FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Le Libertin

Suzette Kotzé
Frans met Engelse onderskrifte
Spelers: Vincent Perez, Fanny Ardant, Michael Serrault, Francois Lalande, Josiane Balasko
Regisseur: Gabriel Aghion

Die agttiende-eeuse filosofiese beweging bekend as die Verligting het tot ’n groot mate die Westerse wêreld van die negentiende en selfs twintigste eeu bepaal — ’n uiters belangrike en interessante stuk geskiedenis dus. Le Libertine is die Franse filmmaker Gabriel Aghion se lighartige kyk op dié tydperk, nie ongepas nie aangesien Franse denkers soos Diderot, Montesquieu, Voltaire en Rousseau ’n leidende rol in die Verligting gespeel het.

Dis ongeveer 1760 en Diderot (Vincent Perez ) is volstoom besig met sy epogmakende Encyclopédie. Wat aanvanklik begin het as ’n vertaling van die Britse ensiklopedie, is onder Diderot se redakteurskap vernuwe en uitgebrei tot ’n magtige 35 volumes. Vir die besielde denkers is dit die ideale voertuig om die idees van die Verligting aan die massas oor te dra ten einde hulle op te voed en die “Age of Reason” sy beslag te gee. Die eerste klompie volumes van die Encyclopédie is egter reeds deur die Franse regering verbied en Diderot en vrinne werk nou ondergronds, hoofsaaklik op die landgoed van die ouerige baron D’Holbach (Francois Lalande) en sy jolige vrou (Josiane Balasko). Daar kreun ’n drukpers dag en nag in ’n ondergrondse vertrek, terwyl die Verligtes bogronds hul lewensfilosofie met oorgawe uitleef. Vir die doel van die film sentreer dit hoofsaaklik om lekker eet en fornikeer, op elke moontlike tyd, plek en posisie.

Die regering soek egter onverdrote die intellektuele moeilikheidmakers se bloed, en die film begin dan ook met een van dié klopjagte deur die polisie. Die polisiemanne op soek na Diderot word nogmaals speel-speel uitoorlê (dié lê natuurlik in ’n mik), maar dan kom die volgende bedreiging: die kardinaal (Michael Serrault), broer van baron D’Holbach, kom kuier. Wat volg, is ’n lang en uitgerekte treitering van die geestelike amptenaar — die brandpunt van die Franse Verligtes se verset was dan inderdaad ook teen die Kerk. Al die pogings om te verhoed dat hy die drukpers ontdek, lei tot ’n opstapeling van klugtige gebeure.

Die opperste rokjagter Diderot het egter ook ’n nuwe vroulike prooi in die oog: die pragtige Madame Therbouche (Fanny Ardant), wat een oggend baie vroeg per koets opdaag. Gelukkig vir hom is sy ’n portretskilder wat gestuur is om sý beeld te verewig … a, al daardie uurtjies alleen saam in die ateljee! Maar die uitgeslape Madame laat hom mooitjies sy (kaal) bas sien: sy dring daarop aan dat sy hom aan die wêreld wil wys net soos hy is, ja, die naakte hy. Diderot, dolverlief, neem haar in sy vertroue oor die wegsteekplek van die drukpers, maar iets aan die skone skilderes se optrede klop nie heeltemal nie …

Dié klugspel het ongelukkig nie die subtiele smaak en tekstuur van ’n Franse meringue nie, dis meer soos ’n periode-weergawe van ’n tipiese Amerikaanse roomtert-komedie. Om die waarheid te sê, ek het dit sommer laf gevind, met die aanvalle op die kardinaal wat net aan en aan hou, en die sekskapades wat net aan en aan hou. Verder word daar so af en toe ’n smeerseltjie filosofie bygegooi om te herinner dat dit hier eintlik om ’n ernstige saak gaan.

Al die spelers doen met oorgawe mee om die klugtige pas vol te hou, maar veral Josiane Balasko as die kos-orgasmiese barones is ’n plesier om te aanskou. Die immer sensuele Fanny Ardant slaag daarin om ’n sekere diepte aan haar karakter te gee, en Audrey Tautou as een van die opgewonde tienermeisies is net so bekoorlik as in Amélie. Vincent Perez sal sekerlik onthou word vir daardie naaktoneel in die tuin; dit hou so lank aan dat die kyker nogal grondig kan besin oor die rol van bengelende manlike naaktheid in rolprente (en hy kan maar uithaal en wys, hoor).

Nou nie die swakste ooit nie, maar beslis nie ’n soethappie om oor huis toe te skryf nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.