FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The Majestic

André Crous cinephile2@yahoo.com

Die heksejag en die House Un-American Activities Committee van die 1950’s is oral bekend en het ’n belangrike impak op Hollywood gehad. In die Middeleeue is iemand wat as ’n heks aangekla is, in die rivier gegooi: indien die persoon oorleef het, was dit ’n heks; indien die persoon verdrink het, was dit nie. ’n Onskuldige het geen kans nie.

Dís hoe dit was met McCarthy se heksejagte. As jy van Kommunisme verdink is en voor die Kommissie verskyn het, moes jy nóg name gee van ander “medekamerade”, selfs al was jy nooit by enige vergaderings nie. Dit is ’n hopelose situasie, wat — soos die fliek dit goed wys — loodreg teen demokrasie en vryheid van spraak ingaan.

Hierdie fliek is vol sogenaamde Amerikaanse patriotisme en die alledaagse Amerikaner wat veg teen ongeregtigheid met niks behalwe sy waardes en ’n wil om te doen wat reg is nie.

Maar hierdie is nie nog ’n Pearl Harbour nie, moenie worry nie. Hierdie is ’n storie soos Frank Capra (Mr Smith Goes to Washington, It’s a Wonderful Life), ’n groot Amerikaanse regisseur van die 1930’s en 40’s, dit sou vertel het. Patriotisme, nasionalisme en gesonde morele waardes.

Die storie klink eenvoudig. 1951: ’n skrywer — wat van Kommunistiese aktiwiteite aangekla word — ry halfdronk van ’n brug af, beland in ’n rivier en spoel uit op die strand met geheueverlies. Een van die mans in die dorpie langsaan herken hom as sy seun wat in die oorlog verlore geraak het, en hulle begin die rolprentteater “The Majestic”, wat hulle jare vantevore besit het, weer regmaak, om dit te heropen en die terugkeer van die verlore seun te vier.

Hier begin dinge regtig interessant raak. My gunstelingfliek ooit is Cinema Paradiso, en iets van The Majestic het my hieraan laat dink.

Flieks het iets onbeskryfliks wat hordes mense daarheen trek. Daar is eenvoudig iets baie meer opwindends en bekoorliks daaraan om twee uur lank voor ’n groot skerm te sit as om op en af te spring voor ’n klein boksie in jou sitkamer. François Truffaut, die Franse regisseur, het gesê die grootste geskenk wat ’n regisseur kan kry, is om tydens ’n vertoning van sy fliek voor ’n gehoor te gaan staan en na die gesigte te kyk wat in verwondering staar na iets wat hy geskep het.

Flieks soos hierdie herinner ons nie net aan die vermaaklikheidsaspek van flieks nie, maar aan die kapasiteit daarvan om betekenis aan ons lewens te gee. Ja, ons weet dat dít wat ons sien, nie regtig gebeur nie, maar niemand gee daaroor om nie. En in hierdie fliek word hierdie idee letterlik toegepas om nuwe betekenis aan die hoofkarakter se lewe te gee.

Dié hoofkarakter is Luke Trimble, of ten minste dit is wat aan hom vertel word. Sy naam is eintlik Peter Appleton. Hy word gespeel deur Jim Carrey en Carrey kan regtig act. Niemand weet — sal ooit weet — hoekom hy nie eers vir ’n Oscar genomineer is vir The Truman Show nie.

Carrey se pa word gespeel deur Martin Landau (North by Northwest, EdTV), en die meisie op wie Luke verlief was en op wie Appleton nou self verlief raak, is Laurie Holden. Sy lyk soos Marilyn Monroe uit ’n 1950’s-prent.

Die storie is regtig lekker en die enigste bad guy is die sisteem van die HUAC waarin niemand kan wen nie. Net gewapen met die konstitusie en basiese vrye wil durf hy die komitee aan.

Die regisseur, Frank Darabont (The Shawshank Redemption, The Green Mile) meng klassieke flieks gemaklik met hierdie storie. Daar is posters van The African Queen en A Streetcar Named Desire, ’n bespreking van The Life of Emile Zola, en die situasies werk eenvoudig reg uit: Is dit moontlik dat die dorp se enigste dokter by die presiese rolprentvertoning sal wees waar ’n ander hoofkarakter ’n hartaanval kry? Waarskynlik nie, maar wie gee om?

Opwinding is belangriker as realisme. Daar is nie enige diep simbolisme wat raakgesien hoef te word nie: alles is straightforward en pragtig.

Die fliek het styl, maar is te lank. Ek het geen probleem met lang stories nie. Kyk net wat het Darabont met Shawshank reggekry (wat dieselfde lengte as hierdie een is: 145 minute), maar daar is minder om oor opgewonde te raak hier. Darabont speel ’n baie lekker speletjie met self-verwysende dialoog, maar raak soms te ingewikkeld, en moes liewer by ’n eenvoudige “swart-en-wit” storie gebly het.

Hierdie is ’n fliek om oor opgewonde te raak. Dit is vol hoop, demokrasie, wholesome genot en die alomteenwoordige betowering van flieks.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.