FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hollow man (2000)

Coenraad Walters

Met: Kevin Bacon, Elisabeth Shue, Josh Brolin, William Devane
Draaiboek: Gary Scott Thompson en Andrew W. Marlowe
Regie: Paul Verhoeven

’n Nuwe Paul Verhoeven rolprent is gewoonlik ’n gebeurtenis. Hierdie Nederlander, een van ’n hele klomp Europeërs wat deel van die Hollywood hoofstroom geword het, het oorspronklik sy merk gemaak in Amerika met die Nederlandse De vierde man, ’n verfilming van ’n Gerard Reve roman. Sy kommersiële Amerikaanse prente het hom bekend gemaak vir elegante, opwindende prente waarin die gehore uitgedaag word om na te dink oor kontensieuse kwessies. Dié wat nie wil dink nie, kan hulle gewoonlik vergaap aan Verhoeven se hebbelikheid om die nuutste tegnologie in te span vir skouspelagtige spesiale effekte. Robocop (1987), Total recall met Schwarzenegger (1990), Basic instinct met Michael Douglas en Sharon Stone (1992), en Showgirls (1995) het Verhoeven in gelyke mate beroemd en berug gemaak.

Sy vorige prent, Starship troopers (1997), gebaseer op ’n roman van Robert Heinlein, is nie alleen ’n wetenskapfiksie verhaal oor hoe ’n toekomstige aardse totalitêre staat die invalle van reuse insekte hanteer nie, maar ook ’n satire op die hedendaagse Amerikaanse samelewing en waardes. Die draaiboek wemel van subtiele stekies, en enigiemand wat maar net effens verby die oppervlak kyk, sal heelwat raaksien om oor te grinnik of oor te dink.

Hollow man daarenteen, is ’n teleurstellng. Die verhaal word ernstig aangebied, sonder die satiriese element wat dit meer draaglik sou maak, maar tog is die dialoog van so ’n aard dat ’n mens vir die gemeenplase wil lag. Die intrige self is so oud soos die berge.

Sebastian Caine (Bacon) is ’n briljante wetenskaplike wat ’n projek lei om mense onsigbaar te maak, en dan weer terug te bring na normale formaat. Eksperimente op ander soogdiere slaag, en Caine bied self aan om die eerste menslike proefkonyn te wees. Hy verdwyn heel suksesvol, maar die poging om hom terug te bring, faal. Hy raak geweldig gefrustreerd, maar begin die buitengewone voordele van onsigbaarheid later geniet en uitbuit. Hy is nie die stereotiepe mal wetenskaplike nie, maar sy onaangename persoonlikheid en magswellus dryf hom tot dade wat vir andere waansinnig voorkom.

Die voorspelbare gebeure herinner aan prente so uiteenlopend as The terminator en Fatal attraction. Die goeie karakters is nie soseer goed nie, maar weerstaan die slegte en word tot ondenkbare uiterstes gedryf om daarvan ontslae te raak. Sowaar niks nuuts onder die son nie: nie eens werklik ’n ander kyk na die kwessies ter sprake nie. Die tema van onsigbaarheid is ook reeds dikwels voorheen gebruik: die vroegste is sekerlik The invisible man (1933), geregisseer deur James Whale, bekend vir sy Frankenstein prente en die onderwerp van Gods and monsters.

Kykers wat Verhoeven se oeuvre ken, sal benewens die benutting van tegnologiese nuwighede (daar sal moontlik ’n paar tegniese Oscar nominasies wees) ook ander bekende temas en stylgrepe raaksien. Die tradisionele geslagsrolle maak plek vir situasies waarin man en vrou gelykgestel word. Hy voer hierdie tema selfs verder en hy maak die vroulike karakter (gewoonlik ’n blondine) in baie gevalle die man se meerdere. Dink maar aan Nancy Allen in Robocop, Sharon Stone in Total recall en Basic instinct, die vroulike karakters in Starship troopers en nou ook Shue in Hollow man, wat eerder Sebastian se teenstander is as Brolin se karakter. (Die feit dat hulle vroeër in ’n romantiese verhouding gestaan het, kompliseer hul magspel.) Daarbenewens word karakters in leierskapposisies gewoonlik as gewetenloos en genadeloos voorgestel tydens hul pogings om die wêreld, ironies genoeg, ’n beter plek te maak om in te woon. Mense (en diere) sterf op allerlei gewelddadige wyses, maar die omstanders blyk onaangeraak te wees daardeur. In Hollow man probeer Sebastian ten slotte bloot om die wëreld vir homself genietbaar te maak, en voer sy moordtog op so ’n manier dat die buitewêreld juis nie daarvan weet nie.

Ek wou nie werklik dié fliek sien nie, het ek omtrent driekwartpad deur besluit. Die wreedheid daarvan is ontneem van menslikheid deur die grondliggende hipotese, en nóg die geykte draaiboek nóg die redelik gewone toneelspel verbloem hierdie gebrek. Kykers wat oe en aa oor briljante visuele effekte, nie ’n goeie of oorspronklike verhaal vereis nie, en van spanningsverhale hou, sal moontlik aanklank vind by Hollow man. Maar sensitiewe siele moet wegbly.

(Die insigte en hulp van Ludwig van Coppenhagen met die skryf van hierdie resensie word met dank erken. Hy is Afrikaanse vakhoof van Somerset College, Somerset-Wes.)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.