FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Todo sobre mi madre / All about my mother (1999)

Coenraad Walters

Met: Cecilia Roth, Marisa Paredes, Candela Peña, Antonia San Juan, Penélope Cruz, Toni Cantó, Eloy Azorin
Draaiboek en regie: Pedro Almodóvar

So moet ’n mens mos ’n fliek maak! wou die fliekvlooi uitroep toe hy by die teater uitspring. So moet ’n mens mos ’n storie vertel oor karakters waaroor baie mense nie eens sou wou praat nie! Daar kom dadelik ’n lys name in my gedagtes op van mense wat radikaal van my sou verskil, en tog: ’n Oscar, Golden Globe en César vir Beste Buitelandse Rolprent, en ’n handvol Spaanse Goya toekennings, suggereer dat Almodóvar tog iets reg doen.

Pedro Almodóvar het homself gevestig as die wilde kind van die Spaanse rolprentkuns. Sy prente is uitdagend en stel karakters voor in uitsonderlike situasies en wys dan hoe hulle hul lewens lei.

Die moeder van die titel is Manuela (Roth), ’n enkelmoeder, wie se sewentienjarige seun Esteban (Azorin) haar verafgod. Op sy sewentiende verjaardag woon hulle ’n opvoering van Tennessee Williams se A streetcar named desire by. Wanneer Esteban agter een van die aktrises se huurmotor aanhardloop om haar handtekening te kry, ry ’n motor hom om. Skrynende ironie: Manuela se kollegas in die orgaanoorplantafdeling van die hospitaal moet haar kom vra om van Esteban se organe te laat oorplant.

Haar rouproses stuur haar terug na Barcelona, waaruit sy 17 jaar gelede gevlug het, weg van Esteban se pa (Cantó) af. Hoewel Esteban amper alles omtrent sy moeder geweet het, het sy nooit die moed gehad om hom alles omtrent sy vader te vertel nie. Nou soek sy weer die mense op wat sy destyds geken het, en ontmoet nuwes wat in daardie warboel van lewens inpas: prostituut-transvestiete, “werklike” aktrises (volgens geslag en nering!), ’n swanger non (Cruz) wat dieselfde fout gemaak het as Manuela 17 jaar gelede. Om veel meer van die verhaal te probeer vertel, is haas onmoontlik: die fyn net van interaksie wat Almodóvar skep, is net te ingewikkeld! Tog word die kyker nooit verwar nie, net dikwels verras.

Die oppervlak van die verhaal kom seepglad voor. Almodóvar hou hom nie op met kwessies van aanvaarding en aanvaarbaarheid nie (hoewel die non se ma nogal ly!). Dit is juis hierdie “katolieke” aanvaarding van mense wat ánders is wat die prent vir sommige kykers onverteerbaar kan maak. Vir my is dit juis een van die grootste winste daarvan.

Cecilia Roth is ’n uitmuntende aktrise en haar loopbaan sal sekerlik soveel baat vind by haar samewerking met Almodóvar as sterre soos Victoria Abril en Antonio Banderras. Die res van die rolverdeling dra haar vertolking en die fassinerende verhaal met knap ondersteunende spel.

Almodóvar se gebruik van intertekste in die prent val op. Aan die begin kyk Esteban en Manuela saam na ’n Spaanse oorklanking van All about Eve, een van die groot prente in die loopbaan van Bette Davis. Hierdie aktrise word later weer genoem wanneer Huma Rojo (Paredes) sê sy het haar persoonlikheid en lewe op Davis geskoei. Die genoemde toneelstuk van Williams, ook in Spaanse vertaling, speel nog ’n groter rol. Manuela het jare gelede daarin opgetree as amateur en Esteban se pa was deel van die rolverdeling. Huma Rojo en haar minnares speel daarin op ’n toer deur Spanje en hierdie toerende produksie beïnvloed Manuela se lewe ingrypend. Kykers wat A streetcar named Desire ken, sal die intertekstuele implikasies daarvan vir Almodóvar se teks beter begryp, maar onkundiges word nie in die duister gelaat nie!

Die befaamde Sagra Familia, ’n katedraal deur die argitek Gaudi, word terloops gebruik om Manuela se aankoms in Barcelona aan te dui. ’n Vinnige stukkie opleeswerk laat ’n mens agterkom dat hierdie manjifieke gebou, waaraan reeds langer as ’n eeu gebou word, weinig meer is as ’n dop! Geen dak nie, geen afgeronde binnekant nie … ’n Mens sou dit kon lees as ’n metafoor vir die proses van “lewe-bou” waardeur die unieke karakters in die verhaal moet gaan. Hierdie proses kan kykers betower en boei, as hulle oop is daarvoor, en verryk uit die teater laat stap. Vreemd genoeg is een van die dinge waaroor ’n mens lank na die fliek nog wonder, die kwessie van wat Almodóvar oor die besige, bonte binneversiering van Barcelona wou sê!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.