laat voel het dat jy nou skaam moet wees oor jy ’n lid van die menslike ras is nie, was daar ’n beduidende gebrek aan sprankel. Hy het darem met homself gespot (om die Oscars aan te bied is soos om met ’n mooi vrou te slaap: hy kry dit net reg wanneer Billy Crystal uitstedig is!), vir George W. Bush en die Afghaanse Taliban-regering bygekom, die verpligte grappies gemaak oor die lengte van die seremonie en verwys na televisiereekse wat op “ware lewenservarings” gebaseer is (soos Survivor en Temptation Island). Aan die einde van die seremonie sou iemand uit showbiz uitgestem word!

Te midde van die gesprek oor die Oscar-toekennings van 2001 voel hierdie fliekvlooi homself geroepe om ook ’n paar stuiwers in die armbeurs te werp — drie, om presies te wees. Eerstens iets oor die genomineerde Beste Rolprente, dan iets oor Oscar se stiltes, en laastens ’n opmerking oor die genomineerde Beste Oorspronklike Klankbane.

  1. 2001 se beste rolprente

    Was dit ’n verrassing dat Gladiator gewen het? Dis epies, lank, kamma-realisties en tog vol spesiale effekte, mooi kostuums (kort rompies vir Russell Crowe), en dit manipuleer die emosies uitmuntend. Vergelyk wenners van die onlangse verlede: Dances with wolves, Braveheart, Schindler’s list, Forrest Gump, The English patient, Titanic, noem maar op. Verlede jaar se American beauty was ’n verfrissende uitsondering!

    Ek wil nou nie weer ’n oorlog ontketen oor meriete en sulke sake nie, want meriete tel nie altyd ewe sterk wanneer die lede van die Akademie vir Rolprentkuns en —wetenskap stem nie. Elders op diť ruimte sal u resensies vind oor Erin Brockovich, Chocolat en Traffic.

    Die ander twee rolprente in die wedloop is eweneens interessant en verdien kortliks die aandag — maar om verskillende redes.

  • Die Taiwannese regisseur Ang Lee het bekendheid verwerf vir prente oor die Chinese/Taiwannese kultuur, soos Eat drink man woman (1994). Sy prent The wedding banquet (1993) speel in New York af, en lewer sterk kommentaar oor die konflik tussen kulture. Sedert sy Oosterse prente het hy bekendheid verwerf vir ’n paar Westerse flieks waarin hy aspekte van die Westerse kultuur onder die loep neem. Sy vaardigheid met Jane Austen se verhaal Sense and sensibility (1995), vir die skerm verwerk deur Emma Thompson), het aangenaam verras, en sy priemende ondersoek na die Amerikaanse samelewing in The ice storm (1997) was oorweldigend.

    Vir Crouching tiger, hidden dragon (Wo hu zang lon) (2000) keer hy terug na sy klassieke Chinese wortels, in so ’n mate dat hy sy span Oosterse akteurs vanuit verskillende gemeenskappe gedwing het om suiwer Mandaryns te praat — glo nie so maklik nie! Voorts het hy uiterste eise aan sy tegniese span gestel om fabelagtige tonele te realiseer.

    Hoewel sommige kykers Lee se verhaal afgemaak het as net nog ’n stuk Oosterse vegkuns, lÍ sy verhaal op die vlak van argetipes. Wanneer die geŽerde kryger Li Mu Bai (Yun-Fat Chow) besluit om die wapens neer te lÍ en sy lewe aan ’n innerlike reis te wy, word sy swaard gesteel uit die huis van die persoon aan wie hy dit geskenk het. Met die hulp van die vrou op wie hy nog altyd heimlik verlief was, Shu Lien (Michelle Yeoh), spoor hy die dief op: ’n bloedjong meisie uit ’n skatryk huis, Jiao Long Yu (Ziyi Zhang). Sy word opgelei deur ’n ervare maar bose vrouekryger, Jade Fox (Pei-Pei Cheng), wat ’n wrok teen Li Mu Bai dra.

    Die opspoor en terugwen van die swaard is skouspelagtig, en mense wat voel dat baie van die visuele materiaal by The matrix “geleen” is, is reg: dieselfde persoon wat die gevegstonele vir Keanu Reeves en sy makkers gechoreografeer het, is deur Lee ingespan om sy krygers deur die lug te laat sweef, teen mure te laat ophuppel en swaardgevegte in die boomtoppe te laat voer. Laasgenoemde toneel is een van die mees poŽtiese stukke filmwerk wat hierdie vlooi nog ooit gesien het, en die Oscar-bekroning vir kinematografie is deeglik verdiend.

