FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

The lord of the rings: The two towers (2002)

Coenraad Walters

Met: Elijah Wood, Viggo Mortensen, Ian McKellan, en duisende meer.
Draaiboek: Frances Walsh, Philippa Boyens en Peter Jackson (gebaseer op JRR Tolkien se roman).
Regie: Peter Jackson.

So ’n agtien maande gelede, in Junie 2001, het ek die vraag gevra waarom Pearl Harbor nodig was. Benewens die feit dat dit ’n verstommend swak fliek was (die tegniese briljantheid ten spyt), was die ideologiese noodwendigheid van so ’n Amerikaanse selfverheerliking uiters verdag. Toe breek Dinsdag 11 September 2001 aan, en kort daarna die Afgaanse oorlog, en skielik het Pearl Harbor op ’n wrange wyse sin gemaak — hoewel ’n mens nou sekerlik nie die filmmaatskappye kan krediteer met dié besondere wending in die wêreldgeskiedenis nie.

En nou kyk ons na The lord of the rings: The two towers, wat wesentlik ’n oorlogprent is. Natuurlik is die verhaal veel ouer, selfs as die geskiedenis van Pearl Harbor; natuurlik is dit geensins realisties nie, aangesien dit geplaas is in Middle Earth en bevolk word deur mense, elwe, dwerge, Orcs en verskeie ander fassinerende figure. Natuurlik is dit ook filmies geensins so ’n vrotsigheid soos Pearl Harbor nie! Maar tog kan ’n mens die twee prente ideologies langs mekaar plaas, en ook die verwerking van die middeldeel van Tolkien se beroemde trilogie binne die konteks van die wêreldsituasie beskou.

Die grootsheid van die magte wat teen mekaar optrek, lê natuurlik daarin dat hulle Die Goeie en Die Bose verteenwoordig. Hierdie kontras word ondubbelsinnig duidelik gemaak. Selfs die verraaiers het, soos iemand eens gesê het, die ordentlikheid om skelm gesigte te hê! Die gehoor word ook ondubbelsinnig geplaas aan die kant van die goeie. So sien die kyker byvoorbeeld die vroue en kinders van die mense wat wegkruip vir die Orc-oormag wat hulle aanval: jy hoor die gille en sien die vrees. Die Orcs word bloot as bose, wrede oorlogmasjiene uitgebeeld: jy sien niks van hul huise en gesinne nie. Jy is wel vaagweg daarvan bewus dat die bose, Sauron en sy towenaar-helper Saruman, die Orcs breinspoel en hulle oortuig om die oorlog vir hulle te veg. Net so sien jy niks wat die Japannese krygers van Pearl Harbor menslik laat voorkom nie. Sekerlik is hulle (soos enige soldaat, ook dié aan die goeie kant!) sodanig gebreinspoel dat hulle die opdragte van hul bevelvoerders uitvoer sonder om hul eie veiligheid in ag te neem.

Aangesien ek ’n Tolkien-ongeletterde is, kyk ek na die verhaal soos dit in Jackson se verwerking aangebied word en kan ek nie reageer op berigte (en uitroepe vanuit die ry agter my) dat daar dinge in die fliek is wat nie in die boek is nie. Jackson het egter, soos dit vir my lyk, die ryke stof van Tolkien se skepping knap omgewerk tot ’n onderhoudende draaiboek waarin die verhale van drie groepe reisigers vervleg word. Soms laat die redigering een verhaal op ’n hoogtepunt staan sodat die kyker met hart in die hand sit tot daar na daardie verhaallyn teruggekeer word.

En ons moet maar eerlik wees: sonder die rekenaartegnologie sou hierdie grootse projek beslis nie kon slaag nie. Een aspek van die prent wat dié stelling staaf, is die karakter Gollum. Genugtig! Ek wil dit byna waag om te sê dat Gollum die beste toneelspel van die prent lewer! Hy sluit hom aan by Yoda van Star Wars: The attack of the clones en Dobby van Harry Potter and the Chamber of Secrets, al drie rekenaargeanimeerde wesentjies wat deurslaggewende rolle speel in hul onderskeie flieks. Die komplekse aard van Gollum word goed vasgevang, veral tydens die tonele waarin hy twee stemme binne homself laat praat.

