FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The road to Guantanamo

Andrť Crous

Regisseurs: Michael Winterbottom (gedramatiseerde tonele) en Mat Whitecross (onderhoude)
Draaiboek: Michael Winterbottom
Looptyd: 95 min
Spelers: Rizwan Ahmed, Farhad Harun, Arfan Usman
Onderhoude met:
Shafiq Rasul, Ruhel Amed, Asif Iqbal

Hierdie fliek moet jy sien.

As Suid-Afrikaanse verspreiders dit optel.

Van buite af lyk dit asof ons gaan kyk na propaganda opgedis as dokumentêr (in die gees van Michael Moore se Fahrenheit 9/11), maar hierdie is iets drasties anders: ’n film wat binne ’n streng feitelike konteks sy saak stel teen die huidige toedrag van sake. Sonder om te speel op emosies, en sonder om te preek, skep dit ’n uiters menslike beeld van karakters in ’n situasie wat ondenkbaar is en nogtans voortgaan.

Hierdie is die ware verhaal van drie jong, taamlik sekulêre Moslemmans uit Birmingham. Asif is ’n jong ou wat teruggaan Pakistan toe om die vrou te ontmoet wat aan hom toegesê is. Wanneer hy besluit dat hy wel gaan trou, kom sy vriende Ruhel en Shafiq ook na hierdie land waaruit soveel ander Britte stam. Die drie verken die hoofstad, Karatsji, en word saamgesleur deur ’n menigte wat moskee toe gaan om te luister na ’n imam se toespraak waarin hy verwys na die swaarkry van die Afghaanse bevolking.

Opgesweep deur die retoriek, en met ’n gewilligheid om ander mense te help, vat hulle die pad grens toe. Dit is drie weke na 11 September 2001, maar die naïewe vriende kon nog nie raai dat die VSA ’n ander land sonder rede sou inval nie.

Die vriende se pad loop, deur ’n string ongelukkige toevallighede, tot in ’n dorp vol Taliban-ondersteuners iewers in Afghanistan. Wanneer die VSA se vuurkrag die inwoners van die dorp dwing om hulle oor te gee, word Ruhel, Shafiq en Asif aangesien as Moslemterroriste en in hegtenis geneem. Hulle praat natuurlik nie Pasjtoe nie en kan dus nie verduidelik wat hul situasie is nie.

Op pad na die tronk word talle op barbaarse wyse deur die plaaslike owerhede afgemaai, terwyl hulle vir ure aaneen sonder ventilasie opgesluit is onder die woestynson.

Uiteindelik eindig hulle in Guantanamo, die berugte Amerikaanse weermagbasis in Kuba waar gevangenes (teenstrydig met internasionale reg) buite die Geneefse verdrag aangehou (en mishandel) word.

Die dramatiese gebeure in die fliek word telkens verduidelik – gekontekstualiseeer – deur onderhoude met die regte Asif, Ruhel en Shafiq. Die feit dat die drie vriende heeltyd sigbaar is in die dokumentêre verhaal, stel die kyker op ’n manier gerus: jy weet hulle gaan uiteindelik vrygelaat word uit Guantanamo. Maar wat gebeur intussen?

Rare films kry dit reg om jou te laat vergeet dat jy na iets kyk waarby jy nie fisies teenwoordig is nie. Die wonder van The road to Guantanamo lê daarin dat die film dokumentêre dele (die onderhoude; televisiemateriaal uit die tydperk waarin die verhaal afspeel) met bravado en ’n perfekte sin vir ritme heg aan die gedramatiseerde gebeure, waar akteurs in die hoofrolle is. Ek is herinner aan City of God, wat dieselfde gevoel van teenwoordigheid by my geskep het. Die kyker vergeet totaal en al dat alles wat hy sien, choreografie is en dat geen dramatiese toneel dokumentêr van aard is nie.

Betrek “regte gebeure” noodwendig die kyker sterker by ’n verhaal? Wat is die belang van die realiteit in ’n film? Ons kan hier na Fargo verwys , waar daar gesê word dat die gebeure werklik plaasgevind het. Leuen. Alles in Fargo is opgedroom deur die draaiboekskrywers en die regisseurs het na “ware gebeure” verwys omdat hulle gedink het die kykers sou sodoende sterker geraak word deur die storie. Hulle is.

