FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mona Lisa smile

Coenraad Walters

Julia Roberts, Kirsten Dunst, Julia Stiles, Maggie Gyllenhaal, Ginnifer Goodwin, Dominic West, John Slattery, Marcia Gay Harden
Regie: Mike Newell
Draaiboek: Lawrence Konner en Mark Rosenthal


Ek skrik nie vir estrogeen nie. The hours bly die beste fliek wat ek nog ooit gesien het, selfs al handel dit oor ’n groep middeljarige vroue wat hulself vind (neerhalende opsomming deur kollega Richard). Ek kan die meeste chick flicks saam met enige vroulike fliekvlooi geniet – solank dit voldoen aan die vereistes van goeie rolprentkuns.

Mona Lisa smile het my geïrriteer en slegs om een rede: dit preek te ooglopend. Daar is te veel tipes in plek van karakters, en daar word heeltemal te swaarwigtig omgegaan met die rolprent se ideologie. Selfs Mike Newell se Britse regisseurshand kon dié aspek nie genoegsaam verdoesel dat ’n mens by die mense uitkom nie.

Die verhaal is sekerlik teen dié tyd bekend genoeg: Katherine Watson word gespeel deur Julia Roberts (wat gelukkig min glimlag en daarom mooier lyk as gewoonlik). Watson is ’n geleerde dame, ’n rariteit in die vroeg vyftigerjare, van die Amerikaanse Weskus afkomstig, en word aangestel aan ’n kollege vir meisies/dames/vroue (kies maar die korrekte term!) aan die Amerikaanse Ooskus, die naaste wat vroue in daardie jare sekerlik aan ’n Ivy League-universiteit kon kom. Sy bied weerstand teen die heersende ideologie van hoe vroue beheer behoort te word en watter rolle hulle in die samelewing mag beklee. Sy bots met die personeel, die ouers en veral die studente. Wanneer sy ten einde laaste bedank, laat haar een klas blyk dat hulle haar ondersteun.

G’n wonder dit word ’n Dead poets society vir vroue genoem nie.

Ek is deur talle mense aangesê om wel te gaan kyk, want dit is so ’n fantastiese fliek. Die interessante aspek van dié aanbeveling is natuurlik dat dié positief-gesinde fliekvlooie (almal vroue, en geensins floskoppies nie) so sterk identifiseer met die ideologie van die fliek dat hulle die swak manier waarop die storie vertel word, miskyk.

Nou stem ek ook heelhartig saam met die ideologie: Vroue behoort nie ingeperk te word deur sosiale instellings of rolle nie, hulle moet hul individualiteit kan uitleef en hul drome najaag en hul potensiaal verwesenlik. Ja, duisend maal ja. Maar die stories wat dit uitbeeld, moet asseblief tog net subtiel wees.

Benewens die hardekop skeibreker van ’n dosent, is daar die hovaardige getroude student (Kirsten Dunst), die intelligente meisie met keuring vir ’n vooraanstaande regskool wat kies om haar in ’n huwelik te begeef (Julia Stiles), die vinnige meisie wat met enigeen, selfs haar dosente, in die bed spring (Maggie Gyllenhaal), die verskimmelde muurblommetjie wat ten slotte haar droom gaan gryp (Ginnifer Goodwin), en nog ander uit die Hollywood-stereotipe-versameling.

Die gebruik van musiek is soms veral sprekend: wanneer die studente aan die begin van die akademiese jaar die geslote deur van die Hoofsaal nader om volgens die tradisionele seremonie aan te klop en toelating te vra, sing die kollege waar die prent verfilm is, se eie koor Mendelssohn se toonsetting van Psalm 121 – in die Engelse vertaling as “Lift, o lift thine eyes up to the mountains”. Wanneer die deur geopen word en die meisies die saal instroom, word die bekende gesang “I vow to thee, my country” gesing.

Goeie spel, pragtige artistieke inkleding, kunswerke (daai Jackson Pollock …) en fotografie (neem enige deel van New England in die herfs af en jy het ’n voltrefferlandskap!), goeie idees en goeie intensies red ongelukkig nie ’n swak vertelling nie.

16 Februarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.