FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Talk to her (Hable con ella)

Suzette Kotzé

Spaans met Engelse onderskrifte

Spelers: Javier Cámara, Dario Grandinetti, Leonor Watling, Rosario Flores, Geraldine Chaplin
Regisseur: Pedro Almodóvar

“The war of the sexes is alive and well,” sê ’n man onlangs vir my. Dat die grootste probleem tussen mans en vroue steeds is dat hulle mekaar nie verstaan nie. Dat vrouebevryding van die afgelope 50 jaar vroue in opposisie tot mans geplaas het. Dat vroue baie verander het en dat mans noodwendig ook sal moet verander — maar moontlik nie in die rigting waarin vroue sou hoop nie, naamlik dat mans meer in voeling moet kom met hulle “vroulike sy”, om die balans te bring waar vroue hulle “manlike sy” begin uitleef het op alle terreine. Inteendeel, die kloof tussen die twee geslagte gaan moontlik al groter word.

Die gevierde Spaanse regisseur Pedro Almodóvar se Talk to her lewer ’n interessante bydrae tot dié gesprek. Twee manlike karakters, Benigno (Javier Cámara) en Marco (Dario Grandinetti) en twee vroulike karakters, Alicia (Leonor Watling) en Lydia (Rosario Flores), staan sentraal, maar waar sy vorige film, All about my mother, hoofsaaklik op die vrouekarakters gefokus het, val die fokus hier op die twee mans. Is hulle die “nuwe man” waarna vrouetydskrifte van die 1990’s so naarstig gesoek het? Die man wat sagter is, in kontak met sy gevoelens, wat met ’n vrou kan praat en haar kan hóór? Of gaan dit uiteindelik oor iets nog diepers, oor dit wat groter is as die verskille, naamlik kommunikasie, vriendskap en liefde?

Die film open waar Benigno en Marco langs mekaar in ’n teater sit en na ’n dansopvoering kyk. Hulle is vreemdelinge vir mekaar, maar omdat Marco huil terwyl hy na die opvoering kyk, onthou Benigno hom. Daarna sien jy Benigno by die kliniek waar hy die verpleër is van die jong Alicia, wat al vir vier jaar in ’n koma is ná ’n motorongeluk. Mettertyd ontvou Benigno se verhaal: hoe hy vanaf sy tienerjare vir 15 jaar lank sy ma versorg het tot haar dood (sy pa het hulle lank voor dit al gelos). Vanuit sy vasgekluisterde lewe het hy verlief geraak op Alicia, ’n belowende dansstudent by die dansskool reg oorkant sy huis. Hy het haar meestal net deur die venster dopgehou, maar eendag kry hy die geleentheid om met haar kennis te maak en te gesels. Kort daarna verongeluk sy, beland by die kliniek waar hy werk en begin hy haar daagliks, en baie nagte ook, intiem versorg. Hy begin leef as 't ware vir haar, begin die goed doen waarvoor sy altyd lief was (dansopvoerings, sekere musiek, stilfilms) en kom terug en vertel haar alles. In sy brandende liefde vir haar glo hy dat sy elke woord hoor wat hy sê, en dat die wonderwerk van haar herstel sal gebeur.

Ook Marco, ’n vryskutskrywer, se verhaal ontvou: sy ontmoeting met Lydia, ’n vroulike stiervegter, en die verhouding wat tussen hulle ontwikkel. Maande later, op pad na ’n belangrike geveg, sê sy dat hulle moet praat (let op die belangrike tema van kommunikasie, soos reeds in die titel vervat). Die gesprek vind egter nooit plaas nie, want sy doen ernstige breinbeserings op en beland in dieselfde kliniek as Alicia. Benigno en Marco word vriende, en elk “leer ken” ook die vrou in die ander se sorg. Wanneer Marco worstel om enige verbintenis met Lydia te voel, is Benigno se raad: “Praat met haar. Dit is wat ’n vrou wil hê: dat jy met haar sal praat.” Daardie praat kry Marco eers baie later in die film reg, en in ander omstandighede. Maar daaroor wil ek nie meer sê nie, want dit sal te veel van die storie verklap.

Benigno se karakter dra die boodskap van die film. Jy sou hom onskuldig kon noem, of naïef, jammerlik selfs — die hoof van die kliniek noem hom ook later, wanneer sy eiesoortige sienings en optrede verreikende gevolge het, die “retard”. Maar dis ’n ou bekende motief in sprokies en verhale dat die grootste wysheid uit die mond van die gek kom.

Soos in die Oscar-bekroonde All about my mother vervleg Almodóvar weer ’n aantal karakters se lewens op verrassende wyse en skep ’n onderliggende eenheid van mens tot mens (hier spesifiek aangedui deur opskrifte). Dis opvallend, en bevestigend van hierdie menslikheid, hoe hy ook die “klein” karakters in die kameerolle driedimensioneel inkleur, byvoorbeeld Benigno se kollega Rosa, en later die opsigter by die woonstelgebou en die ontvangsdame by die tronk.

Ook soos in All about my mother speel kuns ’n baie belangrike rol. Die mens se uitdrukking van homself deur middel van kuns word dig verweef met die oorkoepelende tema van kommunikasie en ekspressie. Die film open en sluit met ’n danstoneel, daar is ’n hartverskeurend mooi vertolking van die lied “La Paloma”, die stilfilm wat op uiters vernuftige wyse as katalisator gebruik word, en selfs die TV-kletsprogram en Lydia se stiergevegte is alles vorms van uitdrukking deur kuns.

Om terug te kom na die oorspronklike argument: in Talk to her werk Almodóvar weer op sy kenmerkend grensverskuiwende manier met geslagsrolle en persepsies oor die geslagte — ek dink hier veral aan die vroulike stiervegter Lydia, maar vergelyk ook die bespiegelings of Benigno gay is of nie en die tipiese siening oor manlike verpleërs (of haarkappers, of wat ook al). Daar is veral veel te neem uit sy manlike karakters, wat saam met die trane en tere versorging (die tradisioneel vroulike aspekte) ook reddersfigure is -- in die Westerse mitologie een van die hoogste “manlike” posisies, soos ingeneem deur Christus. Wys Almodóvar ons ’n vorm van die versoening of integrasie van manlik en vroulik? Waar die eerste danstoneel twee wanhopige, afgetakelde vroue wys met ’n man as buitestaander, bring die laaste toneel ’n voltooiing: ’n agttal paartjies wat gesinchroniseer en vreugdevol saamdans.

Vir my is die beste flieks dié waar ’n regisseur met iets oorspronkliks vorendag kom en terselfdertyd volkome in beheer is van sy stof. Almodóvar, wat benoemings ontvang het vir beste regisseur en beste draaiboek vir vanjaar se Oscars, het dit.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.