    Die feit dat Crouching tiger, hidden dragon ook genomineer is in die kategorie vir Beste Buitelandse Prent beteken ’n paar dinge:

    1. Die reklamemaatskappy het oortyd gewerk. Die feit dat ’n oorgeklankte weergawe beskikbaar was (Chow en Yeoh het immers al in Engelstalige prente opgetree), het aan die prent ’n veel groter gehoor besorg as wat gewoonlik die geval sou wees.

    2. Die kanse om te wen was duidelik heelwat skraler. Helaas.

    Die vier toekennings vir Crouching tiger, hidden dragon was vir Beste Buitelandse Rolprent, Kinematografie, Kunsregie, en Klankbaan. Die ander nominasies was vir Beste Kostuumontwerp, Regisseur, Redigering, Liedjie, Verwerkte Draaiboek en Rolprent.

  • Ridley Scott se Gladiator hunker terug na groot epiese rolprente van die vyftiger-, sestigerjare wat die Romeinse geskiedenis as basis het. Cleopatra (1963) en Ben Hur (1959) was maar net twee van die bekendstes. Gaan Gladiator nou ’n nuwe mode inlui? Die kommersiŽle sukses daarvan suggereer dit: Hollywood hou mos van resepte wat werk!

    Die verhaal is epies eenvoudig: Keiser Marcus Aurelius (Richard Harris) sterf. Voor sy dood het hy sy suksesvolle en populÍre generaal Maximus (Russell Crowe — 2001 se Beste Akteur) aangewys as opvolger, maar geen bewyse daarvoor nagelaat nie. Sy seun Commodus (Joaquin Phoenix — genomineer as Beste Byspeler) raak van Maximus ontslae.

    Maximus ontsnap egter, word na ’n vlugtog gered/gevang deur ’n afrigter van gladiatore, en beland sodoende in Rome. Terwyl hy as gladiator die hart van die Romeinse populus wen, word daar met hom gekonkel, en ten slotte slaag hy daarin om van Commodus ontslae te raak — op so ’n manier dat hy nie op sy beurt weer kan ontsnap nie. (Dus geen opvolgprent nie?! Ag nee!) Soos in Crouching tiger, hidden dragon oorleef hierdie held egter nie die verhaal nie, maar Rome se vryheid is weer verseker. Vir ’n rukkie.

    Die meevoerende verhaal, hoe onoortuigend ook al op seker plekke en oorbekend op ander, span saam met die stelle, die kostuumontwerp en die rekenaargrafika om die kyker te oorrompel. En siniese voorspellings van Oscar se gewoontes dui daarop dat die Gladiator-span nog ’n paar geleenthede sal hÍ om aan goud te raak. Die populÍre sukses, die feit dat dit twee en ’n half uur lank is  Ö Of Russell Crowe sy goue beeldjie verdien, is ’n ope vraag — hy was nogal oortuigend sterk en bloeddorstig ter wille van sy eie lewe. Die Akademie vergoed moontlik vir die feit dat hy verlede jaar in die stof gebyt het teen Kevin Spacey in American Beauty — sy vertolking as The insider wat die sinistere verdoeseling van feite deur sigaretmaatskappye aan die groot klok hang, was blykbaar uiters verdienstelik. Nou ja, ’n mens wen soms en ander kere wen jy nie. Phoenix se bose karakter had ’n bietjie meer kans om deur die akteur geplooi te word, maar was eintlik ook maar so bekend (ook in antieke Rome was Cruella de Vil ’n bekende tipe).

    Ten slotte het die Gladiator-span huis toe gegaan met vyf toekennings: Beste Rolprent, Akteur, Kostuumontwerp, Visuele Effekte en Klank. Daarbenewens was daar sewe verdere nominasies: vir Beste Byspeler, Kunsregie, Kinematografie, Regisseur, Redigering, Klankbaan en Oorspronklike Draaiboek.

  • Maar wat my eintlik opgeval het van die vyf genomineerde Beste Prente is uitgewys deur ’n ander prent wat toevallig op televisie gespeel het nadat ek die Gladiator-video uitgehaal het: Antonia Bird se Priest. Nůg ’n klassieke goed-versus-kwaad-sage. (Ten minste dink hierdie vlooi dit verdien klassieke status!)

