FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eternal sunshine of the spotless mind

Andrť Crous

“Expect the unexpected” mag die loksin maar lui van enige film wat deur Charlie Kaufman geskryf is. Diť man, wat agter draaiboeke vol idees sit — om die beurt donker en lig, filosofies, belaglik, aweregs en altyd interessant — is verantwoordelik vir werke soos Human nature, Being John Malkovich en Adaptation: alles flieks wat die gesig van die rolprentwese oor die laaste vyf jaar nie net ’n facelift gegee het nie, maar ons met nuwe oŽ laat kyk het na die potensiaal van die visuele medium.

In ’n wÍreld waar postmodernisme aan die orde van die dag is, is die stories wat Kaufman opdis, entoesiasties onkonvensioneel en energiek in hul aanbieding. Die rol wat die verbeelding (diť van Kaufman veral, maar ook van die regisseur en van die hoofkarakters) in die uitbeelding van ’n verskeidenheid situasies speel, gee ’n vrolikheid wat rolprente heeltemal te selde verskaf.

Eternal sunshine of the spotless mind het sekerlik een van die mees prikkelende titels van die jaar, en selfs al het dit eintlik min met die storielyn self te make (ons vind uit dat die titel uit ’n gedig van Alexander Pope kom — en diť verwysing klink vir my onnodig pretensieus), is daar genoeg positiewe om hiervoor op te maak. Dit is moeilik om ’n opsomming te gee van ’n storie wat staatmaak op kinkels in die storielyn (soos 21 grams vroeŽr vanjaar) om ons persepsie van die opeenvolging van gebeurtenisse te vorm. Baie dinge gebeur baie vinnig, en dit is slegs mettertyd dat ons agterkom: “aha!” — dinge is nie heeltemal is soos ons eers gedink het nie; verrassings en ritmes vloei uit die strukturele (ver-)vorming.

Jim Carrey vertolk die rol van Joel Barish, ’n man wat uitvind dat sy vorige meisie (Oh, my darling/ Oh, my darling/ Oh, my darling  ...), Clementine — vertolk deur ’n baie goeie Kate Winslet met haarkleure soos die reŽnboog — hom uit haar geheue laat verwyder het danksy een of ander wonderbaarlike mediese prosedure. Joel doen aansoek om dieselfde prosedure, en wanneer hy een aand in die bed lÍ, arriveer die kwasimedici — Stan (Mark Ruffalo), Patrick (Elijah Wood) en Mary (Kirsten Dunst) — met apparatuur om Clementine uit sy geheue te verwyder.

Hier begin die pret.

Vir diegene wat Being John Malkovich gesien het: dink terug aan die sekwens waar John Malkovich in sy eie geheue en onderbewussyn saam met John Cusack rondhardloop, tussen stukke herinneringe deur waar hy ondser andere aan vroulike onderklere ruik en sy broek as klein seuntjie natmaak voor ’n groot groep kinders.

’n Groot gedeelte van Eternal Sunshine bestaan uit ’n hallusinatoriese opeenvolging van insidente, waar enigiets te eniger tyd moontlik is, omdat daar geen reŽls is wanneer dit kom by die menslike kreatiewe verbeelding nie.

Terwyl Clementine verwyder word uit Joel se geheue, besef Joel (hoewel bewusteloos) dat hy haar liewer wil onthou, maar kan nie die proses van eliminasie stop nie. Hy probeer dus vir haar ’n nuwe tuiste in diepverskuilde areas van sy geheue kry, en intussen praat die twee oor hul mislukte verhouding.

Die grappige atmosfeer van surrealisme is eintlik ’n platform waarop dieper vrae na vore kom en hul verhouding van nader bekyk word. Die hallusinasiedroom, aangevuur deur tegnologiese aanvalle op die geheue deur middel van ’n helm wat lyk soos iets uit Star trek, word op verskillende maniere gevoed — waaronder die onsinnige en ongeÔnhibeerde uitlatings van die span gerookte deskundiges. (Terloops, wat is Kaufman se fassinasie met dwelms?)

Daar is nie veel aan die storie nie, maar die kyker se kop behoort voltyds te werk aan die interpretasie van gebeure — niks is verwarrend nie, alles net effens op hul sy gedraai. Die idee van geheue en van die rol wat dit speel, is en bly dwarsdeur die film ’n baie interessante en suksesvol bespreekte onderwerp.

Die regisseur, Michel Gondry, wat ook Human nature gemaak het, se geskiedenis in musiekvideo’s is duidelik in die spoed waarteen ons met beelde bepeper word. Miskien maak alles nie onmiddellik sin nie, maar alles dra by tot ’n atmosfeer van verwarring sonder om die kyker heeltemal te verwar, met pittige spesiale-effek-oomblikke wat almal binne die konteks sin maak — soos Elijah Wood wat in een toneel slegs ’n agterkop het.

Die toneelspel is regtig goed, en veral deur akteurs van wie ek dit nie verwag nie. Jim Carrey is verstommend in sy vertolking van ’n selferkende vervelige karakter wat binne-in sy eie kop rondhol, en Winslet is ewe goed in haar aanbieding van ’n effens versteurde ekstrovert.

Elijah Wood lewer heel waarskynlik die beste spel van sy onindrukwekkende loopbaan en Kirsten Dunst wys dat daar darem hoop is vir ’n aktrise om ’n rol in iets verdiensteliks te vertolk tussen twee episodes van Spiderman deur. Mark Ruffalo, wat ek al ken sedert die besonder goeie, maar onbekende You can count on me, beÔndruk weer eens met realistiese spel wat op beheerste wyse empatie by die kyker skep.

Wat Kaufman se stories betref, is Spike Jonze se verfilmings (Being John Malkovich en Adaptation) na my mening beter gehele as Gondry s’n (Human nature en Eternal Sunshine of the spotless mind). Ek sou so ver kon gaan as om te sÍ dat Jonze se bydraes tot die evolusie van die film onmiskenlike hoogtepunte is. ’n Vyfde Kaufman-film wat genoem kan word, is George Clooney se regisseursdebuut, Confessions of a dangerous mind, ’n ewe indrukwekkende visuele eksperiment wat my (ten spyte van swaar materiaal) geÔnteresseerd gehou het.

Kaufman se intelligente draaiboek sit nie ’n voet verkeerd nie — dit is onweerlegbaar oorspronklik en gee die kyker iets om oor na te dink en oor te lag, dikwels tegelykertyd. Hy mik selfs na diepliggend-menslike temas soos identiteit en het my op tye laat dink aan Solaris se vraag rondom die verskil tussen ’n verhouding met iemand en ons herinnering aan daardie verhouding.

Net een punt wat my gepla het: Hoe het Joel geweet om op ’n trein na Montauk te klim as die persoon met wie hy die vorige nag gepraat het, net ’n geanimeerde herinnering was?

Eternal Sunshine of the spotless mind is een van die beste films van die jaar, soos ek verwag het. Die film het ambisie wat slegs twee of drie ander in ’n jaar toon, en die opwinding wat die storie oor homself het, spoel op onverwaande wyse oor na die kyker, en ek vergewe die film vir die enkele foute binne sy eie logika.



LitNet: 14 Junie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.