FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Top tien flieks vir 2002

Coenraad Walters

Wat plaas ’n mens nou op jou top tien vir ’n bepaalde fliekjaar? Die bestes (sekerlik darem — al het jy dalk meer as net 10 plekke daarvoor nodig!)? Of die beste in elk van tien kategorieë wat die verskeidenheid van die jaar se flieks verteenwoordig? Kan ’n mens werklik die 10 in volgorde van die beste na die minste plaas? Sal ’n mens oor drie maande of vyf jaar nog steeds hieroor voel soos jy nou daaroor voel?!? Voor ’n mens in te veel vrae verval, voer jy maar die ou Engelse opdrag uit: “Publish and be damned!” Dus:

Heaven
Possession
Gosford Park
Ignorant fairies
The deep end
Amélie
The lord of the rings: The two towers
The son’s room
Bend it like Beckham
Sexy beast

Heaven
Heaven mag dalk in party mense se oë gruwelik pretensieus wees, maar die byna bowêreldse aanslag om bekende argetipes in ’n moderne konteks uit te werk, het my aangegryp. Ek sou die fliek sekerlik ook gekies het al het Cate Blanchett nie daarin gespeel nie. Inhoudelik meevoerend en visueel pragtig.

Possession
Sou my ontsettend maklik kon teleurstel, maar dit het nie. ’n Knap verwerking van ’n ingewikkelde roman — natuurlik met die verlies aan die poëtiese taalgebruik wat Byatt se skryfwerk so kragtig en kompleks maak, maar met visuele winste wat die roman verryk. Die getrouheid aan die teks, wat moontlik ten koste van die fliek sou kon werk, het die fliek nog meer waardering by my ontlok. Gwyneth Paltrow is geen groot aktrise nie, maar darem nie te veel van ’n meulsteen om die nek nie.

Gosford Park
Gosford Park is gemaak deur die man wat sekerlik my gunstelingregisseur in die wêreld is: Robert Altman. Lesers van dié ruimte sal weet hoe dikwels ek na Short cuts verwys: sy Engelse moordkomedie is maklik net so subtiel en vol draadwerk as enige van sy vorige ensemble-films. Om hom te sien werk met Engeland se beste akteurs, was ’n vreugde. Dis seker die fliek op my lys wat ek die graagste ’n tweede keer wil sien, net om die werking van die draaiboek se fyn nuanses beter raak te sien. Maggie Smith was — soos altyd op die skerm — ’n vreugde, met Stephen Fry as die onbeholpe speurder as die grootste kersie op ’n kleurryke koek.

Ignorant fairies
Een van die mees oorrompelende flieks van die eerste helfte van die jaar. Die delikate atmosfeer geskep deur die Turkse regisseur Ferzan Ozpetek, wat met Hamam (Turkish bath) die lewe ’n paar jaar gelede verryk het, is presies wat ek in ’n fliek soek. Hierdie prent speel uitsluitlik in Italië af, maar betrek die Turkse gemeenskap. Die aktrise in die hoofrol, Margherita Buy — sy van die stille gesig — verdien my Goue Beeldjie vir Beste Aktrise, al moet sy dit deel met Tilda Swinton in The deep end.

The deep end
The deep end is eers op die Gay & Lesbiese Filmfees vertoon, maar toe algemeen vrygestel in die kunsfliekteaters. Die roerende verhaal van hoeveel ’n moeder sal doen om haar seun uit die moeilikheid te hou, was in skrille kontras met twee prente wat getoon het hoe ouers die dood van hul seuns verwerk (In the bedroom en die Italiaanse The son’s room). Tilda Swinton deel my Goue Beeldjie vir Beste Aktrise met Margherita Buy in Ignorant fairies. Die pragtige landskaptonele wat die spannende verhaal omraam, was ook besonders. Een van die knapper Amerikaanse flieks in jare.

Amélie
Amélie het vir ons kom wys hoe rolprentkunstenaars pret kan maak en die lewe kan ophelder. ’n Eenvoudige verhaaltjie is met verstommende visuele truuks opgekikker tot ’n vreugdefees. ’n Effens stiller (maar net effens!), meer stylvol-Europese weergawe van Baz Luhrman se uitputtend-heerlike skouspele.

The lord of the rings: The two towers
Hierdie het my op my neus laat kyk oor oorlogprente. Ek weier om hierdie genre te ondersteun, maar die kragtige wyse waarop Jackson en sy enorme span die ideologiese raamwerk van oorlogvoering uitbeeld aan die hand van Tolkien se mitiese epos, het my van begin tot einde geboei. Sekerlik is dit nie foutloos nie, onder meer omdat dit ’n episode van ’n reeks is en omdat dit moontlik nie perfek trou aan die oorspronklike teks is nie, maar dis steeds ’n grootse poging wat in ons tyd van oorloë en gerugte van oorloë besonder hard spreek.

