FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Frida

Suzette Kotzé

Gegrond op die biografie Frida deur Hayden Herrera.

Spelers: Salma Hayek, Alfred Molina, Ashley Judd, Edward Norton, Antonio Banderas, Geoffrey Rush. Regisseur: Julie Taymor

Die Mexikaanse skilder Frida Kahlo het so die afgelope agt, tien jaar ’n soort modeverskynsel geword. Skielik was dié gepynigde kunstenaar op almal se lippe. Feministe het haar aangegryp as behorende tot hulle kamp, modebewustes het haar klerestyl en prominent gegrimeerde oë en wenkbroue nageboots, jappies het hulle huise Mexikaans versier — noem maar op.
Gevolglik was ek huiwerig oor die fliek. Sê nou dis net nog ’n stuk Hollywood-hype, mooi verpak maar sonder diepte en/of inhoud? Tot my groot verligting is ek nie teleurgestel nie. Die resultaat van die petite Salma Hayek se prestige-projek (waarmee sy groot name soos Madonna en Jennifer Lopez, wat ook in ’n Kahlo-film belang gestel het, op die neus laat kyk het) is ’n uitbundige, atmosfeerryke visuele fees.

Pyn word poëties (vergelyk die uiters treffende voorstelling van die tremongeluk), en meer siniese geeste kan meen dat dit in die film verromantiseer word. Dat Hayek se Frida nooit gepynig of kreupel genoeg lyk nie. Ek was bereid om my te laat meesleur deur die groot karakters, dramatiese verhaal, ryk kleure, stylvolle beligting en hartstogtelike musiek (ai, daardie kroegsangers!).

Voeg daarby dat die regisseur groot moeite gedoen het om ’n historiese tydperk outentiek uit te beeld, en daarin geslaag het om die verskillende fases van ’n besonder vol lewe in 120 minute ingepas te kry sonder dat dit afgejaag of brokkerig voorkom.

By nadenke het dít vir my uitgestaan van Frida: die paradoks van groot kuns wat uit groot pyn gebore word. Ons ontmoet haar die eerste keer in 1920 in Mexikostad as ’n lewenslustige skoolmeisie, onkonvensioneel (sy daag luiters in ’n manspak op vir haar suster se troufoto’s) en seksueel ongeïnhibeerd. Die passie van die latere kunstenaar is duidelik reeds daar, maar dan kom die pyn: die tremongeluk wat haar gruwelik vermink en haar die res van haar kort lewe (sy’t op 47 gesterf) in pyn gedompel het.

Haar skilderye, wat intelligent met die filmtonele geïntegreer word, is uitsonderlik en oorspronklik, en ’n herwaardering van haar werk uit ’n kunsoogpunt is inderdaad gepas. Dis opvallend dat sy blykbaar self nie veel vertroue in haar werk gehad het nie (vir haar was dit uit nood gebore en die enigste manier waaraan sy kon dink om haarself, as ’n kreupele, te onderhou) terwyl die muurskilder Diego Rivera (Alfred Molina), haar groot liefde en ’n erkende kunstenaar van sy tyd, dit altyd hoog aangeprys het.

A, Rivera … 21 jaar ouer as Frida, vry gees, groter as lewensgroot, en ná twee vorige huwelike, deur vele liefdes, minnaresse, verleidings, verlatings en verraad deur, nog steeds aan haar sy toe sy sterf. Die soort verskeurende, alles oorweldigende, gedoemde, mórsige liefde wat sorg vir wonderlike dramatiese materiaal.

In ’n fliek soos hierdie, oor ’n persoon wat ’n ikoon geword het en waar daar nog lewendes is wat haar persoonlik geken het, is dit uiteraand onmoontlik om ’n ware beeld te gee van die Frida Kahlo. Al wat ’n regisseur kan doen, en hier na my mening baie suksesvol doen, is om ’n beeld te gee van ’n Frida Kahlo. Dat die “emotional truth” van die voorstelling belangriker is as die “literal truth” (om ’n ander groot gees se idee ’n bietjie aan te pas). Die sukses van hierdie voorstelling berus grootliks by Salma Hayek as Frida, en Alfred Molina as Rivera. Albei laat dit wérk, en veral Molina was vir my ’n verrassing — sy vertolking staan geen tree terug vir Hayek s’n nie. Van die ander groot name staan Ashley Judd as die vrysinnige kunstenaar Tina Modotti uit, en haar en Hayek se tango is ’n uitdagende toevoeging tot die groeiende lysie onvergeetlike tango-filmtonele.

Frida word al lank aangekondig as een van 2003 se grotes, en inderdaad: met so ’n begin kan ons blymoedig hoop op ’n beter filmjaar as die skraal 2002. Lekker fliek!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.