FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Me, myself and Irene

Suzette Kotzé

Spelers: Jim Carrey, Renée Zellweger, Robert Foster, Chris Cooper
Regisseurs: Peter en Bobby Farrelly

Min fliekkykers voel neutraal oor Jim Carrey: óf jy haat die man met die rubbergesig, óf jy’s mal oor hom. Me, myself and Irene is nogmaals Carrey (lees: lawwe humor wat nie ’n bietjie kru is nie), weer eens in ’n film deur die Farrelly-broers van Dumb and Dumber-faam.

Charlie Baileygates (Carrey) is al vir agtien jaar ’n mees voorbeeldige lid van die Rhode Island-polisiediens. Hy is beleef en vriendelik en het ’n passie vir sy werk as dienaar van die gereg in die beste moontlike sin. Maar: in Charlie se goeie hart skuil ’n monster wat wag om uit te kom, en daai monster wag al vir 18 jaar.

Want sien, Charlie het al daardie jare gelede hierdie pragtige blonde meisie gehad wat ewige trou aan hom gesweer het. Maar toe hy die dag sy stralende bruid oor die drumpel dra en omdraai om die bestuurder van die gehuurde limousine, ’n man van Afro-Amerikaanse afkoms met dwerg-sindroom, te betaal, begin die moeilikheid. Op sy onskuldige vraag “Hoe betaal ek julle mense?” breek die bestuurder los met ’n tirade oor sy rassistiese uitlating, wat oorgaan in ’n tirade oor sy diskriminasie teen “die klein mensies”. Tussendeur slaan hy Charlie pimpel en pers met ’n Oosterse gevegstok terwyl Charlie se bruid, nog in trourok en sluier, woedend vir Charlie is.

Sy begelei die bestuurder na sy motor met oorvloedige verskonings, en in hul gesprek blyk dit dat hy net soos sy ’n lid van Mensa is … en ongeveer nege maande later is die Baileygates-egpaar in die kraamteater waar nie net een seun gebore word nie maar drie. En hulle is al drie sterk koffiekleurig.

Maar Charlie het die wonderlike vermoë om die volstruistoertjie te doen en net die sonskynkant van die lewe raak te sien, en hy gaan voort asof niks gebeur het nie. Ook toe sy vrou hom ’n klompie jare later inlig dat sy en die Mensa-lid bymekaar hoort en hom met die opgeskote drieling agterlaat. Soos die jare aanrol, groei die seuns op tot drie reuse met ’n voorliefde vir swart TV-komediante en rapmusiek, en hoewel elke tweede woord uit hul monde “motherfucker” is, is hulle goedaardige kinders met briljante IK’s en hulle en hul pa is baie gelukkig in hul klein voorstedelike huisie.

By die werk is Charlie ook die perfekte Mnr Gaaf en die dorpenaars oor wie hy wet en orde moet handhaaf, mors met hom. Sy buurman bring elke oggend sy hond om op Charlie se grasperk sy ding te doen. Charlie sluk dit maar (by wyse van spreke). Die man wat al vir die derde dag sy motor wederregtelik geparkeer het, gooi sy motorsleutels vir Charlie om die motor elders te parkeer, ’n dogtertjie sê Charlie sleg toe hy haar vra om op te hou touspring in die pad — Charlie sluk dit maar. Maar toe ’n vrou in die supermark voor hom indruk by die betaalpunt, begin daar harde rockmusiek in sy ore speel. Voor jou oë verander doodgoeie Charlie in Hank, die man wat nie meer almal se nonsens sluk nie. Hy loop op sy spoor terug en laat die wederregtelike parkeerder sy woorde sluk en die parmantige meisietjie swembadwater. In die verbygaan vat hy sommer self ’n slukkie by die goedbedeelde jong vrou wat op ’n parkbankie besig is om haar baba te soog (dis Jim Carrey, onthou, melksnor en al).

Charlie en Hank begin mekaar afwissel, en Hank se vuilbekkigheid en voorliefde vir gevegte word ’n al groter probleem, totdat die kopdokters ingeroep word. Charlie se probleem word gediagnoseer as gesplete persoonlikheidstoornis, maar solank hy sy medikasie drink, kan hy dit beheer. Toe hy egter ’n jong aangeklaagde, Irene Waters (Zellweger), New York toe moet begelei, vergeet hy sy medikasie … en die voorspelbare gebeur.

Irene het onlangs haar kêrel, die eienaar van die gholfklub waar sy bestuurder was, afgesê, en hy maak die lewe vir haar moeilik deur allerhande vals klagte by die polisie te lê, want hy het maatjies daar. Maar wat sy nie weet nie, is dat hy ’n hele reeks onderduimse skemas aan die gang het, en die New Yorkse polisie is op háár spoor omdat hulle dink sy kan hulle die inligting gee wat hulle nodig het om hom vas te trek.

Irene beroep haar op Charlie vir beskerming, en ’n kat-en-muisspeletjie met die polisie volg. Dit loop uit op ’n yslike reddingspoging deur die drieling in ’n helikopter (hulle is slim, onthou, hulle sukkel nie om ’n helikopter te leer vlieg nie) en die tipies sentimentele einde met Charlie en Irene wat mekaar vind en vir altyd gelukkig saamlewe.

Carrey is sy briljante self met gesig- en lyfspel wat by tye verstommend is, maar Renée Zellweger se spel steek ongelukkig af teen syne — ’n mens wonder soms of sy nie die rol gekry het net omdat hulle minnaars is nie. Die vlug voor die polisie is te uitgerek en verloor stoom na die einde toe, en Charlie en Hank se uiteindelike “tweestryd” raak regtig ’n bietjie te veel, maar in die geheel behoort die film Carrey-aanhangers nie teleur te stel nie, danksy ’n oorvloed platvloerse en politiek-onkorrekte situasies en kwinkslae.

  • Suzette Kotzé
    Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.