    En as ’n mens mooi gaan kyk, handel al die genomineerdes oor hierdie argetipiese stryd van goed teen kwaad. Chocolat handel oor bevryding versus repressie. In Crouching tiger, hidden dragon word eerbaarheid teenoor hebsug gestel. Erin Brokovich is ’n enkeling wat ’n bose maatskappy kaalvuis aanpak ter wille van ’n groep slagoffers. Maximus die gladiator probeer Rome bevry van ’n tiran. En selfs al is ’n rolprent oor dwelmgebruik nugter en bied dit ’n diepsinnige ondersoek oor die motivering agter die verslawing (soos Traffic), kan dit werklik sy onderwerp positief uitbeeld, en rehabilitasie as iets ongewens?

    Praat van resepte wat werk!

    1. Oscar en sy stiltes

  • Byna net so interessant as om te bespiegel oor wie genomineer gaan word, en later wie gaan wen, is om hande in die lug te gooi oor daardie arme (meerderheid!) rolprente wat oor die hoof gesien word. Moes Billy Elliot nie ook ’n Beste Rolprent-nominasie gekry het nie? Moes Jamie Bell as Billy en Gary Lewis as sy pa nie onderskeidelik as Beste Akteur en Beste Byspeler op die lys gestaan het nie? Ensovoorts.

    En tydens die seremonie bloei jou hart vir genomineerdes soos Ed Harris (Beste Akteur, na twee vorige nominasies as Beste Byspeler) en Joan Allen (Beste Aktrise, na twee vorige nominasies as Beste Byspeelster) wat al meermale genomineer is, maar net nie wen nie! Maar nou ja: klink name soos Peter O’Toole en Richard Burton (albei met sewe Beste Akteur-nominasies, maar geen toekennings nie) bekend? Miskien moet ’n mens eerder met hoop in jou hart kyk na iemand soos Paul Newman, wat na sewe nominasies en ’n ere-Oscar uiteindelik in 1987 vir The color of money gewen het. Akademie-genade? Daarna het hy die Jean Hersholt Humanitarian Award gewen, en in 1995 weer as Beste Akteur genomineer.

  • Daar is egter een bepaalde prent wat hierdie vlooi voel uiters stief behandel is: Lars von Trier se wroegfest Dancer in the dark (lees Willem de Vries se resensie op diť ruimte). Nou is dit seker so dat die Yanks (ook) nie juis gaande is oor flieks waarvoor ’n mens binneaarse Prozac nodig het nie, maar daar lÍ in die verhaal ook dieper redes vir die een enkele ou Oscar-knikkie wat die prent ontvang het: Beste Liedjie.

    Lesers wat nog nie kennis gemaak het met Mr Cranky nie, kan gerus besoek aflÍ by diť ou knorpot (www.mrcranky.com). Hierdie webskrywer gaan van die veronderstelling uit dat alle rolprente vrot is — party is net vrotter as ander. Sy hoogste gradering is Een Bom, wat daarop dui dat die rolprent “byna verduurbaar” is! En dit raak daarna net interessanter  Ö Ewenwel, Mr Cranky se groot probleem met Dancer in the dark is dat dit eenvoudig ’n veroordeling van die Amerikaanse lewenstyl is, en dat hy sou verkies as Lars von Trier sy opinies vir homself hou in die godverlate Skandinawiese ysskots wat hy “huis” noem. Dis nou ’n vriendelike vrye vertaling van Mr Cranky se opinie. Sy besprekings is gewoonlik kort en nie noodwendig veelvlakkig nie, maar hy kry darem nog kans om te sÍ dat hy nie seker is waarom BjŲrk die hele tyd ’n uitdrukking van engelagtige vreugde handhaaf nie: wil Von Trier dit so hÍ, of kan sy eenvoudig nie anders nie?

    Die Amerikaners het duidelik nog nie ’n Waarheidskommissie deurleef wat hul lewenstyl blootgelÍ en bevraagteken het nie, diť dat hulle so kleinserig is. Von Trier bekyk nie bloot die Amerikaanse kondisie nie, maar die menslike kondisie in sy verhaal waarin die kyker niks gespaar word nie.

    Hoewel dit baie so lyk, is Dancer in the dark nie ’n ware Dogme 95-prent nie. Eerstens word die regisseur se naam darem te enorm groot op die skerm vertoon. Was dit dalk ’n vereiste van die reklamespan? Von Trier se omstrede produksies kan sekerlik nie onder die Dogme-anonimiteit versteek word nie!

