FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Garage days

André Crous

cinephile2@yahoo.com

Garage days is in die styl van onlangse dwelmfilms soos The rules of attraction, wat vroeër vanjaar skokgolwe in konserwatiewe Suid-Afrika veroorsaak het. Die film val weens sy tema effens buite die konvensionele definisie van ’n musical. Daar is visuele ooreenkomste, maar die storie is in ’n groot mate steeds in ’n realistiese, hedendaagse milieu gegrond.

Met ’n regisseur soos Alex Proyas (The crow, Dark city) aan boord, is styl van die allergrootste belang in dié produksie, en dit lei tot ’n indrukwekkende fliek wat deurgaans die aandag hou, maar net vir ’n klein groepie kykers groot plesier gaan verskaf.

Freddy (Kick Gurry) is die hoofsanger van ’n band in Sydney. Ander karakters is die kitaarspeler Joe (Brett Stiller), Joe se meisie, Kaye (Maya Stange), Freddy se meisie, Tanya (Pia Miranda), en die demoniese dwelmslaaf/tromspeler Lucy (Chris Sadrinna).

Freddy ontmoet per toeval ’n groot musiekagent en die band probeer hul bes om uiteindelik genoeg geld in te samel om ’n demonstrasiekasset te maak om aan hom te stuur.

Joe se pa was ’n rockster (waarskynlik nie veel beter as sy seun se band nie) in sy jeug, en is nou een van daardie tipes wat in die middel van die dag in sy luiperdvel-onderbroek rondloop en Corn Flakes kou. Joe en sy vriende wil so ’n uiteinde ten alle koste vermy. Hul musiek is te swak om suksesvol te wees, maar hul sterk vriendskap verhoed dat hulle ophou probeer.

Hierdie is die breë buitelyne waarmee die fliek werk, maar uiteindelik vervorm dit tot ’n selfverheerliking van wat ek graag die “drug musical” wil noem: stylvolle hallusinasie-operas, waarvan Trainspotting, Fight club, The rules of attraction en tonele uit Moulin rouge enkele voorbeelde is.

In 1998 het ek Proyas se Dark city gesien — die beste wetenskapfiksiefilm ooit, wat met reg daardie gewoonlik hol frase verdien van “meer verbeelding in een skoot as waarmee die meeste films in hul geheel kan spog”. Dark city het enorme verwagtinge geskep van sy regisseur, maar Proyas het byna vyf jaar lank gewag en toe ’n film oor ’n tweederangse band gemaak. Dit klink asof dit nie sin maak nie, maar Proyas se jongste produk spog met dieselfde beheersing van styl en tegnologie om ’n visueel opwindende film vir die jaar 2003 te maak.

Hierdie is nie net nog ’n tienerfliek nie, want tienerflieks beeld byna nooit dwelms uit nie, en veral nie die mate waarin LSD en kokaïen hier met die nodige hallusinasies (wat uiteindelik vele verrassings in die storielyn skep) verskyn nie.

Daar is twee sekwense in die film — getiteld “Fun with Drugs” — wat ons tref soos goeie oorlogstonele: terwyl ons die kuns van hul uitvoering bewonder, skok hulle ons met die aksies van die karakters en die implikasies van dít wat ons aanskou.

Die karakters is niks besonders nie: hulle kan nie sing nie, niemand hou van hul musiek nie, en hulle skarrel net heeltyd rond en probeer hul persoonlike probleme — ’n mengsel van melodramatiese romanse en acid trips — oplos.

Waar die film slaag met sy kamerawerk, faal dit met karakters wat absoluut geen diepte het nie. Daar is ’n hele klomp clichés (veral in die dialoog!), maar hulle word binne die konteks op so ’n vars wyse aangebied dat ek die film nie daaroor wil veroordeel nie.

Ten spyte van al die dwelms en die verminkte bewussyne is dit ’n baie ligter film as The rules of attraction. Die redes hiervoor is die musikalisering van wat eintlik ’n taamlik donker dwelmverhaal is, en ook die afstand wat geskep word tussen die kyker en die oppervlakkige karakters.

Is dit eties aanvaarbaar dat harde dwelms, aborsie en nekrofilie op so ’n uitbundige, advertensieagtige wyse aangebied word? Waarskynlik nie, maar Proyas het dit nogtans reggekry om my deur sy kunstigheid te betrek by die storielyn en het my nooit verveel nie.

Garage days het plat karakters en min verrassings. Die vermaak lê in die klein detail wat Proyas in sy film gebruik, in die humor van elke toneel en in die interaksie van hierdie spul lawwe karakters. Miskien nie ’n Dark city nie, maar geensins teleurstellend nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.