FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Forgiveness

Suzette Myburgh

Spelers: Arnold Vosloo, Zane Meas, Denise Newman, Quanita Adams, Christo Davids, Lionel Newton
Regisseur: Ian Gabriel
Vertoontyd: Vanaf 25 Junie

Wat sou gebeur het as ons in Suid-Afrika nié 'n Waarheids- en Versoeningskommissie gehad het nie? Sou die woede en pyn van mense wie se familielede en vriende onder die apartheidsregering vermoor is, gelei het tot weerwraak en moord? Dis van die pertinente vrae wat hierdie film laat ontslaan. Dis ook waarom filmprojekte soos hierdie lof verdien, want daardeur word dié belangrike vrae kollektief gestel en - tot 'n mate - beantwoord. Nie dat die antwoorde noodwendig gawe sonskyngedagtes is nie.

Tertius Coetzee (Arnold Vosloo), 'n voormalige lid van die veiligheidspolisie, was betrokke by die arrestasie, ondervraging en marteling van die studente-aktivis Daniel Grootboom, en hy is die man wat uiteindelik 'n koeël deur Daniel se kop gestuur het. Hy het voor die WVK getuig en amnestie ontvang, maar amnestie is nog lank nie vergifnis of absolusie nie. Sy skuldgevoelens vreet aan hom en sy gesondheid is geknak. Uiteindelik sien hy vir hom net een uitkoms: om self met die Grootboom-familie op hul tuisdorp, Paternoster, te gaan praat en hul vergifnis te vra.

Deur die bemiddeling van 'n priester besoek hy die Grootbooms, en dis voorspelbaar 'n uiters ongemaklike ontmoeting. Daniel se ma (Denise Newman) het haar sedert sy dood onttrek aan die buitewêreld, sy pa (Zane Meas) worstel om 'n bestaan uit visvangs te maak, en sy jonger broer en suster, Ernest en Sannie (Christo Davids en Quanita Adams), is woedend en verbitterd. Coetzee word weggejaag en Sannie laat weet Daniel se beste vriend in Johannesburg van die gebeure. Haar woede word by hom wraak - hou Coetzee op Paternoster, beveel hy, ons kom.

Hy gaan laai die ander twee lede van hul viermanskap van destyds op, maar hul lang tog deur die Karoo is ook gelaai met onderlinge bitterheid en agterdog. Intussen kry die Grootbooms weer te doen met Coetzee, en 'n ketting van oorsaak en gevolg word gevorm wat strek tot by die spannende einde. Die slot suggereer wat Coetzee tereg gesê het: as jy eers betrokke raak in hierdie soort ding, hou dit net aan en aan.

Hierdie film met sy gewigtige tema is uiteindelik 'n verdienstelike poging, hoewel dit ongelukkig nie altyd aan melodrama ontkom nie (vergelyk die toneel waar Coetzee homself in die tuin pynig, en Ernest se kosteberekenings). Van die simboliek is te geforseerd en "mooi", soos Coetzee met die skulpe vir Daniel se graf en die voëls wat hy bevry. Paternoster as milieu is natuurlik op sigself 'n cliché, maar daar word tog 'n belangrike stelling gemaak oor die voortgesette uitbuiting ('n ander vorm van verdrukking) van armes deur rykes. Net so geyk is die keuse van Daniel se drie kamerade: bruin, swart, wit.

Die toneelspel wissel tussen goed en geforseerd, veral by Christo Davids. Arnold Vosloo se spel is aanvanklik eenvlakkig, maar mettertyd kry sy karakter tog die nodige gravitas en oortuigingskrag. Die veteraanaktrise Denise Newman as die treurende ma het effens teleurgestel, en ai, miskien moes sy daardie bry-aksent liewer gelos het! Een speler wat uitstaan, is Quanita Adams - sy word nie verniet as een van ons opkomende sterre beskou nie.

'n Opsig waarin die fliek aangenaam verras het, is die rol van godsdiens en die geestelike. Die priester speel 'n belangrike bemiddelingsrol, net soos wat geestelikes dit by die WVK gedoen het. Dít is wat godsdiens se rol behoort te wees: om die nodige spirituele raamwerk en rituele (vergelyk die graftoneel) te verskaf waarbinne mense worstel met komplekse kwessies soos skuld en vergifnis, nie 'n intellektuele gekef oor dogma nie.

Wat 'n jammerte dat die hele fliek nie in Afrikaans gemaak is nie. Dis opvallend hoeveel natuurliker en oortuigender die tonele is waar die Grootbooms onder mekaar Afrikaans praat, wat dialoog sowel as intonasie betref. Van sy naam (en histories gesien) lei 'n mens af dat Coetzee ook Afrikaans sou wees - waarom is die hele fliek nie maar met onderskrifte gemaak nie? Dit sou daardeur gewen het aan 'n gevoel van egtheid, en dit sou steeds toeganklik gewees het vir buitelandse gehore.



LitNet: 23 Junie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.