Ek sal erken dat die blitsige pas van The road to Guantanamo se redigering waarskynlik heelwat oploop en uitbreiding uitsny, maar hierdie is ’n tendens wat al hoe meer in onafhanklike films insluip: jy wys nie hoe gebeurtenis A verander in gebeurtenis B verander in gebeurtenis C nie; jy wys A, dan B, dan C. Die flieks van die Belgiese Dardenne-broers (wenners van twee “beste film”-toekennings by Cannes sedert 1999 – hul flieks is nog nooit in Suid-Afrika vrygestel nie) is goeie voorbeelde hiervan.

Die impak op die kyker is egter geensins minder geslaagd nie. In hierdie fliek word die verskillende visuele gebeure verder verbind met duidelike en pertinente voice-overs van die werklike karakters.

The Road to Guantanamo is nie ’n film teen Bush nie; die fokus van die film is die vasberadenheid van die Amerikaanse weermag om die gevangenes te wantrou en so lank as moontlik van enige vryheid te weerhou. Die kamp is ’n sirkus (’n metafoor wat duidelik word wanneer die soldate hulle lomp onlusmondering aantrek), en een van die gevangenes bestempel dit inderdaad as ’n dieretuin.

Die een Brit wat na die Ooste kniel om te bid, word neerhalend deur een van die wagte gevra hoekom hy hom soos ’n Moslem gedra – hy is dan immers Brits. Die soldaat gaan dan verder en vra of hy so kniel vir die Koningin. Dis nie ’n gebrek aan intelligensie aan die kant van die soldaat nie, dis eenvoudig ’n tipies Amerikaanse onverskilligheid ten opsigte van die wêreld buite sy grense. Ek hoef nie eens die insident te noem waar CNN ’n jaar of twee gelede op ’n kaart van Europa duidelik “Austria” bo-oor Switserland geskryf het nie.

Die hopeloosheid van die situasie is die ergste. Daar is geen manier waarop jy met rede te werk kan gaan in jou gesprekke met hierdie Westerlinge nie. Jy kan nie jou saak stel nie, en kan dus geen deurbraak maak nie. Alles wat jy sê, sal teen jou gebruik word. Daar word van die punt af uitgegaan dat Al-Qaida-terroriste opgelei word om leuens te vertel. Ek noem terloops dat die onlangse selfmoorde in Guantanamo deur die Amerikaanse weermag beskryf is as ’n “an act of asymmetrical warfare waged against us” (http://news.bbc.co.uk/2/hi/americas/5069230.stm).

Ek het teruggedink aan die dooppraktyke van jare gelede: die “kyk af!” waarmee die Amerikaanse soldate hier die vermeende Al-Qaida-terroriste toesnou, was een van die basisopdragte gedurende my eerste week op hoërskool. Die vergelyking is heeltemal juis. Die Amerikaanse weermag is ook besig met ’n spel waarin hulle, deur middel van belaglike reëls en regulasies, hul mag op onredelike wyse wil afdwing.

Die film is egter nie eensydig in sy voorstelling van die soldate by Guantanamo nie. Daar is oral soldate en hoëres wat skepties is oor die onskuldigheid van die drie, en ek erken dat sekere soldate se gedrag moontlik effens oordrewe is. Daar is wel simpatieke karakters onder die soldate, maar ons simpatiseer onmiddellik met ’n onbekende vermeende Al-Qaida terroris wanneer sy Koran soos ’n sokkerbal deur een van die wagte rondgeskop word. Basiese respek word nie gegun nie. Dit is onaanvaarbaar. Is Amerika nie die land waar jy onskuldig is tot jy skuldig bevind is nie?

Daar is ’n goed gekose naskrif tot die fliek, waar die sogenaamde “war on terror” (’n vreeslik naïewe benaming vir ’n hedendaagse heksejag geïnspireer deur Joseph McCarthy) nie eens genoem word nie – ons kry een of twee eenvoudige, verpletterende statistieke: die aantal soldate wat vermoedelik in Guantanamo aangehou word; die aantal wat wag op ’n verhoor; die aantal wat, na al hierdie jare, skuldig bevind is.

The road to Guantanamo het vroeër dié jaar vir Michael Winterbottom die toekenning vir beste regisseur by die Berlynse filmfees besorg, en die bekwame manier waarop hy die chaos van die Amerikaanse inval in Afghanistan herskep, is werklik iets om te aanskou.

Die film is vol feite wat jou warm maak met woede. Dit wys ongeregtigheid, sonder om polities voor te kom. Winterbottom verweef meesterlik dokumentêr en feit-gebaseerde drama en skep ’n film wat op alle vlakke ’n sukses is.

Die Guantanamo-kamp moet sluit en Amerika moet ophou om die internasionale gemeenskap se beroep op logika en menslikheid te ignoreer. Marteling is ook terrorisme.




LitNet: 21 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.