    Tweedens was BjŲrk se sogenaamde Selmasongs van meet af deel van die beplanning — en Dogme 95 bepaal dat slegs musiek wat natuurlik voorkom in die verfilmde ruimtes gebruik mag word. Die fantasmagoriese verbeeldingsvlugte van Selma verhef die verhaal bo die realisme wat Dogme 95 wil afdwing.

    En derdens is daar tegniese truuks wat Dogme 95 nie toelaat nie: die verandering van kleur tydens die liedjies, die danstonele, die hyskraanskoot aan die einde, wat van die hangende lyk opstyg om die deernisvolle vrouebewaarder Brenda te toon. (Die aktrise in hierdie rol, Siobhan Fallon, verdien loshande my Goue Handdruk as Byspeelster!)

    ’n Resensent het die prent ’n “anti-musical” genoem. Ek sou eerder praat van ’n “meta-musical”, ’n verhaal wat bewustelik werk met die genrekonvensies van die musiek(bly)spel en die verwagtinge van ’n musical deurbreek. Let op hoedat Selma se lewe telkens nŠ ’n liedjie (wat een van haar verbeeldingsvlugte uitbeeld) na ’n erger en dieper krisis beweeg, ten spyte van een van haar lewensbeginsels: sy verbeel haar dat sy in ’n musical lewe, want niks aakligs gebeur ooit in ’n musical nie. Hierdie liedjies werk dikwels om ’n onaangename moment in haar lewe mooier te maak as wat dit werklik is — sou ’n mens kon verwag dat ’n liedjie, gebou op “tel van een tot honderd-en-hoeveel”, ontroerend, boeiend en selfs op ’n vreemde manier mooi kan wees? Hoewel die liedjies ontoelaatbaar sou wees volgens die Dogme 95-reŽls, groei hulle telkens uit geluide wat Selma om haar hoor.

    Selma se lewe is haglik. Sy woon in ’n woonwa agter weldoeners se huis en werk in ’n staalfabriek. Hier stel sy dikwels haar lewe in gevaar deur nagskof te werk, want haar sig is besig om vinnig te versleg. Sy maak geld bymekaar om te verseker dat haar seun betyds ’n operasie ondergaan sodat sy sig gered kan word. Dan steel haar weldoener die geld om hom uit sy finansiŽle verknorsing te red, en hy manipuleer die situasie so dat Selma hom ten slotte doodmaak. Tydens die hofsaak weier sy om Bill se geheime uit te lap en om haar fantasieŽ te laat vaar (soos dat sy die dogter is van ’n beroemde Tsjeggiese musical-danser wat tans in Amerika woon en deur die staat gebring word om haar getuienis as leuens te ontmasker — die rol van hierdie danser word vertolk deur Joel Grey, desjare die compŤre in Cabaret! ). Omdat sy aan die jurie voorgehou word as leuenaar, pleks van ’n idealistiese dromer, en bowendien ’n immigrant, word sy ter dood veroordeel.

    Haar vriende se pogings om haar los te kry behels die gebruik van die operasiegeld vir ’n goeie prokureur, maar Selma wil daarvan niks hoor nie, aangesien dit haar eintlike droom (goeie sig vir haar seun Gene) sal verongeluk. Willens en wetens bring sy die hoogste offer.

    Hierdie vlooi het nie ’n probleem met die storie en die meedoŽnlose eerlikheid waarmee alles gewys word nie (insluitend dit wat volg op die tweedelaaste liedjie!), maar voel saam met ander kykers dat hegter redigering die gehore met meer emosionele krag sou gelaat het om die slot te hanteer. Daar is van die tonele tussen Selma en Bill wat ongerepeteer en ongeregisseer voorkom, en werklik pla. Moes dit so geÔmproviseerd wees? Dit doen afbreuk aan die kwaliteit van die res.

