FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The motorcycle diaries

André Crous

Ernesto Guevara en sy beste vriend Alberto Granado (Guevara was 'n mediese student, Granado 'n biochemikus) het in 1952 'n reis van 8 000 myl onderneem op Granado se halfgewillige motorfiets. Die reis sou hulle oor die Suid-Amerikaanse kontinent neem: vanaf Argentinië, oor Chili en Peru en uiteindelik tot in Venezuela.

Ernesto Guevara is natuurlik dieselfde Ché wat op vele jongmense se T-hemde pryk - op myne ook - en gewoonlik simbolies verbind word met die idee van revolusie. Dié film skets hom as 'n eerlike en onskuldige jong man wat deur die loop van sy avontuur gekonfronteer word met die onregverdige sosiale omstandighede van die samelewing.

Die fokus van die film is nie die kommunisme of Guevara se rol in die revolusie nie. Ché Guevara self is nie eens die fokus nie. Die film gaan, ten minste vir die eerste uur, oor twee goeie vriende se reis oor 'n hele vasteland en al die voor- en teenspoed wat hulle sonder te veel swaarkry verduur. Ons sien die motorfiets stelselmatig uitmekaarval, sien hul tent wegwaai, en ontdek 'n viervoetige metgesel.

Eers in die tweede helfte - na 'n ontmoeting met 'n man wat daagliks moet bid dat hy gekies word vir die dag se werk in die myn, en veral tydens Ché en Alberto se werk onder die melaatse gemeenskap - kry die storie 'n meer politieke kleur wat met subtiliteit in die storielyn geïntegreer is.

Walter Salles, die regisseur van The motorcycle diaries, is vandag (saam met die Amerikaanse Terence Malick) se mees visuele filmmaker. Sy vorige films Central station en Behind the sun het dit reeds bewys en sy beelde sal jou asem wegslaan.

Die akteurs is ewe indrukwekkend en lewer byna foutlose spel. Gael García Bernal (van Amores perros en daardie meesterstuk Y tu mamá también) het ek sekerlik al genoeg geloof - dié jong akteur maak sy merk met mening en sal binnekort in die nuutste Almodóvar-film, Bad education, te siene wees. 'n Aangename verrassing is sy medespeler Rodrigo de la Serna, 'n akteur wat ek nie herken nie, maar wat uiters gemaklik en selfversekerd oorgekom het in sy rol as Ché se vriend Alberto Granado. Dié twee is vermaaklik en laat ons onmiddellik gemaklik voel in hul geselskap.

Hierdie is in 'n mate 'n "road movie, waar die reis ook die innerlike ontdekkingsreis van die karakters voorstel", maar dit was Y tu mamá también wat dit duidelik gemaak het dat sulke tweereëlopsommings dikwels uiters onvoldoende is. Die karakters is, danksy die toneelspel en die regie, geloofwaardig en toeganklik, selfs al moet ek erken dat hulle nie vreeslike sielkundige diepte gegee word nie. Die storie verskaf egter wel vir Ché die ikoon 'n agtergrond, en hierdie menslikheid is nodig om te verhoed dat hy 'n leë simbool word.

The motorcycle diaries slaag daarin om Suid-Amerika op grond van ware gebeure voor te stel soos gesien deur die oë van een van die bekendste kommuniste van die twintigste eeu. Of alles in die film waar is, is natuurlik 'n ope vraag. En of Ché so mooi mag wees soos Bernal, sal seker afhang van die kyker se smaak.

Jy mag miskien nie saamstem met al sy latere optredes nie, maar die portret van die jong man skep bewondering en verveel nie vir 'n oomblik nie. Nog 'n kragtoer vir Walter Salles en Gael García Bernal. Gaan kyk die film en dra daai Ché T-hemp met trots.



LitNet: 21 Oktober 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.