FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Promised Land

André Crous

cinephile2@yahoo.com

Dié film word op 24 Januarie 2003 in Suid-Afrika vrygestel.

Ek het nog nooit, en ek sal nooit, aan myself dink as ’n Afrikaner nie. Ek is ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner.

Hierdie is een van die mees volwasse pogings ooit om ’n behoorlike Suid-Afrikaanse fliek te maak. Daar is wel gate in die storie en ’n narratief wat verstrengel raak in styl, maar nie sedert Jans Rautenbach se Die kandidaat (1968) is Afrikaners so genadeloos met hulself op die groot skerm gekonfronteer nie.

Die fliek het guts. Dit gaan in Suid-Afrika vrygestel word terwyl dit instellings soos die AWB verskeie blatante houe gee.

In Promised Land gebruik die regisseur, Jason Xenopoulos, soms stereotipes en clichés, maar die krag van die film om Suid-Afrika in sy huidige (ja, ietwat oordrewe) situasie uit te beeld, is iets besonders.

’n Jong man, George Neethling (gespeel deur Nick Boraine), keer terug vanaf Engeland na die plaas wat hy saam met sy ma verlaat het toe hy vyf jaar oud was: Rietvlei. Hy het gekom om sy oorlede ma se as hier te strooi. Hy raak egter verlore op die oop vlaktes van die Suid-Afrikaanse binneland en ontmoet ’n boeregesin, wat verblyf aanbied wanneer hulle hoor dit is George Neethling.

Aan die etenstafel ontmoet ons die hele gesin: die pa, Hattingh (Louis van Niekerk), die ma, Mart (Wilma Stockenström), hul drie seuns Johannes (Grant Swansby), Hendrik (Dan Robertse) en Paul (Daniel Browde), en hul dogter Carla (Yvonne van den Bergh).

Hulle sê vir George dat hulle hom na sy geboorteplaas sal neem, maar dat daar nie meer iets is om te sien nie. Soos ons sal uitvind, is uiting en bedoeling hier presies gelyk — ’n mooi verlenging van die fundamentalistiese natuur van die meeste karakters in hierdie film.

Aan tafel is daar reeds iets aan die gang tussen George en Carla, maar niemand — nóg ons nóg hulle — weet presies wat aangaan nie. In hierdie geval is dit egter ’n baie goeie voorstelling van ’n realistiese situasie. Nie alles is swart en wit nie.

Ons vind uit dat Carla aan Gerhard Snyman (Ian Roberts) verloof is, ’n man wat duidelik almal rondom hom beheer, en veral hierdie verlowing dra by tot behoorlike konflik in die storie.

Die storie ontaard in ’n metaforiese spel met identiteit: Yvonne van den Bergh speel die rol van beide Carla en George se ma, terwyl Nick Boraine beide George Neethling en dié se oom, Pieter Neethling, is. Daar is verbindingsdrade: Carla en George word nader aan mekaar getrek, soos Carla en Pieter ook was, en George se ma is Pieter Neethling se suster.
’n Groot vraagteken hang rondom die identiteit van George se pa. In ’n film wat deur manlike figure gedomineer word, is sy weglating uiters verdag.

Die film handel oor ’n aantal wit plaasgesinne wat besig is om te mobiliseer teen die Swart Gevaar wat dreig om hulle rustige bestaan te verander. Die groep Afrikaners is rassistiese Bybelfundamentaliste wat — soos hulle self erken — veg teen almal wat nie Afrikaners is nie. Almal wat nie soos hulle is nie, is die vyand. Hierdie pigeon-holing, wat ’n eienskap van die modernisme is, is baie belangrik binne die konteks van die storie en hierdie resensie daarvan.

George sê dat hy nêrens hoort nie: in Engeland was hy ’n Boer, en in Suid-Afrika is hy ’n Rooinek. Die moderniste sit hier met ’n probleem ten opsigte van identiteit. Maar, Carla spreek wyse woorde wanneer sy sê dat jy nie jouself as “een van ’n spesifieke groep” hoef te sien nie. Soos in Die kandidaat, waar Cobus Rossouw se karakter daarteen beswaar maak dat Apartheid almal “netjies in gaatjies” probeer plaas.

Carla se broer Paul hoort ook nie tuis in hierdie omgewing nie: hy is gay. In hierdie geïsoleerde gemeenskap van maghebbende omies, onderdanige tannies en fris, rugbyspelende seuns is daar nie plek vir mense soos Paul nie.

Die karakters in die fliek is almal effe ekstreem, maar nie onmoontlik nie. Vir hierdie mense beteken Afrikanerwees dat jy wit is, Afrikaans praat, die Bybel woord vir woord navolg, en jou Godgegewe land moet beskerm teen die gevaar van Kommuniste of Swartes of Jode (“die werkers van die Antichris”, sê Snyman). Alles uiters modernisties: Almal en alles het hul plek, en bewaar jou siel as jy waag om anders te wees of die sisteem te bevraagteken.

Die film speel af in ’n byna tydlose omgewing; die enigste teken van post-1994 is die padkaart wat in nege provinsies verdeel is. Aan die einde sien ons ook ’n ou ZAR-vlag teen die muur hang, en sulke details dra by tot ’n veelvlakkige tydskonsep.

’n Beswaar teen die fliek is sy gesukkel in die eerste helfte, asof die filmmaker nie weet waarheen hy op pad is nie. Die fliek begin, interessant genoeg, met iemand wat in die middel van die nag met oop arms ontvang word deur ’n gesin. Wat hierop volg, is egter oomblikke wanneer die tonele maklik deel van ’n horror kon vorm, en op ander tye weer so selfbewus raak dat dit doelbewus keer op keer antwoorde op belangrike vrae vermy. Later het die kyker nie meer ’n clue presies wat aangaan nie, en in films is so ’n intense spel van waarheid en verdigsel baie moeilik om suksesvol reg te kry.
Die kamerawerk is puik en die atmosfeer is enersyds misterieus en raaiselagtig, andersyds wanhopig en verlate.

Op ’n serebrale vlak is die fliek pretensieus, en veral met die persoonlikhede speel dit ’n speletjie waarvan die kyker nooit die reëls uitgewys word nie.
Maar op ’n emosionele vlak werk dit, en die fliek se klimaks het my gemoker. Die ou Romeinse gesegde van die retoriek geld steeds: mense dink met hul emosies en nie met hul koppe nie.

Die fliek is goed. Ten spyte van probleme. Dit het vir my langer gevoel as sy twee uur lengte, maar die regisseur het ’n volledige wêreld geskep vir die storie, ’n wêreld met mense wat nog in my kop vassteek lank nadat ek die fliek gesien het. Ian Roberts en veral Daniel Browde se toneelspel troon hier uit oor die van ’n klomp Suid-Afrikaanse akteurs wat reeds — met goeie rede — as elite beskou word.

Een van die beste Suid-Afrikaanse films wat ek nog ooit gesien het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.