    En ek het sit en wonder hoe BjŲrk ’n diva geword het met daardie stemmetjie, en daardie wanstaltige ou liedjies. Maar soos ’n mens meegevoer raak deur die verhaal, word jy selfs opgeneem deur hierdie vreemde musiek en word die slaankrag van die prent daardeur verhoog. BjŲrk se optrede by die Oscars, om die genomineerde “I’ve seen it all” te sing, was eweneens ’n vreemde ervaring. Daardie swaanrok was vreemd genoeg, en die verbeeldinglose wyse waarop dit “opgevoer” is, het ’n mens net laat besef dat die liedjie en die komponis/sangeres nie met groot agting bejeŽn is nie. Tog was dit musikaal gesproke die interessantste van die vyf liedjies — maar sekerlik dan te veeleisend vir die stemgeregtigdes.

    Die rol van The sound of music as interteks in Dancer in the dark dui op die alombekendheid van hierdie hoogtepunt in Rogers en Hammerstein se skeppingsvennootskap. Selma word gekies in die hoofrol van ’n amateurproduksie daarvan, en die kykers maak ’n paar repetisies mee. Die keuse van die liedjies uit die stuk is sprekend: onder meer die Von Trapp-kinders se nagsÍliedjie. Selma moet later die rol laat vaar omdat haar sig haar in die steek laat. Heelwat later, in die tronk, luister Selma deur die pype hoe daar in die kapel gesing word. Die vreemde ritme wat sy hoor, gebruik sy as “begeleiding” vir ’n enigmatiese weergawe van “My favourite things” — wat sekerlik nie oorspronklik bedoel was om kykers tot trane te dryf nie. Die wyse waarop Selma selfs in die dodesel deur musical-musiek aan die werklikheid ontsnap, roer egter baie diep. Dit herinner aan ’n oomblik uit Claude Lelouch se Les miserables (1995): toe die Joodse egpaar mekaar, na die verskrikkinge van die Tweede WÍreldoorlog, weer raakloop, begin die vrou die bekende “Cheek to cheek” te sing. Die kamera vertoon slegs haar gesig en ’n traan rol stadig oor een wang. Nog nooit (totdat Selma in haar tronksel sing) was soveel yle oppervlakkigheid so diepsinnig nie!

    Die goue Oscar het Dancer in the dark stief behandel. Maar dit is slegs werklik ’n kwessie as jy Oscar beskou as die finale woord in filmmeriete. En as jy uit die oog verloor dat dit makliker is om doelbewus iets onaangenaams te vergeet (ten spyte van die kwaliteit en betekeniswaarde daarvan) as wat dit is om goue beeldjies aan “maklike” flieks uit te deel.

  • En dan is Oscar besig om ’n bepaalde aspek van sy aard te verswyg: DAT DIT ’n KOMPETISIE IS!!! Eerstens is die frase wat die aankondiging voorafgaan, verander van “And the winner is  Ö” na “And the Oscar goes toÖ” Tereg so, het Michael Caine verlede jaar gesÍ toe hy Beste Byspeler was vir The cider house rules. Vanjaar is daar ’n subtiele stappie verder gegaan: die kategorie-aanduiding wat op die skerm vertoon is terwyl die wenner/ontvanger aan ’t praat was, het nie die woord “Best” bevat nie. So was Crowe die Akteur, Steven Soderbergh die Regisseur, en Peter Pau die ontvanger van die Kinematografie-toekenning. Aanbieder Martin het daarna verwys: “Solank niemand net onder die indruk kom dat ons hier besig is met ’n kompetisie nie!” Ja, wel, knolle en sitroene, jy weet  Ö

    1. Die beste oorspronklike klankbane

      Soms lyk dit egter asof Oscar iets regkry. Die vyf genomineerde komponiste in die kategorie (Beste) Oorspronklike Klankbaan is almal bekendes.

      Rachel Portman (Chocolat) was reeds betrokke by 59 prente (volgens die Internet Movie Database), waaronder ’n rits bekendes, soos The cider house rules (1999), Marvin’s room (1996), To Wong Foo, Thanks for everything, Julie Newmar (1995), en The joy luck club (1993), om maar enkeles te noem. Sy is reeds verlede jaar vir The cider house rules benoem, en het in 1997 gewen vir Emma (1996).

      Hans Zimmer (Gladiator) se lys prente waarvoor hy die klankbaan verskaf het, kom by 92 titels uit. The thin red line (1998) en The prince of Egypt (1998), As good as it gets (1997), The preacher’s wife (1996), The lion king (1994) en Rain man (1988) is maar net diť waarvoor hy vir Oscars genomineer is. The lion king het natuurlik die gesogte beeldjie aan hom besorg. Hy het reeds ’n Golden Globe ontvang vir sy musiek vir Gladiator, waar hy te staan gekom het teen Portman, Morricone en Tan Dun, asook Maurice Jarre (Sunshine, 1999) en Marty Stuart, Kristin Wilkinson en Larry Paxton vir All the pretty horses (2000).


