FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The good Girl

André Crous

cinephile2@yahoo.com

Mense (jammer— karakters) met depressing lewens maak nie noodwendig vir depressing flieks nie.

Kollega Suzette verwys in ’n onlangse resensie na die genre van die “depressing film”. The good girl word genoem. Is hierdie film regtig depressing? Ek sal eers die storie skets, en dan later weer na hierdie vraag kyk.

Justine (Jennifer Aniston) is dertig jaar oud en werk by ’n klein Texas-dorpie se klein supermark, Retail Rodeo. Wanneer sy saans by die huis kom, sit haar man, Phil (John C Reilly)— ’n huisverwer— op die rusbank saam met sy vennoot Bubba (Tim Blake Nelson) en televisie kyk. Albei uit hul sinne uit gestone.

Justine en Phil is al sewe jaar lank getroud, maar Justine kon nog nooit verwag nie. Sy blameer Phil se gerookte toestand, maar dit lyk asof Phil al vantevore die skuld op Justine gepak het (of is dit moontlik net ’n verlenging van Justine se skuldgevoelens …?).

By die supermark is die karakters karikature. Daar is die immerglimlaggende skepsel van ’n sekuriteitswag wat almal probeer bekeer (gespeel deur Mike White, die draaiboekskrywer), die effens oorgewig bestuurder wat glad nie agterkom wat ’n grap van ’n plek hy bestuur nie, die ou verkoopsdame wat met plooie op haar gesig die klante probeer oortuig dat hulle ’n make-over nodig het, en die meisie agter die mikrofoon wat dag in dag uit die spesiale aanbiedinge emosieloos voorlees.

Dan, skielik, verskyn Holden (Jake Gyllenhaal). Hy is ’n 22-jarige seunsgesig-outjie wat— nadat hy universiteit weens drankmisbruik gelos het— net tydelik hier wil werk. Hy is ’n skrywer.

Holden en Justine sien mekaar raak.

Die film stel dit goed (miskien oorgeromantiseer?): Justine en Holden— twee mense op die rand van hul eie wêreld, en deur almal misverstaan— verstaan mekaar met die eerste oogopslag. Goed dan, dit is regtig oorgeromantiseer, maar ek wou glo dat dit waar is.

Holden gebruik sy stories om sy eie issues te konfronteer. Justine het nie hierdie uitlaatpyp nie, maar by Holden vind sy vertroosting. Holden soen Justine. Justine soen terug. Hulle daag saam by ’n motel op.

Holden laat Justine skielik weer jonk lyk en voel. Maar wat gebeur verder in die film? Hier neig dit na depressing. Hoe meer Justine by Holden betrokke raak, hoe harder probeer haar man, Phil, haar tevrede stel. Met wie moet ons empatiseer? As ons vir Justine en Holden stem, is ons noodwendig téén Phil? Phil maak die antenna reg, en hy gaan selfs saam met haar (al is dit nou in sy bedwelmde toestand, ’n wonderlike toneel) na die Bybelstudiegroep.

Soos in enige film oor egbreuk moet die hoofkarakter ’n belangrike keuse maak. Moet die arme Phil ’n tweede kans gegun word? Het Justine hom regtig lief? Of het sy en Holden iets belangrikers? Mense rondom haar begin fluister. Is Holden net ’n kind? Is daar ’n regte oplossing vir haar situasie? Wie gaan sy kies?

Jennifer Aniston het vervel. Sy het die glansgloed van Friends se Rachel Green afgeskud en ’n metamorfose ondergaan om in die lae-klas Justine te verander. Ook Jake Gyllenhaal vertolk die rol van Holden— die effens versteurde jong man agter wie se oë honderde gedagtes rondflits, en wat net liefgehê wil word deur iemand wat hom verstaan— met absolute oortuiging.

Ek dink terug aan ’n artikel van Roger Ebert waarin hy die moontlikheid bevraagteken dat— so lui die storie— Casablanca se bekroonde draaiboek geskryf is terwyl dit verfilm is. Die vraag duik dan ook op of die laaste toneel die vorige aand geskryf is. Volgens Ebert was die laaste toneel— waar Humphrey Bogart en Ingrid Bergman se verhouding met ’n verrassing opgelos word— die enigste moontlike konklusie tot die storie. Geen vervaardiger sou sy geld gewaag het om ’n rolprent in 1942 te finansier waar egbreuk aan die orde van die dag is nie.

Sal ’n 2002-rolprent dit wel doen? Of doen ’n “good girl” nie sulke goed nie? Is Justine in elk geval ’n good girl?

Hierdie fliek bewys weer eens dat ’n bad guy nie nodig is vir ’n storie nie. Daar is afpersing, maar die karakter hierby betrokke word so komies voorgestel dat ons nie anders kan as om te lag nie.

So, is hierdie fliek depressing? Die karakters is jammerlik, ja. Maar die storie is nie pikswart nie. Dit het nie daardie gevoel van wanhoop wat Dancer in the dark so meesterlik reggekry het nie. Miskien hang dit saam met die weglating van ’n bad guy.

Die film is hartroerend. Dit wys watter moeilike besluite deur almal gemaak moet word, aan watter sosiale stand hulle ook al behoort.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.