FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The Colour of Paradise / Rang-e Khoda

Suzette Kotzť

Farsi met Engelse onderskrifte
Regisseur: Majid Majidi
Spelers: Mohsen Ramezani, Hossein Mahjoub, Salime Feizi, Elham Sharifi, Farahnaz Safari

Die ou Chinese vloek, Pasop dat dit waarvoor jy wens nie waar word nie, sou ’n goeie motto gewees het vir hierdie film. En waar regisseur Majid Majidi se vorige film, Children of Heaven, ’n mens se geloof in menslikheid en goedheid bevestig en jou met ’n glimlag uit die teater laat stap het, wys The Colour of Paradise die hardvogtige en selfsugtige kant van die mens wat magtig genoeg kan wees om die goeie (letterlik hoewel dan nie figuurlik nie) dood te maak. Die feit dat dit kom van ’n pa teenoor sy eie kind maak die hou in jou maag soveel seerder.

Die verhaal sentreer om Mohammad (Mohsen Ramezani), ’n agtjarige blinde seuntjie wat in Teheran skoolgaan. Dis die einde van die skooljaar en die aanvang van die driemaande-vakansie. Op sy ingetoŽ manier is Mohammad verskriklik opgewonde om huis toe te gaan, ’n dorpie in die noordelike hoogland van Iran. Hy kan nie wag om sy twee susters en veral sy geliefde ouma weer te sien nie, en hou solank die presentjies wat hy vir hulle het reg. Maar later is al die kinders al weg, net Mohammad se pa het nog nie opgedaag nie. Terwyl hy in die skool se tuin sit en wag, red hy ’n kuikentjie wat uit ’n nes geval het — ’n skreiende omkering van wat vir hom wag.

Want toe sy pa (Hossein Mahjoub) eindelik daar aankom, blyk dit dadelik uit sy gesprek met die onderwyser dat hy nie die kind wil hÍ nie; hy is moeg vir die las wat ’n blinde kind op hom lÍ, veral na sy vrou se dood vyf jaar gelede. Die werklike rede is egter dat hy weer wil trou, en dat hy bang is die aanwesigheid van Mohammad sal die delikate onderhandelings oor sy toekomstige bruid deur die mat laat val.

Na ’n reis met die bus, te perd en te voet oor berge en dale kom pa en seun uiteindelik by die huis aan. Mohammad se hereniging met sy susters (Elham Sharifi en Farahnaz Safari) en veral sy ouma (Salime Feizi) is roerend, en ’n wonderlik gelukkige paar dae volg waarin sy ouma-hulle hom weer intrek in die plaaslewe. Hy help om blomme te pluk wat gebruik word om wolkleursel te maak, gee saam hoenders kos en gaan selfs saam met sy susters skool toe waar hy dieselfde leesles in sy brailleboek kan lees as die ander kinders. Diť geluk is egter van korte duur, want sy pa is vasbeslote om sy trouplanne deur te voer, en die verhaal eindig op ’n skokkende hoogtepunt van tragedie en verlies.

Die film het ’n diep spirituele tema, en veral die ouma se geloof staan in skrille kontras met die pa se superstisie, wat ook aanwesig is in sy aanstaande skoonfamilie. In meer algemene terme kan mens dit ook sien as die vooroordeel wat sommige mense het teen dit wat nie “normaal” of soos hulle is nie (in hierdie geval Mohammad se blindheid) teenoor die mense met ’n grootheid van gees wat ook die onperfekte en gebroke dinge kan insluit.

Want die keersy van Mohammad se “verwerplikheid” (sy fisieke gebrek) is sy dapperheid en absoluut onblusbare gees, sy ongelooflike sensitiwiteit, veral vir voŽls en die natuur, en sy eie besondere soeke na God. (Dit is ook gepas om hier te sÍ dat die blinde kinderakteur Mohsen Ramezani se spel niks minder as ’n kragtoer is nie.)

Die natuurskoon waarteen die film afspeel, is asemrowend en herinner aan daardie ander pragtige Iranese film Gabbeh, wat oor ’n familie tapytwewers handel. Net soos in Children of Heaven blyk Majidi se poŽtiese inslag weer duidelik, sodat selfs die armoedige interieurs ryk en vol kleur word.

Vergelyking is in wese onregverdig, maar vir my gevoel is The Colour of Paradise nie in dieselfde klas as Children of Heaven nie. Waar Mohammad se karakter uiters oortuigend en effektief geteken word, is die pa se karakter nie duidelik genoeg omlyn nie en bly hy effens karikatuuragtig (vergelyk byvoorbeeld die klugtige pogings tot humor waar hy by die aanstaande bruid se huis gaan kuier). Tog is dit ’n film wat die kyker op vele vlakke sal beloon en uit en uit die moeite werd is om te sien — moet net nie verwag jy gaan vrolik voel as jy die teater verlaat nie!

  • Suzette Kotzť
    Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.