FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nirgindwo in Afrika (Nowhere in Africa; 2001)

Coenraad Walters

Met: Juliane Köhler; Regine Zimmerman; Merab Ninidze; Matthias Habich; Sidede Onyulo; Karolina Eckertz
Draaiboek: Caroline Link, gebaseer op Stefanie Zweig se outobiografiese roman
Regie: Caroline Link.


Wat ’n komplekse vreugde van ’n prent is Nirgindwo in Afrika nie! ’n Waardige ontvanger van die Oscar vir Beste Buitelandse Prent, nadat regisseur Link se vorige prent Jenseits der Stille (Beyond silence; 1996), oor ’n meisie en haar doofstom ouers, ook in dié kategorie genomineer is.

Walter Redlich (Ninidze) is ’n Duitse Jood wat gedurende die dertigerjare gevaarligte sien flikker. Hy verlaat dus sy prokureurspos en gaan Kenia toe om op ’n plaas te werk. Later sluit sy vrou Jettel (Köhler) en dogter Regina (Eckertz) by hom aan. Ongelukkig wil die ander lede van hul families nie gehoor gee aan hul waarskuwings nie, met voorspelbare gevolge.

Die egpaar Redlich is totaal uit hul diepte in die pragtige landskap van Kenia, nie gewoond aan handearbeid of die ruheid van die lewe nie. Jettel se pragporselein het sy saamgebring uit Duitsland, maar dit word ’n las pleks van ’n vreugde. Hul dogter is die een wat haar vinnig wen aan haar omstandighede, veral omdat sy ’n vriendskap vorm met die kok Owuor (Onyulo) en die plaaslike taal (Swahili?) aanleer. Taalgebruik is een van vele belangrike temas in die prent: Jettel se woorde aan Owour is dat hy Duits sal moet leer as hy met haar wil praat. Teen die einde van die prent praat sy Owuor se taal vlot, en al drie Redlichs leer ook Engels praat.

Die komplekse stel menseverhoudings wat belig word, is die prent se krag. Benewens die kort reeks aanvangstonele wat in Duitsland afspeel en ’n mens bewus maak van die veranderende houding teenoor die Jode, speel die res van die prent hom in Kenia af. Hier het ’n mens te doen met die verhouding tussen man en vrou, ouers en kind, die Redlichs en die plaaslike inwoners, die Redlichs en ander Duitsers wat gevlug het, soos Süsskind (Habich), die Britse koloniale regering en die inwoners van Kenia van Duitse nasionaliteit.

Die Redlichs word tydens die oorlog in hegtenis geneem en saam met ander Duitsers geïnterneer. In tonele wat aan Tea with Mussolini herinner, word die vroue en kinders egter in ’n hotel aangehou en is die ervaring geensins ’n lyding nie! Wanneer die Jode die Britte oortuig dat hulle in die Nazi-regime ’n gemeenskaplike vyand het, word hulle vrygelaat en hul kundigheid ingespan. Jettel maak ’n groot opoffering om dit te probeer bewerkstellig: nie al die Britte is “gentleman soldiers” nie.

Na die oorlog word Jettel se aanvanklike droom bewaarheid: Walter word as regter in Duitsland aangestel en hulle kan die “onbeskaafde” Kenia verlaat. Maar teen daardie tyd wil sy nie meer nie. Regina se hart wil ook breek, veral omdat sy haar kinderjare moet agterlaat. Wanneer Owuor weggaan, maak hy die klinkende uitspraak: “Hy wat eerste vertrek, se oë is droog.”

Is Nirgindwo in Afrika te lank en te kompleks? Is daar subtemas en tonele wat ’n mens sou kon uitsny? Moontlik, maar onthou van Mozart se “te veel note”! Snywerk sou moontlik die prent hegter kon maak, maar dit sou dit ook bepaald verarm.

Soos in die geval van The pianist, oor die Poolse pianis Szpilman wat die vernietiging van die Warskou-ghetto oorleef, wys Nirgindwo in Afrika ook hoe almal ly tydens ’n oorlog, selfs al is jy ver van die aksie verwyderd. Die manier waarop die gesin Redlich se lewe verskeur word, het my ook herinner aan ’n ander prent waarin die gevolge van die Nazi’s se beleid hartverskeurend uitgebeeld word sonder om ’n enkele konsentrasiekamptoneel te wys: The Comedian Harmonists het gehandel oor ’n Duitse sanggroep wat besonder gewild was, maar moes ontbind omdat die Joodse lede verbied is om verder te sing, en gekies het om ter wille van hul lewens Amerika toe te verhuis.

Caroline Link se verwerking van Stephanie Zweig se outobiografiese roman stel ’n unieke perspektief op die Tweede Wêreldoorlog daar en laat ’n mens sien hoe wyd die invloed van die stryd getrek het. Ek is beïndruk met die tegniese probleme wat oorkom moes word: ek sou graag wou weet hoe die sprinkaantoneel geskiet is, en ek wonder maar hoekom Merab Ninidze se liggaam en Herbert Knaup se stem gebruik is om Walter Redlich uit te beeld. Maar dis juis die kompleksiteit van die menseverhoudings wat my ontroer het en gesorg het dat ek omgee vir die karakters. Ek beveel dit sterk aan.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.