      Ennio Morricone (Malťna), die mees ervare genomineerde, is vanjaar benoem vir sy werk saam met die Italiaanse regisseur Giuseppe Tornatore. Vorige samewerking in Nuovo cinema Paradiso (1988), Stanno tutti bene (1990) en The legend of 1900 (1998) het gehore op verskeie vlakke betower. Morricone het egter die musiek vir bykans 400 rolprente op sy kerfstok, wat Hollywood-produksies soos Bugsy (1991) en Hamlet (1990, met Mel Gibson) insluit. Vorige Oscar-nominasies was vir Bugsy, The untouchables (1997), The mission (1986), Days of heaven (1978). Vir sy enigmatiese en meevoerende musiek verdien hy om ’n Oscar naas sy twee Golden Globes (The mission en The legend of 1900) en sy vyf BAFTA-toekennings te kan plaas. Miskien is hy die vyfde keer gelukkig om die wen-stilte te verbreek!

      The patriot (Mel Gibson as Braveheart tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog — of mag ’n mens nie daaroor ligsinnig wees nie?!) is ook feitlik totaal deur Oscar geÔgnoreer, en ander fliekvlooie mag dalk oor hierdie stilswye so sterk voel as ek oor Dancer in the dark. Tog word John Williams se klankbaan met ’n goue knikkie erken. Hy word deur die Internet Movie Database gekrediteer met die musiek vir 150 titels, aanvanklik vir televisiereekse, maar later vir ’n verskeidenheid rolprente wat die Star Wars-reeks van George Lucas insluit, asook die komende Harry Potter-fliek. Nadat hy 34 keer in hierdie kategorie genomineer is, kan hy spog met vyf op sy kaggelrak: vir Schindler’s List (1993), E.T. (1982), Star Wars (1977), Jaws (1975) en Fiddler on the roof (1971). In Oscar-terme, die mees suksesvolle genomineerde dus.

      Die wenner op die ou end was Tan Dun (Crouching tiger, hidden dragon), ’n klassieke komponis uit eie reg. Hy het ’n pragtige atmosfeer geskep in Ang Lee se prent, onder meer met besondere solostukke vir die bekende tjellis Yo-Yo Ma. Hiervoor het hy reeds vier internasionale toekennings ontvang, waaronder ’n BAFTA-prys, en nog ’n aantal nominasies. Hoewel ’n mens nou ’n intense woordestryd kan ontketen oor die teenstrydige frase “lewende klassieke komponis”, kan genoem word dat Tan Dun hom aansluit by ’n lang lys komponiste wat hulle merk in die musiekwÍreld gemaak het en ook suksesvolle komponiste van filmmusiek was. Die name van Erich Korngold (twee Oscars en drie verdere nominasies) en William Walton (twee nominasies) kan hier genoem word. In sy bedankingstoespraak het Dun na homself verwys as ’n “classical composer”, en sy blydskap uitgespreek dat die grense tussen verskillende musiekstyle oorgesteek word. Hoe sinies ’n mens nou ook al wil wees oor Oscar, hierdie fliekvlooi het lank voor die tyd sy plek bespreek vir die televisie-uitsending van die Oscar-aand (my ou-ou kassievriende Frasier, Dharma en Greg, asook Ally McBeal moes maar daai aand tevrede wees met die videobehandeling), en die Amerikaanse prag en praal het weer — sinisme ten spyt — die een of ander vreemde sielkundige behoefte vervul. Ek het sowaar daarin geslaag om na die Maandagaanduitsending te kyk sonder om vooraf ENIGIETS te weet oor wie wat gewen (oeps: ontvang) het! En die seremonie het ’n paar dinge gebied om oor te klets tydens die einde-van-die-kwartaal-personeelfunksie. Soos die sage van Kevin Spacey se vergete tuxedo, en Dame Judi Dench se “afleweringsdiens” — seker die mooiste storie van die aand.

    Ek hoop al my mede-LitNet-fliekvlooie het die seremonie (en die skinnerstories!) op die een of ander manier geniet. Laat weet gerus of julle tevrede is met die uitslag — skryf aan coenraadwalters@hotmail.com

    Fliekvlooigroete!

    Coenraad

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.