In hierdie en vele ander tonele word die voordeel van die verfilming duidelik. Tolkien kon bladsye vol geskryf het, maar Gandalf se geveg met die vurige monster word klinkklaar en glashelder vasgevang in redelik min filmtyd. Die skouspelagtige Nieu-Seelandse landskappe verleen ’n grootsheid aan die reistonele. En rekenaaranimasie laat ’n groot aantal tonele net soveel meer oorweldigend vertoon: die boomagtige figure wat Isengaard aanval, die oorstroming wat hulle daar veroorsaak, die enorme Orc-weermag wat deur Saruman toegespreek word, die pterodaktiel in vlug, noem maar op. Dit is wel so dat Tolkien se liriese prosa (waarvan deeltjies al aan my voorgelees is) in die slag bly, maar die visuele wins is baie groot. (Vergelyk dieselfde proses in die verfilming van AS Byatt se roman Possession.)

Is gewone dinge soos toneelspel werklik ter sake in iets so epies? Tog ja: as dit minderwaardig was, sou dit juis nie die grootse verhaal kon dra nie. Vir my gevoel sien ’n mens heeltemal te min van Cate Blanchett en van Liv Tyler! Sean Astin as die hobbit Sam het sekerlik die moeilikste dialoog om te laat werk, want hy dra die ideologiese rede vir die oorlog aan Frodo oor wanneer die Ring se invloed te sterk raak: sien, daar is iets moois in hierdie wêreld en dit is die moeite werd om daarvoor te veg. (Wat dié stukke dialoog moeilik maak, is dat dit so maklik “corny” klink! Ek is nie so seker dat Jackson en Astin hierdie slaggat vermy het nie  …) Hierdie soort sentiment oor ons wonderlike wêreld kom ook voor in die gesprekke tussen Aragorn en die koning van Rohan — tonele waarin die breinspoeling van die goeie se magte uitgebeeld word.

En noudat ons weet dat daar iets moois in die wêreld is om te red, nou kan ons heengaan en ons vyande (lees: Irak) aan flarde skiet. Ja, dis onregverdig om Tolkien en selfs Jackson van dié soort ideologiese vergoeliking van oorlog te beskuldig, maar hierin lê moontlik een rede waarom The lord of the rings so intens gewild is, dekades na sy verskyning. Die boek het wel gewild gebly nog voordat die rolprente beplan is, maar die impak van die rolprente maak natuurlik op populêre kultuur ’n veel groter duik as wat die tekste (so baie swart-en-wit lettertjies op papier!) ooit kon. En as jy die populêre kultuur kan beïnvloed, kan jy die onderbewuste waaruit die openbare opinie spruit, aanraak. Ek vermoed ek begin gedagtes koester wat nóg Tolkien nóg Jackson wou ontlok.

Die oorlog wat uitgebeeld word, veral die slag om Helm’s Deep, lyk soos oorloë uit die Middeleeue. Geen plofstof nie (met een skouspelagtige uitsondering), geen gewere of kanonne nie: spiese, pyle, swaarde, skilde en dies meer. Anders wreed as moderne oorloë, maar bepaald erg wreed. Te midde van dié wreedhede is die lighartigheid van Gimli en Legolas byna onvanpas: Gimli se lengte is voortdurend ’n bron van humor, en die twee hou telling van hoeveel Orcs hulle van die gras af maak. Sou Tolkien reeds die polities-inkorrektheid van “dwarf tossing” kon voorsien?! Die erns van Tolkien se gegewe maak seker in ’n moderne aanbieding “comic relief” nodig, maar ek is nie oortuig dat dit in goeie smaak is nie. Die feit dat al die “regte” karakters oorleef, en dat dit net die gesiglose manskappe is wat sneuwel, is onoortuigend, al is dit nodig vir die verhaal. En ek vermoed sterk dat die elf-generaal wat manskappe van Elrond by Helm’s Deep aanbring, homself weer in die stryd werp nadat hy reeds gesneuwel het. Of het ek gesigte gesien?

