FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

A Beautiful Mind

André Crous

“Films are magic,” het die Franse New Wave-regisseur François Truffaut gesê. Maar is flieks ’n weerspieëling van die werklikheid? Die dekade-oue vraag.

Ek sal net kyk na die basiese verskil tussen flieks en dít wat die werklikheid genoem word. Wie gee op die ou end om of ’n fliek “realisties” is of nie? Maak dit regtig saak of Maximus in Gladiator regtig bestaan het of nie, en wie gee daaroor om dat daar nie regtig ’n verliefde paartjie genaamd Rose en ’n Jack op die Titanic was nie? Is die hele experience nie die ding wat eintlik saak maak nie? Flieks is iets wat subjektief ervaar word, en enige resensie moet die ervaring van die resensent weerspieël. Dit moet nie ’n flou probeerslag wees om ’n objektiewe, alwetende oogpunt daar te stel nie. Dít wat ervaar word, is dít wat saak maak.

Ek bedoel dit nie op ’n suiwer hedonistiese wyse nie, maar vir my moet ’n fliek bowenal ervaar en geniet word op die vlak van emosies, en moet ’n droë fliek nie ’n “classic” genoem word slegs omdat intellektuele idees aangespreek word of omdat hierdie en hierdie shot gebruik is nie. En ’n fliek moenie neergeskiet word omdat dit slegs op die vlak van emosies funksioneer nie. Wat is daarmee fout om deel te hê aan die aksie op die skerm, of om deur ’n storie “gemanipuleer” te word?

Uiteindelik kom ek by my punt uit: die basiese verskil tussen flieks en die werklikheid — denke. Ons almal dink, maar hoe kan die denke van ’n karakter in ’n fliek gewys word?

Fight Club het dit tot ’n mate reggekry, en as ons kyk na die films van Fellini, speel hy ook met feite en fiksie en werklikheid en drome en of dit regtig so sleg is om die een met die ander te verwar.

Vir my om enigiets meer te sê omtrent die verhouding tot A Beautiful Mind sou te veel wees, en ek los dit op hierdie punt.

A Beautiful Mind stel ons voor aan die wêreld van John Forbes Nash, ’n wiskundige genie wat, soos elke groot denker in die geskiedenis, op soek is na een unieke idee. Sy idees en sy wêreld word op ’n amper-magiese manier aangebied. Die storie vlieg van drama deur komedie, romanse en film noir. ’n Genie is nie soos die res van die wêreld nie, en tog verstaan ons hoekom Nash doen wat hy doen. Alles is helder.

Die rede waarom ek nog nie die akteur wat Nash speel, genoem het nie, is dat dit nie opvallend is nie. Russell Crowe is die akteur agter die rol, maar die persoon op die skerm is 100 persent Nash. Ek het verstom gesit en kyk na ’n rol wat so natuurlik en so briljant vertolk is soos die een wat Marlon Brando in A streetcar named Desire vertolk het. Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, aka die Oscars, is wel onvoorspelbaar en weet soms nie regtig wat hulle doen nie (kyk net na die weglating van Jim Carrey vir The Truman Show), maar as Russell Crowe nie vir sy rol in hierdie fliek erken word nie, sal dit ’n skande wees.

Sy vrou word gespeel deur Jennifer Connelly, wat te sien was in Requiem for a dream, die beste film wat nog ooit oor dwelms en verslaafdheid gemaak is.

Ek moet myself keer om nie te veel te sê hoe perfek die film is nie. Enigiemand wat sou verskil, en wys op dele waar die regisseur, Ron Howard (The Grinch, EdTV, Apollo 13), meer op suiwer genot as op die storielyn fokus — soos die raaiselagtige, paranoia-belaaide film noir-tonele — mis die punt totaal en al. Daar is ’n wonderlike, ontstellende toneel waarin Nash se vrou die vervalle shack agter hul huis binnegaan, en dít wat ons sien, kom in skelle kontras met ’n vorige toneel. Só ontrafel die raaisel van die storie, en van die karakter van John Nash.

Moenie voor die tyd probeer uitvind wie John Nash was en wat hy gedoen het nie. Die twists in die fliek word stelselmatig onthul, en uiteindelik behoort almal trots te voel oor wat iemand soos hy verrig het.

Hier is weer ’n geval van storie vs werklikheid. Daar is op die oomblik ’n lelike veldtog teen die fliek, omdat sekere mense voel dat John Nash slegs op ’n kommersiële manier uitgebeeld is, en dat sekere elemente doelbewus weggelaat is. Hierdie is natuurlik ook die mense wat sou dink dat Fellowship of the Ring as ’n briljante fliek op sy eie funksioneer. As iets veronderstel behoort te word, hoekom word dit nie maar net so wel in die fliek gesit nie? Die budget is sekerlik daar. Fellowship of the Ring werk nie sonder die bestaan van die twee volgende flieks (Two Towers en Return of the King) nie; dis so eenvoudig soos dit. Net so, moet stories en agtergrond nie buite die teks — die film — gesoek word nie, want dit is weggelaat met ’n rede, en vir die doeleindes van die storie is sulke elemente nie die kwessie nie.

Die feit dat die verhaal wat vertel word, waar is, maak die film realisties. Só ’n stelling klink miskien ietwat bisar, maar daar is soveel intrige en klein twists dat dit normaalweg afgemaak sou kon word as ’n storie met té veel verbeelding.

A Beautiful Mind met sy agt Oscar-nominasies is ’n baie beter film as Fellowship met sy dertien nominasies. Die musiek en die make-up en die akteurs en die draaiboek en die regie is alles wonderlik, en die fliek self is die beste een sover hierdie jaar. Die film is so interessant en buitengewoon soos die hoofkarakter, en verdien alle moontlike erkenning.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.