The son’s room
’n Tipiese Europese kunsfliek: baie atmosfeer, min aksie, en heelwat dinge wat die kyker self moet uitpluis. Maar dis oor en oor die moeite werd. Dit lok onmiddellik vergelykings uit met die Amerikaanse In the bedroom, aangesien albei handel oor ’n gesin waarvan ’n seun sterf. Omdat laasgenoemde ’n kortverhaal verfilm en dus ’n duideliker doel het, kom dit effens meer gedwonge voor. Die Italiaanse ervaring, daarenteen, laat dinge meer sommer maar gebeur, en vanuit die alledaagshede ontwikkel voor die kyker se oë patrone van verwerking wat my oortuig en ontroer het.

Bend it like Beckham
Een van die min flieks waarvoor ek vanjaar tyd kon inruim vir ’n tweede sien — dit was om vrinne en familie soheentoe te sleep. ’n Intelligente komedie wat kultuurverskille uitwys en gebruik as teelaarde vir ’n kenmerkende eind-goed-alles-goed-verhaal. Die verhaal van ’n Indiese meisie wat van haar kultuurkettings ontsnap om ’n sokkerster te word, het hierdie rolprent ’n wendoel laat aanteken, omdat dit iets vir haas elkeen bied.

Sexy beast
’n Pikgitswart komedie oor die mees skouspelagtige bankroof wat ek nog beleef het. Ben Kingsley as die psigopatiese boef kry my Goue Beeldjie vir Beste Akteur. ’n Ontstellende vertolking!

’n Kroekspul

Natuurlik was daar ander titels op die langer kortlys: Krampack en Y tu mamá también, onderskeidelik ’n Spaanse en ’n Meksikaanse fliek wat elkeen handel oor twee vriende wat die lewe ontdek en agterkom dat vriendskap nie kan staande bly teen bepaalde ontwikkelings nie; Ice age (ek was nog altyd ’n “sucker” vir animasie, en dié stuk spitsvondigheid was wonderlik, die slot-sentimentaliteit ten spyt); In the bedroom, ’n uitstekende verwerking van ’n kortverhaal met uitstekende vertolkings; The shipping news met Kevin Spacey, Judi Dench en Cate Blanchett op hul stukke; La pianiste, een van die mees ontstellende prente van die jaar, juis omdat die (afwykende) seksuele eskapades gesuggereer is; Was tun wenn’s brennt (What to do in case of fire), ’n prettige Duitse fliek oor oudterroriste wie se verledes hulle inhaal; Harry Potter and the Chamber of Secrets, wat my enduit geboei het ten spyte van jammertes en swakhede; The closet, ’n Franse soetigheid met ’n unieke perspektief op die tema van gay bestaan; 101 Reykjavik, ’n stukkie Yslandse eksistensialisme met vreemde en wonderlike karakters; The man who wasn’t there, die Coen-broers se nuutste swart komedie in stylvolle swart en wit; Signs, M Night Shyamalan se fliek wat moontlik die “ultimate alien movie” is; Le libertin, ’n prettige herbesoek aan ’n ernstige stuk Franse geskiedenis; en Songs from the second floor, een van die vreemdste flieks wat ek nog ooit gesien het, ’n Sweedse eksperiment waarvan ek nog moet besluit hoeveel keer ek dit nog wil sien in ’n poging om dit te verstaan — dalk die perfekte voorbeeld van styl sonder inhoud.

Die drie grootste tydmorservarings van die jaar was:

Bride of the wind, ’n studie van Alma Mahler en die vele mans in haar lewe. Die veelheid van aksente en die ongeloofwaardige aanbieding van feite het die stylvolle potensiaal daarvan gekelder, al het Jonathan Pryce ’n goeie indruk as Gustav Mahler gemaak.

Vanilla sky, die fliek wat Tom Cruise en Nicole Kidman se huwelik gesink het weens Tommie se samewerking met Penelope Cruz. Die fliek was dit nie werd nie.

The Versace murder, ’n televisiefliek wat sy onderwerp in sy titel dra, met ’n akteur in die hoofrol van die moordenaar wat nie eers die f-woord kan sê sonder om onoortuigend te klink nie. Genugtig.

Iewers tussenin die onvertaalbare Baise-moi, Franse pornografie met ’n ideologiese pretensie.

Twee ou flieks wat ek vanjaar vir die eerste maal gesien het en baie geniet het, was My beautiful laundrette en Muriel’s wedding. Televisie het tog nut.

Die Mooi Gesiggie van die Jaar-toekenning gaan aan Tobey Maguire in Spider-Man, met die tweede prys aan Til Schweiger in Was tun wenn’s brennt en derde prys aan Jonathan Rhys-Myers in Bend it like Beckham.

Wat het my medefliekvlooie onder oë gehad en op hul top 10-lyste geplaas wat ek nie gesien het nie?

Ocean’s 11
No man’s land
The majestic
The believer
Sade
Italian for beginners

Nou ja, daar het julle dit: nog ’n fliekjaar agter die rug. Mag 2003 vanjaar flou laat lyk!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.