Ek sien graag raak hoeveel werk mense in ’n produk ingestort het en dit beïndruk my soms soveel dat ek die werklike kwaliteit van die produk kan relativeer. Nou is daar nie té veel wat swak is en wat ’n mens moet miskyk nie, maar enige fliekvlooi kan sien hoeveel werk in hierdie film ingegaan het. Dit is wel so dat jy die eerste fliek moes sien om die karakters te leer ken, en moontlik meer so as met die eerste is die volgende aflewering nodig om hierdie te voltooi (’n mens het so half “To be continued” op die skerm verwag toe Frodo en Sam agter Gollum die woud in loop …). Ten minste is hierdie prent nie soveel van ’n reeks monsters en ander booshede wat die helde aanval soos die eerste fliek nie, moontlik juis omdat hierdie ’n oorlogfliek is en die eerste ’n “quest”-fliek.

’n Tweede rede waarom The lord of the rings as fliek en boek so gewild is, het moontlik te doen met die postmodernistiese tydperk waarin ons ons (aldus die filosowe) bevind. Een aspek van dié tydperk is dat daar geen finale antwoord is nie. Amerika is die helde wanneer hulle die wêreld red van terroriste, maar wanneer hulle ’n Afgaanse huweliksonthaal bombardeer, is hulle op morele vlak die “kroeks”. Dis maar ’n oppervlakkige voorbeeld van die morele dilemma waarin ons ons bevind, veral wanneer ons gebombardeer word met die sieninge vanuit onder meer die postkoloniale, post-chauvinistiese, post-Christelike en postapartheid-kampe. Ou waarhede word verdag gemaak, maar nuwe waarhede en sekerhede word nie noodwendig in die plek daarvan geplaas nie. Die sogenaamde Nuwe Hervorming wat in die Christelike Kerk ter sprake is, speel hierdie proses op religieuse vlak uit.

Tolkien het egter nog in die modernistiese tyd gewerk. In sy verhaal is daar ’n duidelike onderskeid tussen Goed en Boos. Die verteenwoordigers van die Goeie mag soms swak plekke hê, maar raak nooit moreel grys nie. Gollum lyk na die enigste karakter wat moontlik dié reël kan oortree, maar hy is altyd óf goed óf sleg. Die manteldraaier Saruman verruil ook sy potensiaal as ’n goeie towenaar vir die mag van boosheid. Juis omdat die rolprentverwerking ook hierdie swart-wit-benadering volg en byvoorbeeld Christopher Lee plaas in die rol van Saruman, sien kykers wêreldwyd weer dat ’n mens ondubbelsinnig kan onderskei tussen Goed en Kwaad, al is dit nou ook net in die fantasiewêreld van Middle Earth.

In Time van 9 Desember 2002 skryf Lev Grossman ’n artikel oor waarom fantasieverhale skielik weer so gewild geword het dat flieks soos die twee Harry Potters en die twee van die Lord of the rings-trilogie die kasregisters so laat klingel. Ek haal enkele sinne aan: “Popular culture is the most sensitive barometer we have for gauging shifts in society’s collective mood, and it’s registering a big one right now. Our fascination with science fiction reflected a deep collective faith that technology would lead us to a cyberutopia of robot butlers serving virtual mai tais … A darker, more pessimistic attitude toward technology and the future has taken hold, and the evidence is our new preoccupation with fantasy, a nostalgic, sentimental, magical vision of a medieval age. The future just isn’t what it used to be — and the past seems to be gaining on us.”

Elders in die artikel verwys hy daarna dat die sukses van die Harry Potter-reeks en die heroplewing van Tolkien se gewildheid saamgeval het met die ineenstorting van die internetbedryf, die sogenaamde “dot bomb”-tydperk op die aandelebeurse van die wêreld. Grossman verwys ook daarna dat Tolkien se gewildheid tog oor dekades heen betreklik konstant gebly het en nog altyd sterker was in Amerika as in Brittanje. Laat ’n mens dink.

Die grootsheid van die gegewe dryf ’n mens tot ’n filosofiese respons. Ek het die fliek self geniet, glad nie die speelduur as te lank ervaar nie, en was genoegsaam oorweldig om net lofredes daaroor te kon bedink direk na die vertoning. Dis tegnies fenomenaal en visueel pragtig en skouspelagtig, en ’n mens kan net Jackson se woorde tydens die slottitels eggo en die duisende mense wat dié projek help verwesenlik het, bedank.

Mag ons ’n manier vind om die skoonheid van die wêreld te bewaar sonder oorlog en geweld. En mag ons die inbors hê om te weet wat die regte ding is om te doen wanneer oorlog nie ons keuse is nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.