FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The Closet

Suzette Kotzé

Frans met Engelse onderskrifte
Spelers: Daniel Auteuil, Gérard Depardieu, Michel Aumont, Michèle Laroque, Thierry Lhermitte
Regisseur: Francis Veber
Vertoontyd: Vanaf 28 Junie

Ons is al in die een-en-twintigste eeu en die mensdom het darem al gevorder tot by ’n mate van aanvaarding en nie-diskriminasie wat betref mense se seksuele voorkeure … of hoe? In die Franse komedie The Closet kom dié sake vrolik aan die bod, maar so tussen die lag deur word nogal indringend na vooroordele gekyk.

Francois Pignon (Daniel Auteuil) is ’n regte vaal mannetjie — die stereotiepe beeld van die vervelige rekenmeester. Sy vrou het hom twee jaar gelede gelos, sy tienerseun ignoreer hom en sy kollegas vind hom vreeslik korrek en vervelig. Kortom, hy’s die onbeduidende tipe klein mannetjie in ’n groot maatskappy en toe mense afgedank moet word, is daar nie veel gewetenswroegings oor sy naam op die lys nie.

Pignon vind egter voor die gevreesde Gesprek van sy voorgenome afdanking uit, en op die rand van wanhoop en met die tydige tussentrede van ’n rondloperkat en sy nuwe buurman (Michel Aumont) kry hy ’n oplossing. Deur middel van gemanipuleerde foto’s wat anoniem aan sy werkgewer gestuur word, gee hy voor dat hy gay is. Die nuus van Pignon se donker private lewe versprei soos ’n veldbrand deur die kantoor en sy politiek korrekte baas besef onmiddellik die dilemma: as kondoomvervaardigers is gays hulle grootste mark, en as die storie in die koerante kom dat hulle gays afdank …

Voilà, Pignon behou sy werk, maar intussen het ’n paar van die middelbestuurders ’n ander intrige aan die gang gesit. Hul kollega Santini (Gérard Depardieu) se bombasme en homofobiese uitlatings irriteer hulle lankal en hulle besluit om hom ’n les te leer. Toe Santini in die Pignon-vergadering weer sy gewraakte uitlatings oor gays maak, kry die baas hom deeglik voor stok — en sy kollegas fluister hom na die tyd in die oor dat sý pos in gevaar is weens sy politiek-onkorrekte ingesteldheid. Om die grootbaas te oortuig dat hy nie werklik ’n gay-hater is nie, beter hy vinnig vriende maak met Pignon.

Heelwat lagwekkende situasies volg, wat daartoe lei dat Pignon sy persoonlike probleme uitsorteer en transformeer van muis tot man, en Santini vasstel wat sý ware identiteit is. Met behulp van onder meer genoemde rondloperkat, ’n pastelpienk kasjmiertrui, kondome, ’n gay parade en ’n mooi blondine.

Die gebruiklike stereotiperings oor seksuele identiteit word netjies op hul kop gedraai: dis die straight man wat sensitief, goed gemanierd en altyd onberispelik geklee is; dis die gay man wat ’n sportmal, bierslurpende, bakleierige bullebak is. En die waarheid blyk nogmaals dat daar seker maar altyd mense sal wees wat enigeen wat “anders” is, sal bespot en verdag maak en selfs met geweld sal probeer “regsien”. Maar ook dat kleinsieligheid óf grootheid van gees nie beperk is tot enige kategorie van mense nie. Mense is maar mense, elkeen met hul eie voorkeure en afkere.

Om Auteuil en Depardieu, twee van Frankryk se heel grootste akteurs, saam te sien optree, was my hoofmotivering om hierdie film te gaan kyk. Auteuil stel nogmaals nie teleur nie — sy vaal mannetjie wat geleidelik sy plek begin vind, word met net die regte hoeveelheid onderbeklemtoning gespeel. Die logge Depardieu is ook soos gewoonlik groter as lewensgroot en wissel met gemak van swetsende voetbalafrigter tot malvalekkersagte verliefde, kompleet met ’n skaapagtige glimlag. Maar van die twee is dit Auteuil se vertolking wat uitstaan.

’n Genotvolle film, met net genoeg diepgang om jou ook ’n slag te laat kyk na die stand van jou eie “politieke korrektheid” versus ’n ware openheid van gees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.