FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Monster’s ball

(2002)

Coenraad Walters

Met: Billy Bob Thornton, Heath Ledger, Peter Boyle, Sean Combs en Halle Berry.
Draaiboek: Milo Addica en Will Rokos.
Regie: Marc Foster.

Monster’s ball is ’n fliek met ’n baie donker hart, een wat jou stelselmatig saamsleep na die dieptes van die karakters se lewens. Verskeie momente in die verloop van die verhaal is totaal voorspelbaar, maar die manier waarop dit gebeur en die reaksie van die persone is anders as wat jy verwag — die deernis waarmee dit uitgebeeld word, verleen ’n besondere dimensie daaraan. Die perfekte clichť-slot word met soveel ironie gelaai dat die storie ’n mens veel dieper tref as wat jy dink moontlik is.

Die verhaal val mooi uiteen in drie bedrywe. Tydens bedryf een word ons voorgestel aan Hank Grotowski (Thornton), sy pa Buck (Boyle, Raymond in die sitkom se pa) en sy seun Sonny (’n grillerige Ledger). Hank en Sonny is albei beuls in die Department of Corrections, en Sonny word nou afgerig om deel te neem aan sy eerste teregstelling. Die partytjie of sosiale byeenkomsie (sonder veel vreugde daarby) op die vooraand van die teregstelling staan bekend as die “monster’s ball”, om begryplike redes.

Sonny het egter te veel van sy ma in hom: hy is nie naastenby so rassisties as sy pa en veral sy oupa nie, en het ’n veel sagter streep as die ouer mans (vergelyk sy poging om meer persoonlike toenadering tot Vera, die prostituut). Dit lei daartoe dat hy nie sy rol kan klaar speel in die teregstelling nie — sy deernis met die veroordeelde Lawrence Musgrove (Combs) is te sterk. Die spanninge in die huis waarin die drie geslagte mans saamwoon, word tot breekpunt gespan en gee mee.

Hierdie eerste bedryf kan gesien word as ’n visuele essay oor die doodstraf. Natuurlik word ’n mens herinner aan Dead man walking (1995), en daar is selfs ooreenstemmende visuele truuks (die spel met weerkaatsings in die glasruite van die doodmaakkamer). Aangesien die verhaal nŠ die teregstelling voortgaan, word die situasie effens meer beknop aangebied, maar tog word die spektrum van emosies van al die betrokkenes aangedui — ’n meesterlike stukkie filmkuns.

In bedryf twee ontmoet Hank toevallig vir Leticia, ’n kelnerin (Berry). Hy help haar in ’n besonder moeilike situasie, en hulle begin na mekaar uitreik. Een aand, as gevolg van ’n kombinasie van histerie en dronkverdriet, vra (byna dwing!) sy hom om haar weer goed te laat voel. Die sekstoneel wat volg, sal sekerlik kultusstatus bereik — dit kontrasteer deeglik met Sonny se ses sekondes vroeg in bedryf een. Na die tyd sien Hank in die badkamer ’n foto van Lawrence.

Ten spyte hiervan sit hy die verhouding voort. Hoewel die kyker weet bedryf drie stuur af op die toneel waarin Leticia agter die kap van die byl kom, verras die draaiboek ’n mens, en jy ontwikkel sterk waardering vir die onderspeelde manier waarop regisseur Foster die saak hanteer — besonder subtiel en vaardig.

Die groot vraag op vele lippe is seker: Moes Halle of moes sy nie? Stel dit so: die feit dat daar nou ’n Goue Mannetjie in haar huis staan, strek die Akademie tot eer. Nie oor sy swart is nie (’n feit wat sy self besonder sterk beklemtoon het!), maar oor sy baie goed is — sy staan haar plek vol in die geledere van vorige wenners, en van vanjaar se benoemdes (Zellweger, Spacek, Dench en Kidman). Waaroor ’n mens mag wonder, is die feit dat sy eers tydens bedryf twee op die voorgrond tree. Hoewel sy in bedryf een te sien is, is haar rol daar weglaatbaar klein. (Onthou julle vir Anthony Hopkins in The silence of the lambs? Een van die kortste bekroonde hoofrolle in dekades.)

Maar die uitstaande manier waarop sy Leticia se emosies uitbeeld, maak haar rol in die laaste twee bedrywe besonder groot. Leticia beleef diepe, diepe hartseer en ontsteltenis, wat so erg is dat dit selfs die stukkie geluk in haar lewe besmet. En sy besef maar te goed: ’n mens het nou maar net een lewe, en jy moet die beste daarvan maak!

Ook Billy Bob Thornton oortuig in sy rol as die beul wat skielik nie meer sy werk kan doen nie en vanuit sy eie emosionele verwarring vir iemand anders probeer sorg. Boyle se rol verskil nie vreeslik baie van die sitkomrol waarvoor hy tans in Suid-Afrika bekend is nie, maar sy arrogansie, hardvogtigheid en rassisme is hier meer navrant en skokkend. Die karakter se mediese toestand het hom nie sag en genaakbaar gemaak nie!

Nie ’n maklike fliek vir ’n ligte-vermaak-aand nie, maar ’n besonder knap film met ’n stewige draaiboek en besondere toneelspel. Sterk aanbeveel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.